Klokke vir die eeue

  • 1

Mike Oldfield se grondverskuiwende eerste langspeler, Tubular Bells, het ’n halfeeu gelede verskyn. Nou’s daar ’n 50ste herdenkingsuitgif van pop rock se suksesvolste instrumentele album nog. Egmont Sippel skryf.

********************

Ons almal weet wie Johnnie Walker is.

Maar Riddley Walker? En Russell Hoban?

Wel, die eklektiese Hoban was ’n Amerikaans-gebore skrywer en Walker die hoofkarakter in sy post-apokaliptiese toekomsroman, Riddley Walker. ’n Interessantheid is die boek se basiese, gestroopte, afgetakelde Engels wat millennia van nou die voertaal ná ’n allesverwoestende kernoorlog sou word.

Hoban het einste in sy jonger lewe ’n gestroopte verfstyl gehad, hier en daar met Goya-trekke. Sy Joan Baez-portret vir ’n 1962-voorblad van Time Magazine het selfs ooreenkomste getoon met Picasso se “Ou Kitaarspeler” (1903) uit die Spanjaard se Blou Periode.

Hoban het van 1969 tot sy dood in 2011 in Londen gewoon, waar hy gereeld tot die kwartaallikse Engelse literêre boektydskrif, Granta, sou bydra.

Een van sy stories ontleed die konsep van tyd in Indiese musiek; hoe dit inhaak by die rotasie van planete om die son en die kosmos se fassinerende ritmiese patrone. Laatnag het Hoban graag na die vreemde ritmes van vreemde musiek uit vreemde instrumente op All India Radio en Radio Moscow geluister, nie na Engelse uitsendings nie.

Die lirieke moes hom verbygaan. Hy wou nie by die betekenis van woorde vashaak nie.

Sy gunstelinginkykkoopstraat in Londen was juis Tottenham Court Road waar sovele gesofistikeerde musiekhardeware in winkelvensters uitgestal is; die mikrofone en radio’s en ontvangers en versterkers wat vir hom die bemiddelaars was van so baie betowerende, beswymelende, sielverrykende musiek.

Nes hierdie Granta-verhaal oor tydstrukture in Indiese musiek was die meerderheid van Hoban-boeke moeilik om te kategoriseer. Sy debuutroman was The Lion of Boaz-Jachin and Jachin-Boaz, waarvan die Irish Times gesê het: “Magic at work.” En die New Statesman: “A piece of invention as original as any of Tolkien’s or C.S. Lewis’s.” Die Sunday Times: “Hoban is unclassifiable, thank goodness.”

Dit is nou in 1973.

The Lion was egter nie die enigste “magic at work” in toentertydse Tottenham nie. Net om die draai het nog ’n oorspronklike kunswerk met magiese eienskappe oor die vorige twee jaar lyf begin kry.

Noem dit ’n instrumentele pop rocksimfonie, as jy wil, maar eintlik was Mike Oldfield se Tubular Bells onklassifiseerbaar. Op 25 Mei 1973 het dit amper soos die misterieuse metaalblok in Stanley Kubrick se meestermoewie, 2001: A Space Odyssey, op die toneel verskyn; skielik, onverwags en totaal uit die niet.

Wat was dit? Niemand het geweet nie. Waar het dit vandaan gekom? Niemand het geweet nie. Hoe en aan watter bestaande kriteria moes dit beoordeel word? Niemand het geweet nie.

Maar een ding het soos ’n paal bo water gestaan: Dit was anders en nie net omdat Oldfield se langspeler van begin tot einde instrumenteel was nie. Per slot van sake was Rick Wakeman se Six Wives of Henry VIII (wat vier maande vóór Bells uitgereik is) ook ’n instrumentele rockkomposisie van 40 minute plus.

Maar daar’s tot vandag toe niks beswymelend aan Six Wives nie. Dis allermins aardskuddend.

Bells was en is dit nog steeds; aangrypend, meesleurend en magies, ’n moderne “Carmina Burana”.

Sonder stemme.

********************

Dis daai “sonder stemme” wat Oldfield amper gepootjie het, maar sy pad was ook met ander duwweltjies en duiweltjies besaai.

