Klimaatsmanipulasie: tegnologie en sosiale konteks

  • 1
“Climate change is a huge challenge, but it can be brought in line if governments, businesses and individuals work together.” – Sir Richard Branson 

Opsomming

Die doel van hierdie artikel is om agtergrondkennis oor klimaatsmanipulasie (ook as geo-manipulasie bekend) vir die belangstellende leser daar te stel. ’n Samevatting van die resultate en standpunte wat uit geselekteerde onlangse navorsing na vore gekom het en wat in erkende akademiese vaktydskrifte gepubliseer is, word kortliks bespreek. Die etiek van klimaatsmanipulasie blyk ’n uiters komplekse kwessie te wees. Benewens die onontbeerlike rol van die wetenskap en tegnologie sluit dit ook morele, politieke en sosiale vraagstukke in. Dit vereis weldeurdagte en deursigtige benaderingswyses, waarby ’n breë spektrum van belanghebbendes betrokke is en waarin die beginsels van geregtigheid, verantwoordelikheid en menslikheid as leidende riglyne behoort te dien.

Inleiding

Aardverwarming en die gepaardgaande klimaatsverandering is ’n uiters belangrike vraagstuk van die 21ste eeu. Die wêreld se reaksie hierop (in die vorm van klimaatsmanipulasie) is eweneens besonder relevant. Terwyl spesifieke tegnologiese uitdagings dus aan die een kant die hoof gebied moet word, tree komplekse etiese vraagstukke aan die ander kant uit die tegnologiese oplossings na vore (Brooks, Cannizzaro, Umbrello, Bernstein en Richardson 2022).

Klimaatsmanipulasie verwys na die grootskaalse manipulasie van spesifieke prosesse wat sentraal staan tot die beheer van die aarde se klimaat met die doel om sekere voordele daaruit te verkry. Die wêreldklimaat word beheer deur die hoeveelheid sonstraling wat deur die aarde ontvang word, asook hoeveel daarvan deur die aarde se oppervlak geabsorbeer en hoeveel weerkaats of na die buitenste ruimte teruggestraal word.

.....
klimaatsmanipulasie verwys na die grootskaalse manipulasie van spesifieke prosesse wat sentraal staan tot die beheer van die aarde se klimaat met die doel om sekere voordele daaruit te verkry.
.....

Die weerkaatsing van sonstraling word deur verskeie meganismes beheer, waaronder die aarde se oppervlak-albedo (kaatsfaktor) en wolkbedekking, en die teenwoordigheid van kweekhuisgasse soos koolstofdioksied (CO2) in die atmosfeer. Indien klimaatsmanipulasie die wêreldklimaat op enige betekenisvolle wyse wil beïnvloed, moet dit die relatiewe invloed van een of meer van hierdie beheermeganismes wysig.

Koolstofdioksiedverwydering en albedo-modifikasie

Scott (2012), verbonde aan die Mansfield Ethics and Public Affairs Program aan die Universiteit van Montana, wys daarop dat wetenskaplikes op die gebied van klimaatsmanipulasie oor ’n wye spektrum tegnieke en metodes navorsing doen om die impak van aardverwarming te probeer versag. Die een hoofrigting behels die verlaging van antropogeniese (deur die mens veroorsaak) CO2-vlakke in die atmosfeer om die sogenaamde kweekhuiseffek te verklein of te manipuleer deur, byvoorbeeld, minder fossielbrandstowwe te verbruik. Met koolstofdioksiedverwydering (wat in die algemene spreektaal ook as “direkte lugopvangs” bekendstaan) word pogings aangewend om koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder en te berg met die doel om die algehele konsentrasie van CO2 in die atmosfeer te verlaag. Dié tegnologie behels die direkte verwydering van koolstofdioksied deur middel van chemiese metodes wat veral in die industrie toegepas word; die aanplanting van grootskaalse plantasies; die versnelling van natuurlike prosesse om CO2 te absorbeer; die verhoging van die alkaliniteit van seewater; en die omskakeling van CO2 tot stabiele minerale.

