Uit die argief: WKOD loods proefprojek om meertaligheid in laerskole te bevorder

  • 0

Tien Kaapse skole het vanjaar begin om isiXhosa-lesse vir graad 1’s aan te bied as deel van ’n proefprojek om meertaligheid in Wes-Kaapse laerskole te bevorder. Dié skole het vanaf die begin van die tweede kwartaal daagliks van Maandae tot Donderdae 'n halfuurlange isiXhosa-les.

Vanjaar moet die betrokke laerskole die WKOD help om probleme uit te stryk voordat die program in 2015 'n vereiste vir alle laerskole in die Wes-Kaap word. Die WKOD stel die isiXhosa-onderwyser aan en die graad 1-leerders se skooldag word met 'n halfuur verleng om hierdie les te akkommodeer.

Johannes Lewis, skoolhoof van Laerskool Belhar, sê dat dit “op die oomblik lyk of die kinders dit geniet. Die onderwyseres is goed voorbereid en motiveer kinders goed. Sover loop die projek darem goed. Ons sal met aanbevelings kom wanneer ons in die vergaderings is. Soms dink ek hulle onderskat dalk die kinders – hulle kan selfs meer inhoud gee.”

Die hoof van Good Hope Seminary Junior, Adrienne Millner, vertel dat die leerders “gaande is oor die program” en dat hulle dit “terdeë geniet”.

“Ons het nog geen klagtes ontvang nie en die onderwyseres pas gemaklik by die leerders aan. Ons [die onderwysers] leer ook sommer nou die taal, so dit gaan sover regtig goed.

“Ek dink dis belangrik vir leerders om hul huistaal te studeer en toevallig is die meerderheid van my leerders se huistaal isiXhosa. Al begin hierdie kinders dan om 'n taal te studeer wat hulle reeds ken, begin hulle nou om hul eie taal beter te verstaan.

“Die onderwyseres maak ook baie van Engels gebruik om die lesse aan te bied, so op hierdie manier versterk leerders nie net hul huistaal nie, maar ook die taal wat ons grootliks in die skool gebruik. Ek dink die leerders vind ongelooflik baie baat by die projek.”

Aida Lewis, die hoof van Kraaifontein AME, verduidelik dat hulle “nog geen klagtes ontvang het nie” en dat “die ouers baie opgewonde is” oor die projek.

Lewis vertel dat veral die isiXhosa-sprekende leerders aanklank vind by die projek. “Die klasonderwyseres vertel dat die klasse so interessant is vir haar. Die [isiXhosa-sprekende] kind wat nooit deelneem in [Afrikaanse] klanke-oefeninge nie, praat dan nou vir die eerste keer met die isiXhosa-juffrou!

“Hier’s dan 11 tale! As jy darem by drie uitgekom het, is jy al halfpad daar, en het jy darem al jou voet in die deur gesit!”

Die skoolhoof van Laerskool Monte Video, Terence Timmet, meen dat hierdie projek veral 'n invloed op die toekoms van Suid-Afrika kan hê.

“As gevolg van die feit dat ons as mense gemarginaliseer is en mense van verskillende rasse apart gehou is, het ons nooit met ander Suid-Afrikaners in aanraking gekom nie. Ons het nooit die waardesisteme, geloof en taal van ander mense in ons land aangeleer nie.

“Sodoende het ons agterdogtig geword van ons medeburgers. Een van die maniere waarop ons hierdie skeidings gaan afbreek, is deur mekaar se taal aan te leer.

“As jy 'n werk wil hê, dan word dit van jou verwag om ten minste die basiese elemente van 'n inheemse taal te ken. Deur hierdie program verseker ons dat al ons kinders op 'n gelyke vlak kan kompeteer.”

Die program het egter ook 'n paar haakplekke in sy beginfase gehad. Labinia Davis, skoolhoof van Laerskool Square Hill, vertel dat hulle ongelukkig “nog nie op hierdie stadium 'n onderwyser het nie.

“By ons en Laerskool Simonstad gaan daar ongelukkig nog nie veel aan nie. Ek het met die persoon in beheer van die projek gepraat en sy het ons gevra om geduldig te wees, omdat hulle nog die onderhoude vir die [aanstelling van die] onderwyser voer.

“Die ding is egter dat ons alreeds die skooldag van die graad 1’s verleng het. Die onderwysers raak ook nou gefrustreerd, omdat hulle voel die tyd kon meer produktief aangewend word.

“Maar ons glo steeds hierdie projek is belangrik. Ons woon in die reënboognasie en ons kinders moet veeltalig wees. Om nog 'n taal te kan praat, maak die kinders ook trots op hul land, sy mense en sy diverse kultuur.”

 

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2014.

 


 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top