In sy tienerjare was te veel vatbier soms ’n remskoen en tydens die vormingsjare van Opus One (wat Tubular Bells sou word) het LSD ’n slag of wat die kop deurmekaar gekrap. Tussen die musiek en dwelms en drank deur kon ’n mens jou dalk Heidegger se “gedruis van denke” voorstel.

Einste egter in 1971, toe Oldfield met Opus One begin het, sou ’n ander jong Brit die deure van sy eerste platewinkel in Londen se Oxford Street oopgooi. ’n Paar minute in die straat af kruis Oxford oor Tottenham Court Road en ’n entjie verder het Oldfield in daai jare ’n woonstel saam met Kevin Ayers gedeel.

Dit was maar ’n dekade nadat Mike se moeder geboorte gegee het aan ’n boetie met Down-sindroom. Pa Henry was ’n dokter, ma Maureen ’n verpleegster, maar tevergeefs; David het as peuter gesterf.

Kort voor lank was Maureen ook verslaaf aan die medisyne wat haar pyn en skok moes blus. Die grootste deel van die res van haar kort lewe is as alkoholis in geestesinrigtings deurgebring.

Oldfield het einste ’n knak gevat. Vóór David was hy, vir die eerste sewe jaar van sy lewe, ietwat van ’n ekstrovert; daarna ’n introvert wat dag na dag in sy kamer sit en kitaar speel het. Opmerklik is dat hy op geen foto’s uit die post-David-era lag of glimlag nie.

Sy pogings om musikale notasie te leer het boonop, in sy eie woorde, “baie, baie stadig” gevorder. Op 12 was hy egter al snaarvaardig genoeg om geld uit kroegoptredes te verdien. Skoolopleiding is op 15 laat vaar nadat die jonge Mike geweier het om sy hare te sny.

’n Professionele musiekloopbaan was sy voorland. Hy en ousus Sally se folk duo, The Sallyangie, het een album, Children of the Sun, gesny. Met hul skeiding ’n jaar later is Oldfield deur ’n senu-ineenstorting platgetrek.

Teen daai tyd het hy egter al naam gemaak as een van Londen se kitaarhelde. Sy volgende tuiste was die rockgroep Barefoot. Met hul versplintering vroeg in 1970 migreer Oldfield as baskitaarspeler na Kevin Ayers se nuwe groep, The Whole World.

Hy’s 17 jaar jonk.

********************

Dis verstommend om op so ’n brose ouderdom reeds met pop en rock se groot name skouers te skuur, maar dis nie ongekend nie.

Heelwat sangers soos Cliff Richard en Ritchie Valens het al op einste ouderdom wêreldsukses behaal. The Box Tops se hoofsanger, Alex Chilton, was 16 toe “The Letter” uitgereik is.

Hierdie juweel van ’n stukkie styfgepakte Memphis-soul was, terloops, die Box Tops se allereerste ateljee-besoek en ook die laaste enkelspeler korter as twee minute wat – op 23 September 1967 – nommer een op die Billboard Hot 100 kon haal.

Die Beach Boys se Carl en Dennis Wilson was onderskeidelik 15 en 17 toe die groep hul eerste treffer, “Surfin’”, sou opneem. Keith Moon het op 17 vir The Who begin tromme slaan.

Die tweeling Robin en Maurice Gibb was 18 en ouboet Barry 20 toe “Massachusetts” talle treffersparades oorrompel het. (En van waar die naam Bee Gees? Toevallig níe van Brothers Gibb af nie, maar van die radio-omroeper Bill Gates, die promotor Bill Goode en natuurlik ouboet Barry Gibb se voorletters af.)

Met sy uitvoering van “Twenty Flight Rock” in die seksbom, Jayne Mansfield, se trefferfliek, The Girl Can’t Help It, was Eddie Cochran ook maar ’n brose 18. “Twenty Flight Rock” is juis die eerste liedjie wat Paul McCartney vir John Lennon op hul ontmoetingsdag sou speel. Paul had sy oog op John se skiffle-groep, The Quarrymen. Om die saak te beklink het McCartney, wat links is, ’n kitaar wat vir ’n regshandige gesnaar is, onderstebo gespeel.