Die ander hoofrigting behels ’n wye spektrum strategieë wat as sonstralingsbestuur (“solar radiation management”) bekendstaan. Dit kom daarop neer dat die aardoppervlak afgekoel word deur ’n proporsie van die inkomende straling van die son terug te kaats of te reflekteer, hetsy vanaf ’n area in die dieperliggende atmosferiese lae of naby die aardoppervlak. Daar is twee benaderings wat die meeste aandag ontvang. Die eerste is die bespuiting van gedeeltes van die stratosfeer met sulfaat-spuitstowwe. Dit kom neer op die nabootsing van vulkaniese uitbarstings, omdat dit bekend is dat afkoeling voorkom in omgewings waar vulkaniese wolkvorming plaasvind. Die tweede is mariene wolkverheldering, waartydens kuswolke met klein druppels seewater bespuit word om die wolke se weerkaatsingskapasiteit (of albedo) te verhoog.

.....
Die verwydering van koolstofpartikels uit die atmosfeer is ’n besonder duur onderneming, terwyl sonstralingsbestuur of albedo-modifikasie daarenteen beskryf word as ’n relatief kostedoeltreffende strategie wat vinnig toegepas kan word.
.....

Die verwydering van koolstofpartikels uit die atmosfeer is ’n besonder duur onderneming, terwyl sonstralingsbestuur of albedo-modifikasie daarenteen deur Keith, Parson en Morgan (2010) beskryf word as ’n relatief kostedoeltreffende strategie wat vinnig toegepas kan word. Sonstralingsbestuur is belowend, maar is steeds gebrekkig (“imperfect”). Dit is uiters belangrik om in gedagte te hou dat ’n aarde wat deur sonstralingsbestuur afgekoel word, nie dieselfde sal wees as ’n aarde wat deur die beperking van skadelike emissies afgekoel word nie. Sonstralingsbestuur kan heel moontlik minder reën en neerslag, sowel as verlaagde verdamping, tot gevolg hê. Sommige geografiese areas kan meer as ander teen temperatuurverandering beskerm word, waardeur “wenners” en “verloorders” geskep word. Sonstralingsbestuur kan die voorkoms van moesonwinde en -reënval beduidend verlaag. Dié tegnologie dien ook nie as ’n doeltreffende teenvoeter vir oseaanversuring of ander CO2-gedrewe ekosisteemveranderinge nie. Die voorafgaande is slegs enkele van die leemtes in sonstralingsbestuur.

Dit kom daarop neer dat die huidige ongekwantifiseerde risiko’s van sonstralingsbestuur ’n belangrike onderliggende bron van kommer is. ’n Goedkoper oplossing is nie noodwendig ’n weldeurdagte of risikovrye oplossing nie en kan selfs pogings om die primêre oorsake van die aardverwarmingsprobleem aan te pak, ondermyn.

Moreel-etiese vraagstukke

Svoboda (2020) wys op die volgende kommerwekkende etiese kwessies: Die ontwikkeling van klimaatsmanipulasietegnologie sou beslis “morele gevare” kon skep deurdat welvarende en/of magtige regerings eerder van hierdie tegnologie gebruik sal maak as om die morele verpligting om hulle vrystelling van skadelike emissies te verminder, na te kom. Wat behels die verspreiding van risiko’s binne hierdie konteks? Is die eensydige implementering van sonstralingsbestuur en die uitvoer van navorsing eties verantwoordbaar? Sal sonstralingsbestuur die klimaat en omgewing sodanig beïnvloed dat nuwe vraagstukke of risiko’s geskep word vir diegene wat tans die minste vir die huidige atmosferiese kweekhuisgaskonsentrasies verantwoordelik is? Sal toekomstige geslagte onwillekeurig verplig wees om voort te gaan om, byvoorbeeld, sulfate in die atmosfeer in te pomp, of anders versnelde aardverwarming in die gesig te staar? Is die strewe daarna om die aarde se klimaat doelbewus te beheer en te manipuleer ’n verdere uitdrukking van die menslike arrogansie en oordrewe selfvertroue wat die wêreldbevolking in die eerste plek in die klimaatdilemma gedompel het?

