KN Pandemie op kykNET: nuwe program wat die pad vorentoe ondersoek

  • 6

COVID-19 is deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie tot ’n pandemie verklaar. Vir die volgende 13 weke, vanaf Dinsdag 7 April om 21:00, bring KN Pandemie akkurate nuus en feite oor die virus op kykNET DStv-kanaal 144.

In KN Pandemie sal die aanbieder, Suzaan Steyn, met kenners op verskeie gebiede regstreeks via Skype gesels. Viroloeë en dokters sal mediese aspekte van COVID-19 bespreek en praktiese wenke gee oor hoe om veilig en gesond te bly. En sielkundiges sal oor die sielkundige impak van die virus gesels, met praktiese wenke oor hoe om na jou geestesgesondheid in hierdie uitdagende tyd om te sien.

Kykers sal ook die geleentheid gegun word om hul vrae rondom COVID-19 via kykNET se sosiale media te rig. Dié vrae sal deur kenners regstreeks op die program beantwoord word.

KN Pandemie sal ook weekliks via Skype inloer by verskeie professionele mense – dokters, verpleegsters en ander mense wat direk in kontak met COVID-19 is, sowel as mense wat plaaslik of internasionaal in inperking is, om meer oor hul ervaring te praat. Daar is ook talle organisasies wat hard werk om ander te help om die uitdagings wat COVID-19 bring te oorkom – in KN Pandemie sal daar weekliks op só ’n organisasie gefokus word.

Kykers kan ook uitsien na praktiese wenke om hul lewens in hierdie tyd te vergemaklik en te verryk– van maklike geregte om voor te berei en aktiwiteite om die kinders (en volwassenes) mee besig te hou, tot fisiese oefeninge, oefeninge om jou brein uit te daag en maniere om jou gemoed kalm te hou.

Vermaak sorg vir afleiding in dié uitdagende tyd – KN Pandemie sal jou op hoogte hou van goeie flieks en reekse om te kyk, sowel as boeke aanbeveel om te lees. Daar sal ook gekyk word na tegnologie wat mense kan gebruik om steeds met mekaar te kan kommunikeer en interessante goed wys wat mense saam kan doen, al is hulle nie fisies bymekaar nie.

Skakel Dinsdae om 21:00 vanaf 7 April op kykNET DStv-kanaal 144 in vir die regstreekse uitsending van KN Pandemie.

  • 6

Kommentaar

  • Tydens Disdag 27 April se program, KN Pandemi aangebied deur Susan Steyn, het daar ’n e-posadres verskyn wat die kykers vrae wil vra rakende die inperkings. Ek kon nie my versoek stuur nie want die e-posadres govco.za/coronavirus wil nie aanvaar word nie. Is dit reg?

  • Ek wil graag weet hoe lyk die statistieke vir mense wat gesond geword het. Wat is die ouderdomsgroepe. Is daar mense bo 50 wat dit oorleef. Die statistieke is verdoemend vir mense bo 50. Is daar kans op oorlewing vir hulle wat bo 50 is?

  • Avatar
    Johan Pietersen

    Die e-posadres vir vrae aan Suzaan verskyn vlugtig op die skerm tydens die kykNet KN Pandemieprogram. Dikwels kom vrae agterna by my op, maar ek kan hulle ongelukkig dan nie stel nie, omrede ek die e-posadres nie neergeskryf het nie en ’n naslaan vir die e-posadres is ook nêrens te vinde nie. Help asseblief.

  • Avatar
    Blackie Swart

    Sondag 9 Augustus 2020
    Ek vind die Pandemie-program baie insiggewend. Dankie kykNET.
    Suzaan het die week gepraat met 'n Prof van UWK. Dink sy van is Sterling. Net ietsie wat hy genoem het wat ek nie heeltemal mee saamstem nie, maar miskien is ek verkeerd. Dis ivm warm suurlemoenwater. Hy het gesê mense dink met die neem van die water sal hul die virus afspoel en dis nie so.
    Ek glo nie dis die rede hoekom mense dit drink nie. Volgens my kennis bevat sitrus baie vitamiene C en dis die groot rede hoekom meeste mense dit inneem. Dis ook die rede hoekom SA se uitvoer van sitrusvrugte die hoogte ingeskiet het, volgens 'n onlangse nuusberig. Ook help dit glo met spysvertering.
    Indien ek verkeerd is, help my reg asseblief.
    Dankie
    Blackie Swart
    Monte Vista
    Kaap

  • Goeie dag. Ek het'n paar C-19 vrae waaroor ek wonder: As ek in 'n restaurant uiteet en die kelner vat met 'n 'besmette' hand aan my kos of eetgery, kan ek C-19 opdoen of 'n maagongesteldheid opdoen? Ons spoel alles wat ons aankoop onder warm water af. Is dit werklik nodig? Mart

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top