So gepraat: George Harrison was 19 toe die Beatles se eerste enkelspeler, “Love Me Do”, in Oktober 1962 uitgereik is.

Om almal te oortref het kitaarvirtuoso Jonny Lang egter op 15-jarige ouderdom ’n stywe blues rocktreffer met “Lie To Me” (1997) oopgeskrou. Lang se volle voorname is Jon Gordon; Oldfield s’n Michael Gordon.

So beland Michael einste op 17-jarige ouderdom in The Whole World. Die progressiewe en gerekende Ayers het deur die jare saam met baie groot name soos Elton John, Brian Eno en Pink Floyd se Syd Barrett gewerk.

Ayers was ook ’n stigterslid van die pastorale psigedeliese groep Soft Machine, wat in daardie jare dikwels op dieselfde plekke as Floyd sou speel, laasgenoemde natuurlik met hul eie briljante mengsel van akoestiese rock en psigedelia, spesifiek “Arnold Layne”, “See Emily Play” en “Careful with that Axe, Eugene”.

Interessant genoeg het die invloedryke Britse rockskrywer, Nick Kent, vir Ayers en Barrett as die twee belangrikste stemme in Britse popmusiek uitgesonder.

“Alles ná hulle,” het Kent verklaar, “het uit Kevin en Syd gekom.”

********************

Die fokus is uiteraard op “ná hulle”.

Want vóór Kevin en Syd was daar baie ander – soos Lennon en McCartney en van oorkant die waters ook die Ventures, Jimi Hendrix en Bob Dylan – wat fondamente gelê het waarop Kevin en Syd sou bou. 

Selfs Hank Marvin van die Shadows se kitaarstyl was ’n gerekende invloed.

Op sy beurt had Ayers ’n rol in die geboorte van Tubular Bells gespeel. Aan die een kant was daar skuldgevoelens oor die ondergang van The Whole World.  Aan die ander kant wou Kevin sy vriend Mike help met die musiek wat laasgenoemde in sy woonstelkamer sit en komponeer het.

Kevin het ’n Bang & Olufsen-bandopnemer aan Mike geleen. Oldfield het die masjien se uitveeknop geblok, sodat hy dit wat op die bandmasjien se eerste baan opgeneem is, na die tweede een kon oorbons, waarna ’n nuwe instrument op die eerste baan vasgelê kon word.

Op dié manier het Oldfield veelbaan-opnames gemaak van ten minste vier temas wat hy al jare lank vertroetel het.

Inspirasie is uit Centipede (met ’n ensemble van omtrent 50 lede) se instrumentele Septober Energy-album geput, asook Terry Riley se eksperimentele A Rainbow in Curved Air, met Riley as alleenspeler van alle instrumente.

Helaas was A Rainbow bloot ’n versameling klanklusse en oorklanking, sonder veel melodie en met feitlik geen progressie nie, terwyl die Centipede-eksperiment ’n klomp rigtinglose anargiese klanke uitgekerm het. Karl-Heinz Stockhausen sou dalk instemmend kon knik. Vir die res van ons was dit iewers tussen ’n gemors en ’n mors van tyd.

Oldfield se komposisies, daarenteen, was kompleks en ryk aan pols, vesel, tekstuur en melodie. “Musiek is hierdie lieflike wese wat my vashou en beter laat voel,” het hy verklaar. Dit was ’n talent wat hom op 17 al deel gemaak het van drie album-opnames.

Die eerste twee was saam met The Whole World en die derde saam met die Edgar Broughton Band op die groep se gelyknamige 1971-LP. As Brittanje se mees gepolitiseerde underground blues- en psigedeliese rockgroep het die langspeler met twee van die 1970’s se beste snitte geskitter: “Evening Over Rooftops” en (op die album se 2004-heruitreiking) ook die akoestiese 12-snaar-meesterstuk, “Hotel Room”.