.....
Is die strewe daarna om die aarde se klimaat doelbewus te beheer en te manipuleer ’n verdere uitdrukking van die menslike arrogansie en oordrewe selfvertroue wat die wêreldbevolking in die eerste plek in die klimaatdilemma gedompel het?
.....

Benewens die pragmatiese moreel-etiese kritiek teen tegnologie, soos dié wat deur die mariene bioloog Rachel Carson in haar boek Silent spring uitgespreek word (Scott 2012), bestaan daar ook diepgaande filosofiese bedenkinge oor die grondslae van die Westerse kultuur in soverre dit die verwantskap tussen omgewingsetiek en klimaatsmanipulasie betref. Die historikus Lynn White voer in sy invloedryke essay, “The historical roots of our ecological crisis”, aan dat die bron van die 20ste-eeuse ekologiese krisis die enorme magsposisie is wat die wetenskap en tegnologie in die moderne era vir hulleself geskep het, en wat gepaard gaan met ’n lewensbeskouing wat die gebruik van daardie mag om die natuur te beheer, regverdig. Tegnologiese mag is geensins ’n noodsaaklike, welwillende en progressiewe krag nie. Die mens beskik nie oor die reg om die aarde te ontwerp nie. Drengson (1984) (wat hierdie gedagtegang verder uitbou) wys daarop dat die gebruik van tegnologiese oplossings om omgewingsprobleme op te los toenemend vernietigende patrone skep. In sulke situasies word dieselfde tegnologie wat die probleem in die eerste plek geskep het, gebruik om ’n probleem op te los. Drengson verwys hierna as die “instrumentalisties-tegnokratiese” perspektief.

Ricke, Wan, Saenger en Lutsko (2023) fokus in hulle navorsing op die fisiese effekte van klimaatsmanipulasie, maar kom tot die gevolgtrekking dat hulle bevindings nie as losstaande van die sosiale konteks en sosio-ekonomiese aannames gesien kan word nie. Wetenskaplike navorsing oor aardsisteme en die gevolge van klimaatsmanipulasie, met inbegrip van die chemiese, stralings-, klimatologiese, biochemiese en biofisiese impakte, vereis dat aannames oor sosiopolitieke omstandighede en regsimplikasies gemaak word. Dit skep ’n behoefte aan impakstudies en maak noodwendig ’n breë spektrum konsepte uit die stal van die sosiale wetenskappe, wat sou kon wissel van filosofie tot die ekonomie, uiters relevant.

Gunderson, Petersen en Stuart (2018) se sentrale argument kom daarop neer dat die vermindering van emissies, anders as sonstralingsbestuur, ’n duur proses is. Dit vereis aansienlik meer sosiaal-strukturele as tegniese veranderinge, en klimaatsmanipulasie se doelstellings is in stryd met die huidige ekonomiese en sosiale stelsel (dit wil sê, die huidige sosiaal-ekonomiese stelsel is heel waarskynlik struktureel nie in staat om emissies doeltreffend te verminder nie). As gevolg hiervan voorspel Gunderson e.a. (2018) dat sonstralingsbestuurstrategieë, hoe riskant ook al, toenemend beskou sal word as die hoofmiddele om klimaatsverandering te bekamp, en miskien selfs as alternatief vir die vermindering van emissies.

.....
Die drastiese veranderinge wat nodig is om emissies te verminder, behels fundamentele veranderinge in ons sosiale stelsel.
.....

klimaatsmanipulasie is egter ’n gevaarlike en riskante poging om die werklike probleem (die oorheersing van die natuur deur tegnologie in diens van kapitalisme) in die oplossing te omskep. Die drastiese veranderinge wat nodig is om emissies te verminder, behels fundamentele veranderinge in ons sosiale stelsel. Indien die vermindering van skadelike emissies, in vergelyking met sonstralingsbestuur, as meer onrealisties en as ’n utopiese ideaal van die hand gewys word, is dit dalk korrek om te beweer dat ons vir die eerste keer in ’n wêreld leef waarin dit onmoontlik geword het om ’n beter alternatief te kan voorstel.

