Kô, lat ons sing! by die Woordfees 2017: ’n resensie

  • 0

Foto: Izak de Vries

Musiekregie: Adriaan Brand
Samestelling: Juanita Swanepoel
Produksiebestuur: Grethe van der Merwe
Beligting: Stefan Benadé
Met: Frazer Barry, Sandy Gertse (van Tribal Echo), HemelBesem (Simon Witbooi), Zenobia Kloppers, June van Merch, Koos Kombuis, Wessel Pretorius en die Solms Delta Musiekprojek, Delta 4 Soetstemme en Delta Langbroeke Blaasorkes.

Kô, lat ons sing! is ’n huldeblyk aan Adam Small se werk. Met die fokus op Small as struggledigter word Small se skryfkuns op besonderse wyse gevier met sang, musiek en woord wanneer dié groep sangers en akteurs saamspan om lewe te gee aan bekende liedere en opwindende nuwe toonsettings.

Die vertoning is verlede jaar die eerste keer opgevoer toe ek nog die voorreg gehad het om langs Small en sy vrou Rosalie te sit. Dit sou dus interessant wees om te sien hoe die Small-aanhangers sou reageer by die eerste konsert wat na sy dood aan hierdie ikoon van ’n digter en dramaturg opgedra sou word. Woordfeesgangers skrik nie vir n uitdaging nie, en het hulle opgedaag! Weliswaar minder as verlede jaar, maar die stadsaal neem ook aansienlik minder mense as die Spier-teater.

Al die bekendes was weer daar. Frazer Barry, die rymkletstroebadoer van Tribal Echo, is bekend vir sy gevatte gesegdes en musikale metafore en is steeds die anker van die produksie. Dis die een persoon sonder wie hierdie produksie nie kan klaarkom nie.

Zenobia Kloppers is bekend vir haar veelsydigheid as kunstenaar en het al vele rolle met sukses vertolk – op die verhoog, as sangeres en op radio. Sy is die perfekte maat vir Barry en die twee se stemme vul mekaar uitstekend aan, ek vermoed danksy die vernuftige regie van Adriaan Brand. Barry se Tribal Echo-kameraad, Sandy Gertse, se danspassies het menige persoon in die gehoor geïnspireer om dieselfde te doen en het op die ou end ’n groot bydrae gelewer om van die produksie ’n skouspel te maak. Maar dit moet opgeweeg word teen die gehalte van sy stem, wat nie in dieselfde klas is as dié van Barry en Kloppers nie. Maar dit lyk asof dit net ek is wat so dink, want die meeste ander teatergangers, insluitende my finalejaar-Afrikaans-studente het heerlik saamgedans.

Dan is daar die deurwinterde en uiters talentvolle June van Merch, of soos my studente haar gedoop het, die tannie van Fishy Fashions. Haar danspassies op haar ouderdom sal die meeste middeljariges laat bloos en laat skuldig voel omdat hulle nie meer tyd in de gym spandeer nie. Maar, soos ook Koos Kombuis, kan sy gerus moeite doen om Small se gedigte uit haar kop te leer. Nie dat dit die gehoor gepla het nie: met haar sjarme het sy die gehoor oorrompel en as die applous vir individuele kunstenaars aan die einde enigsins ’n maatstaf is, was June loshande die gehoor se gunsteling.

Van Koos Kombuis gepraat: sy kitaarspel is betowerend, en sy sang laat jou na jou ouma verlang. Maar hoe moeilik kan dit nou wees om die Small-gedig “What abou’ de lô?” te onthou? Tot sy krediet het hy darem die gedig uitgebou en Johnnie Adams (na my mening ’n metafoor vir Adam Small self) van Goree-faam bygevoeg. Daarteenoor het die woordkunstenaar-rymkletser HemelBesem blykbaar geen probleem met ’n l-a-a-a-ang voordrag nie. Ek was nog altyd ’n aanhanger van Simon Witbooi en ek volg sy loopbaan reeds ’n geruime tyd sedert hy die eerste keer by een van my funksies opgetree het. Dis lekker om te sien hoe hy die kanse wat sy kant toe kom, met albei hande aangryp: beslis ’n rolmodel vir die jeug. Carpe diem!

Ek is steeds nie oortuig dat Wessel Pretorius in hierdie rol pas nie, sy welluidende stem en pragtige voordrag ten spyt. Dis juis daai klokkende stem wat hom soos ’n seer vinger laat uitstaan: dit pas nie by die Kaaps van die Vlakte se mense nie. Ek worstel dus steeds met waarom die akteur Anthony (Speedo) Wilson nie betrek word by hierdie produksie nie. Sy interpretasies van Small se werk is teen hierdie tyd legendaries en kan net die gehalte van die produksie verhoog, wat die koste van ’n vliegkaartjie vanaf Johannesburg sal regverdig.

En dan is daar die werkers van Solms Delta, danksy die regie en inisiatief van Adriaan Brand, wat potensiaal raakgesien en omgetower het na die Delta Soetstemme (die koor) en Delta Langbroeke (die koperblasers). Take a bow Adriaan, take a bow. Die bydraes van die straatpredikante het grootgeword en ek is maar  te bewus daarvan dat kerkkoortjies soos “Jona was gestuur na die stad van Nineve” en “Is hy nie wonderbaar?” al dekades lank in die bruin gemeenskap gesing word, kompleet met trekklavier. Soos verlede jaar is ek steeds gepla omdat die mikrofone nie reg laat geskied aan die soetste stemme van die koor nie. Is dit so beplan of net iets wat iemand misgekyk het? Ek sou nog soveel meer van hulle wou gehoor het.

Ek moet erken ek het nie geweet wie ek die meeste moet jammer kry nie: daai trekklavier en trompet van Adriaan, of sy handdoek. Kyk, hy mag maar ’n trekklavier speel, en al blaas hy daai trompet met een hand, stuur dit steeds rillings langs my rug af. Maar die arme handdoek moes dit ontgeld soos hy nuwe betekenis gegee het aan die gesegde “In die sweet van jou aangesig sal jy jou loon verdien.” Carlo Fabe op tromme en Craig Potgieter op die baskitaar was ewe puik. Maar waarom word Nicolas Turner en sy wonderlike akoestiese kitaar so weggesteek?  

Maar fair praat (soos ons in tipiese Kaapse Afrikaans sou sê), alles in ag genome, die show is great! Dit slaag inderdaad daarin om die mense te laat sing. Woordfeesgangers is steeds geskok as Diana die wit nôi en Martin die bryn boy verlief raak en later selfmoord pleeg. Maar die vrese van die verlede is besweer. Nou kan ons die gedig vier met sang en dans. My studente kon na die tyd nie uitgepraat raak nie en verskeie WhatsApps getuig van hoeveel hulle dit geniet het. Ek sien uit na ons volgende klas.

Die idee om die gehoor “Gee vir ons ’n bietjie water” te laat sing (presies waar die digter/dramaturg laas jaar vir Kô lat ons sing voorgedra het) getuig van kreatiwiteit: dis immers wat Adam vir ons sou gegun het. Verlede jaar het ons vir hom gesing: “Heer, laat u seën op hom daal.” Hierdie keer het hy daar van bo af gesê: “Seën hulle Here, met water same.”

Vir ’n oomblik, net ’n vlietende oomblik was daar ’n klein, skraal man op die verhoog: sy hare skitterwit. Hy glimlag sag en knik sy kop.

Hier is foto's van verlede jaar se vertoning: http://blogs.litnet.co.za/devries/2016/03/14/us-woordfees-kiekies-van-ko-lat-ons-sing.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top