Al drie hierdie albums is in die bekende Abbey Road Studios opgeneem waar jy-weet-wie se wêreldoorheersing van populêre musiek begin het. Dit het vir Oldfield die kans gebied om hom tydens die ateljee se leë ure met vele ander instrumente vertroud te maak; die klavier, die Mellotron-elektroniese klavier, die klavesimbel, en so meer.

Teen middel 1970 had die jong Engelsman ’n demo-opname gereed van wat hy Opus One wou noem.

Dis waar Richard Branson die prentjie betree.

********************

Die disleksiese Branson, of deesdae sir Richard, is met entrepreneursbloed gebore.

...
Sonder Oldfield was daar moontlik nie ’n sir Richard plus ’n Virgin-dit of Virgin-dat nie.
...

Op 16 publiseer hy ’n tydskrif getiteld Student. Op 20 begin hy om plate, insluitend smokkelplate, goedkoop in te voer waarna dit per pos teen 10% minder as winkelpryse verkoop is. As verlangse voorloper van Takealot was hierdie sakeplan – met die hulp van liberale sieninge oor verkoopbelasting – so winsgewend dat Branson in 1972 ’n reeks platewinkels genaamd Virgin Records (en later Virgin Megastores) van stapel sou stuur.

Die res is geskiedenis; Virgin Atlantic, Virgin Rail, Virgin Galactic . . .

Minder bekend is die rol wat Mike Oldfield en The Manor in Branson se fenomenale suksesverhaal sou speel. Sonder Oldfield was daar moontlik nie ’n sir Richard plus ’n Virgin-dit of Virgin-dat nie.

Drie maande voor sy 21ste verjaardag, sien, het Branson ’n 17de eeuse steenhuis gekoop, dit tot The Manor herdoop en die muurbalbaan in ’n opname-ateljee omskep, spesifiek vir groepe – soos die Arthur Louis Band – wat nie Londen se duur ateljees kon bekostig nie.

As lid van einste groep het Oldfield The Manor se klankingenieurs, Simon Heyworth en Tom Newman, oorreed om na sy demo te luister. So aangrypend het hulle dit gevind dat ’n kopie aan Branson se sakevennoot, Simon Draper, oorhandig is.

Draper, ’n gewese Suid-Afrikaner en Branson se neef, was ook die vennootskap se “musiekman”. Opus One het hom uitgeboul. Branson, daarenteen, was ’n musiekleek. “Hy’t nie eens ’n platespeler in sy huis gehad nie,” vertel Draper. “Sy gunstelingliedjie was Cliff Richard se ‘Bachelor Boy’.”

Branson se probleem met Oldfield se musiek was die afwesigheid van stemme. Draper se aanvanklike probleem was dat hy nie tyd kon vind om na die demo te luister nie. Oldfield moes ’n jaar wag voor hy – oor aandete op Branson se rivierboot – ’n antwoord uit die twee kon kry; ’n jaar waarin alle platemaatskappye wat hy genader het, insluitend EMI en CBS, Opus One verwerp het omdat musiek sonder stemme “onbemarkbaar” sou wees.

Tot en met die rivierboot-ete wou Oldfield dalk na Rusland verkas omdat die Russiese staat kwansuis kunstenaars ondersteun het. Draper was egter so ingenome met die “onvergeetlike mooi” klankbaan dat Mike in November 1972 vir ’n week lank in The Manor kon loseer om ’n ordentlike opname van Opus One op die ateljee se 16-baan-menger te maak.

Terselfdertyd het Branson ingewillig om Oldfield van instrumente te voorsien: Akoestiese kitaar, Spaanse kitaar, baskitaar, elektriese kitaar, ’n Farfisa-orrel, konserttimpanie, glockenspiel, slaginstrumente, ensovoorts.

Die pypklokke is toevallig bygevoeg toe ’n vorige kunstenaar se instrumente uit The Manor verwyder is op die dag dat Oldfield sou intrek. “Wag so ’n bietjie,” het die jong Engelse musikant gevra, “kan ek dalk daai klokke vir ’n wyle leen, asseblief?”

********************

“Michael,” het Tom Newman later vertel, “was ’n geesteswrak terwyl ons Bells opgeneem het. Hy’t die gaping tussen sterflike vlees en dit wat in sy kop aangaan, die vergaanbare versus die ewige onsterflike musiek, geweldig ontstellend gevind.”