Ten slotte: Die Europese Kommissie (Psara 2023) het op 28 Junie 2023 ’n dringende beroep gedoen dat internasionale gesprekvoering oor klimaatsmanipulasie so spoedig moontlik moet plaasvind. ’n Groep van 450 vooraanstaande wetenskaplikes, onder leiding van Frank Bierman (Universiteit van Utrecht), het joernaliste van Euronews meegedeel dat die werklike impak van klimaatsmanipulasie betroubaar vasgestel kan word slegs deur middel van globale ontplooiing (met ander woorde, op planetêre skaal), wat uiteraard hoogs riskant is. Die resultate van kleinskaalse of korttermyn-laboratoriumtoetse vertel ongelukkig nie die volle verhaal van die werklike risiko’s aan hierdie tegnologie verbonde nie.

Gevolgtrekking

Die etiek van klimaatsmanipulasie is ongetwyfeld ’n ingewikkelde en genuanseerde vraagstuk. Volgens Katz (2017) handel dit nie bloot oor wetenskaplike en tegnologiese strategieë nie, maar ook oor die morele, politieke en sosiale implikasies van hierdie ingrypings in die komplekse klimaatsisteem. Dit vereis ’n deurdagte en deursigtige benadering, waarby ’n breë spektrum van belanghebbendes betrokke is en waarin die beginsels van geregtigheid, verantwoordelikheid en menslikheid as leidende riglyne dien.

Bibliografie

Brooks, L, S Cannizzaro, S Umbrello, MJ Bernstein en K Richardson. 2022. Ethics of climate engineering: Don’t forget technology has an ethical aspect too. International Journal of Information Management, 63:102449. https://doi.org/10.1016/j.ijinfomgt.2021.102449.

Drengson, AR. 1984. The sacred and the limits of the technological fix. Zygon Journal of Religion & Science, 19(3):259–75.

Gunderson, R, B Petersen en D Stuart. 2018. A critical examination of geoengineering: Economic and technological rationality in social context. Sustainability, 10:269. doi:10.3390/su10010269.

Katz, C. 2017. Resensie van Svoboda, T. 2017. The ethics of climate engineering: Solar radiation management and non-ideal justice. Oxfordshire: Routledge. Notre Dame Philosophical Reviews, 10 Desember. https://ndpr.nd.edu/reviews/the-ethics-of-climate-engineering-solar-radiation-management-and-non-ideal-justice/.

Keith, D, E Parson en MG Morgan. 2010. Research on global sun block needed now. Nature, 463:426–7.

Psara, M. 2023. European Commission calls for international discussions on risks of climate engineering. Euronews, 28 Junie. https://www.euronews.com/my-europe/2023/06/28/european-commission-calls-for-international-discussions-on-risks-of-climate-engineering.

Ricke, K, JS Wan, M Saenger en NJ Lutsko. 2023. Hydrological consequences of solar geoengineering. Annual Review of Earth and Planetary Sciences, 51:447–70. https://www.annualreviews.org/doi/pdf/10.1146/annurev-earth-031920-083456.

Scott, D. 2012. Geoengineering and environmental ethics. The Nature Education Knowledge Project, 3(10):10. https://www.nature.com/scitable/knowledge/library/geoengineering-and-environmental-ethics-80061230/.

Svoboda, T. 2020. The ethics of climate engineering: Solar radiation management and non-ideal justice. Oxfordshire: Routledge. ISBN 9780367595050.

  • 1

Kommentaar

  • Ludolph Botha

    Knap gedaan en belig ons self-geskepde, benarde posisie uitstekend. Baie geluk met 'n uiters relevante artikel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top