’n Paar ontstigtende eksperimente met LSD in Michael se jonger jare het ook ’n tol geëis. Party temas het maklik gekom; ander is uitgesweet of via miniatuurkrabbels op ’n sigaretpakkie gekomponeer. 

Maar die span het vasgebyt, insluitend Oldfield wat tussen 10 en 20 instrumente self gespeel het, afhangend van hoe jy tel.

Dit begin met die klavier; eteries, lig en lugtig, maar ook onaards en onrustig.

Daarna val die glockenspiel en Farfisa-orrel in, gevolg deur ’n nimlike baskitaarriff wat saam met die orrel en glockenspiel oor die klavier doebleer om ’n boeiende jukstaposisie te skep: Die bas se gerusstellende skoffelmelodie oor die klavier se 8/8- afgewissel met 7/8-ritme wat ’n onaardse, kwellende toon skep.

Interessant genoeg het Oldfield die klawertema “ontdek” deur Bach se toccata en fuga in D-mineur agterstevoor om te speel. Die vreemde tydsinjatuur het ook die nodige atmosfeer van voorspooksel geskep wat reg in regisseur William Friedkin se kraam sou val nadat Lalo Schifrin se oorspronklike klankbaan vir Friedkin se psigoriller, The Exorcist, ter elfder ure geskrap is.

Nog ’n interessantheid was hoe Oldfield die instrumente se tradisionele rolle omgekeer het. Op Bells se openingsegment speel die bas basies die wysie terwyl die klavier as onrustige, maar polsgewende lokomotief dien. In die afwesigheid van enige slaginstrumente sou dit normaalweg andersom gedoen word.

In die opname se vroeë oomblikke het Oldfield die konkoksie in ieder geval nog boeiender gemaak met ’n periodieke enkeltoon-klokslag, voordat die klavier se linkerhand ook die ritme van ’n hartklop nader hark.

Bo-oor dit alles word mettertyd ’n boel kitare ingevoer; eers die elektriese Fender Telecaster (wat voorheen aan T-Rex se Marc Bolan behoort het), gevolg deur twee fuzzy kitare en later die Mellotron wat met ’n magtige, rollende tema voortsleur.

Op hierdie punt is Oldfield skaars een-sewende deur ’n moderne rocksimfonie van amper 50 minute. Daar’s ’n honky tonk-klavier, later, wat ’n kleindeuntjie saggies en eenkant ter ere van The Manor se kombuisstaf uittokkel. Daar’s vinnige, swaar, blokkige mokerrock-kitaarslae. Dan ’n skielike stilte, asof die musiek oor ’n krans geval het, om ruimte te skep vir ’n stuwende en polsende nuwe baskitaarmotief, onstuitbaar op pad na Bells se onvergeetlike hoogtepunt: ’n Hooftema wat afgemete en glorieryk deur verskillende instrumente, een na die ander, uitbasuin word met die pypklokke as triomfantelike klimaks.

Plus ’n malkopbonus: Die Boheem, Vivian Stanshall, wat as “seremoniemeester” optree om elke hooftema-instrument op dramatiese wyse aan te kondig; grand piano, reed and pipe organ, glockenspiel, bass guitar, double speed guitar, two slightly distorted guitars, mandolin, Spanish guitar and introducing acoustic guitar ... plus ... tubular bells!

Dit dan Kant 1 van die plaat. Noem dit apokalipties, as jy wil.

Aan Oldfield het dit dus die taak gelaat om Kant 2 in die vroeë maande van 1973 te komponeer en op te neem.

********************

Met die eindproduk is die Engelsman tot vandag toe ontevrede. Branson het ongeduldig geraak om Tubular Bells vry te stel; per slot van sake sou dit Virgin Records se allereerste plaat wees.

...
Oldfield het dit vir hom gegee. Hy’t ’n halwe bottel Jameson’s afgesluk en, totaal whiskey-besope, vir 10 minute lank soos ’n oermens met ’n diep, malende stem in ’n mikrofoon geskree.
...

Uiteindelik was daar dus te min tyd oor vir Kant 2, plus ’n tweede probleem: Die baas wou stemme hê.

Oldfield het dit vir hom gegee. Hy’t ’n halwe bottel Jameson’s afgesluk en, totaal whiskey-besope, vir 10 minute lank soos ’n oermens met ’n diep, malende stem in ’n mikrofoon geskree, soms asof hy braak en soms soos ’n wolf wat vir die maan tjank.  

So erg was dit, dat Oldfield vir twee weke lank nie kon praat nie.

Die passasie, as die “grotmanskrou” bekend, was ook die LP se enigste met dromme, geslaan deur die Edgar Broughton Band se Steve Broughton.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek en sedert 25 Mei 1973 is al meer as 18 miljoen kopieë van Bells verkoop. Maar die plaat was allermins blitsig uit die blokke. Weens sy mens- en pers-skuheid was Oldfield onwillig om enige bemarking te doen.

Een van Branson se idees was byvoorbeeld om die stuk voor ’n lewendige gehoor in Londen se Queen Elizabeth II-saal op te voer. Die Rolling Stones se Keith Richards en Blind Faith se Steve Winwood was deel van die orkes.

Op konsertdag, op pad na die saal, het Oldfield ’n paniekaanval beleef en Branson gesmeek om hom terug huis toe te neem. Uiteindelik is hy omgepraat om deur te druk, met die belofte dat Branson ’n ou Bentley aan Oldfield sou skenk.

Die uitvoering het nie naastenby aan die jong perfeksionis se standaarde voldoen nie en hy was geskok toe die gehoor in applous uitbars. Hy was ook geskok om jaareinde te hoor dat The Exorcist dele van sy musiek vir ’n nominale fooitjie geapproprieer het.

En tog het die fliek Bells gepromoveer soos Oldfield dit nooit sou kon doen nie.

Die onderhoude wat hy wel toegestaan het, was rampspoedig. Die jongeling was verward oor die ophef wat oor sy meesterstuk gemaak is. Paniekaanvalle waartydens hy sou vries en geglo het dat sy lyf gereed was om te ontplof, of dat die duiwel hom gaan gryp, het meermale getref.

Daar was net een uitweg: Oldfield moes vlug. Hy’t ’n huis in die platteland naby die Walliese grens bekom, aan die Engelse kant van Hergest Ridge, wat ook ’n titel vir sy tweede, en nogmaals oorhaastige, album sou bied.

Branson wou munt uit Bells se fenomenale sukses slaan, maar selfs Oldfield kon Hergest Ridge nie ryp druk nie.

Daar was egter een ligpuntjie.

********************

Baie kunstenaars lewer nou en dan ’n pragtige “ditty”, oftewel kleindeuntjie, amper as weggooikos tussen ander groter, belangriker disse deur.

Paul McCartney het dit met “Put it There” (op Flowers in the Dirt) gedoen; Herman van Veen met “In Appreciation” (op My Cat and I); Jethro Tull met “Cheap Day Return” (op Aqualung) asook “One White Duck on Your Wall” (op Minstrel in the Gallery).

Op Hergest Ridge val “On Horseback” as ’n lieflike juweeltjie uit die hemel. Dis ’n kleindeuntjie wat Oldfield se nuutgevonde vryheid en vrede besing, maar dit was ook ’n bewys dat hy binne die kortformaat kon blom.

Nie dat hy ’n liedjieboer is of was nie. Oldfield het merendeels met groot oudio-landskappe gewerk; taferele vol riffs, wysies en melodieë waarvan een uit ’n ander ontwikkel het om, op hul beste, omvangryke evokatiewe klankskilderye vol tekstuur en atmosfeer te skep.

’n Paar kortspelers was daar wel, waarvan “Five Miles Out”, “Shadow on the Wall” en die sublieme “Moonlight Shadow” die bekendstes was. ’n Fassinerende video wys ook hoe die Engelsman Herbert Ashworth-Hope se “Barnacle Bill” in 1979 as temalied vir die BBC-kinderprogram, Blue Peter, heropgeneem het.

Daarbenewens het Oldfield as 49-jarige ’n MusicVR-videospel genaamd “Tres Lunas” in 2002 ontwikkel.

Sy hoofgenre sou egter die eenmansimfonie bly; ’n musiekvorm waarin hy ten minste een keer in sy lewe goud en godedom gevind het.

Bells se opvolgers, Hergest Ridge en Ommadawn, kon nog gaan, maar daarna was dit net 1983 se Crises wat genoeg om die lyf had om ’n volle luister te regverdig.

Die res was te lig in die broek, insluitend sy klankbaan vir Roland Joffé se fliek, The Killing Fields. Oldfield plaas die blaam op filmbase wat cliché-klanke gesoek het, maar daar was vele ander geleenthede om sy staal sonder enige korporatiewe inmenging te bewys.

Hy kon nie. Die klassieke strukture, die ongewone toonlere en die eklektiese tydsinjatuur – asook die instrumentele aard van Oldfield se musiek; hy wou nie by die betekenis van woorde vashaak nie – het konstantes gebly. Elektroniese en fluitklanke het egter oorgeneem. Daarmee saam het die vars, oorspronklike, verkwiklike, meevoerende musiek wat onsterflike status aan Bells sou verleen, uitgesterf.

Oldfield se kreatiwiteit is tot ’n groot mate in sy eerste fenomenale poging uitgewoed.  

Dis hoekom hy in later jare oor en oor na verwerkings van sy oorspronklike meesterstuk sou terugkeer; Tubular Bells II en III, asook The Millennium Bell en Tubular Bells 2003, het die weg gebaan vir een finale aanslag – Tubular Bells: 50th Anniversary Edition – waarvan die uitreiking net nou die dag nog begelei is deur ’n 50th Anniversary Tour, onder meer met ’n spektakulêre skouvertoning vol dansers, gimnaste en sirkusartieste in Londen se Royal Festival Hall.

Van al die heropnames is hierdie 50ste gedenkuitgawe die getrouste aan die oorspronklike; nou met ’n skoner en suiwerder klank, maar genade sy dank sonder om Bells se genialiteit te besmet of te besoedel.

Dis sekerlik ook die koei se laaste melk. Oldfield het, in wese, ’n “one hit wonder” soos Scott McKenzie geword. Die enigste verskil is dat McKenzie se “San Francisco” ’n kortspeler was en Oldfield se Bells ’n langspeler.

********************

In 1973 het die ikoniese Britse platejoggie en omroeper, John Peel, die volle Bells op sy BBC Radio 1-program gespeel. Dit was nie ietwat ongehoord nie. Dit was absoluut ongehoord. Sover ek weet het Peel nooit voor of ná dit ’n volle LP in die eter losgelaat nie.

Daar was toentertyd natuurlik die hoop en verwagting van ’n opvolg-meesterstuk. Ek self het Hergest Ridge en Ommadawn blindelings gekoop, oortuig daarvan dat die vonk waaruit Bells gebore is, verder sou vuur.

Maar tevergeefs. Daar was flikkeringe, oomblikke, passasies en grepe, maar geen verdere “magic at work” soos Russell Hoban se Jachin-Boaz destyds deur die Irish Times geprys is nie. Die New Statesman se “invention as original as any” het – in Oldfield se geval – al hygender na asem begin snak. Selfs die Sunday Times se “unclassifiable” had minder en minder betrekking; Bells se Kant 2 het reeds voorbodes gelewer dat Oldfield mettertyd ’n beoefenaar sou word van “new age”-musiek se vervelige en selfs rigtinglose herhalings.

Russell Hoban, o ja, sou dalk gemesmeraais kon word deur die lang, uitgerekte, tydlose siklusse wat sy Tottenham-“buurman” later van tyd sou uitdraai.

Maar as tyd begin stilstaan, sterf die pols. Daarna verdwyn die musiek en al wat oorbly is gesintetiseerde verveling. Oldfield het dalk self verveeld geraak. Per slot van sake het oerskree-terapie hom lank gelede al uit sy geesteswroeginge verlos.

Deesdae woon hy in die idilliese Bahamas. Hy’s selfs bereid om onderhoude te voer en nou en dan te glimlag.

********************

Van die 1970’s het John Lennon eenkeer gesê: “Niks het ooit gebeur nie.”

...
Mozart was ook 19 toe al vyf sy vioolkonserte gekomponeer is. In een sin is Bells juis ’n Mozart-konsert vir die 20ste eeu; in ’n ander weer die “Carmina Burana” van pop rock – en ja, sonder stemme.
...

John was verkeerd. Met ’n oorspoel uit die opwindende 1960’s het die meesteralbums vinnig in die vroeë sewentigs opgestapel: Lennon se eie Imagine; Simon & Garfunkel se Bridge Over Troubled Water; die Rolling Stones se Sticky Fingers en Exile on Main Street; Neil Young se After the Gold Rush en Harvest; Creedence Clearwater Revival se Cosmo’s Factory en Pendulum; The Who se Live at Leeds en Who’s Next?; Van Morrison se Moondance en Tupelo Honey; Lou Reed se Transformer en Berlin; The Doors se Morrison Hotel en L.A. Woman; Jethro Tull se Benefit, Aqualung en Thick as a Brick; Led Zeppelin se Led Zeppelin III, Led Zeppelin IV en Houses of the Holy; Leonard Cohen se Songs of Love and Hate en Tom Waits se Closing Time, net om enkeles te noem.

Plus, drie maande voor Tubular Bells, ook Pink Floyd se Dark Side of the Moon.

Alles hierbo, en nog baie ander, was fantastiese en selfs grensverskuiwende musiek. Maar min daarvan het waarlik ’n unieke nuwe genre geskep.

Tubular Bells het. En dit alles op ouderdom 19.

Mozart was ook 19 toe al vyf sy vioolkonserte gekomponeer is. In een sin is Bells juis ’n Mozart-konsert vir die 20ste eeu; in ’n ander weer die “Carmina Burana” van pop rock – en ja, sonder stemme.

Maar ook sonder weerga.

Ou Twangmeister, die Shadows se Hank Marvin, het eenkeer verduidelik hoe hy sy Vox-versterker en -eggo saam met ’n Fender Stratocaster se whammy-stok gebruik om daai kenmerkende vol, skoon klank te kry wat sonder sukses, in Hank se woorde, deur sovele ander kitaarslaners nagejaag is – “myselwers ingesluit”.

Einste het Mike Oldfield homself, ná Tubular Bells, sovele kere probeer na-aap en gefaal. En op 69-jarige ouderdom gaan hy nooit weer verras of verwonder soos hy 50 jaar gelede gedoen het nie.

Dis goed so. Toe hippiekultuur ons ’n halfeeu gelede gedryf het om by die rotasie van planete om die son asook die kosmos se fassinerende ritmiese patrone in te skakel, het daar uit ’n klein geografiese kolletjie rondom Londen se Tottenham Court Road drie geeste – Hoban, Branson en Oldfield – verrys om, individueel of tesame, die onklassifiseerbare in ons aan te wakker.

Selfs vandag nog vervul Oldfield se eerste pop rocksimfonie (wat as V2001 deur Virgin uitgereik is) die rol van 2001: A Space Odyssey se misterieuse, eiesoortige monoliet wat buitestaanders so verwonder en oorrompel het.

So, luister ’n bietjie na Bells, mnr Johnnie Walker, afore ye go. Dink ’n bietjie wat dit vir jou gees kan doen as dit kragtig genoeg was om Richard Branson se Virgin Galactic hemele toe te stuur.

In 2001 moes Kubrick se groot ape juis aan daai monoliet raak om ’n bewussynsprong te maak, moes hulle nie?

Wel, einste met Oldfield se klokke vir die eeue. As hulle jou eers vat, verander alles.

En klinkend so.

  • 1

Kommentaar

  • Clari Niemand

    Briljante, volledige stuk skryfwerk, agtergrond so ryk soos die komposie! Baie dankie, hierdie stuk is wonderlik vol inligting.
    Give that man a Bell's ;-D (of 'n Johnny Walker as dit dan moet).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top