Kleine Zalze-wynlandgoed vir tweede agtereenvolgende jaar wêreld se beste

  • 0

Kleine Zalze-wynlandgoed buite Stellenbosch het Suid-Afrikaanse wyne aan die voorpunt van een van die wêreld se grootste en begeerlikste markte gehou deur te vermag wat geen ander inskrywer in die multinasionale Sommelier Wine Awards (SWA) in die VK nog ooit tevore kon nie: Dit is vir die tweede agtereenvolgende jaar as Beste Nuwe Wêreldprodusent aangewys en ’n derde maal in totaal, nadat dit die titel ook in 2015 ingepalm het.

Die toekenning is die jongste prestasie in ’n baie bekroonde eerste helfte van die jaar vir Kleine Zalze.

By die aankondiging van die titel is van links: Hatch Mansfield se HUB, Patrick McGrath, Sommelier Wine Awards se Micaela Martins Ferreira, Taittinger-direkteur Clovis Taittinger en Kleine Zalze se besturende direkteur en eienaar, Kobus Basson.

Die Stellenbosse landgoed is bo mededingers van onder meer Australië, Chili, die VSA en Nieu-Seeland uitgesonder en het ’n indrukwekkende sewe medaljes ontvang, waarvan vyf goud. Die SWA ontvang jaarliks duisende inskrywings van voorste produsente regoor die wêreld.

Kleine Zalze is een van die oudste plase in die Kaapse wynlande en bied ’n wye verskeidenheid aantreklikhede, waaronder bekroonde wyne, sjef Michael Broughton se bekroonde Terroir-gourmet-restaurant, asembenewende stap- en fietsryroetes, die wêreldbekende De Zalze-gholfbaan, en ’n luukse vierster- Kaap-Hollandse styl lodge.

Die pragtige Kleine Zalze-wynlandgoed is tussen Stellenbosch en Somerset-Wes op die R44 geleë en is een van die land se oudste wynplase.

“Ons staan nederig met hierdie tipe erkenning by internasionale hoëprofiel-geleenthede,” sê Kleine Zalze se eienaar en besturende direkteur, Kobus Basson. “Dit is ’n groot eer en prestasie om wyne op VK-restaurante se wynlyste te hê wat deur sommeliers wat elke dag daarmee te doen het, gekies is. Ons streef voortdurend daarna om wyne te maak wat baie goed met kos pasmaat, en die SWA-uitslae is dus uiters positief. Die feit dat ons jongste toekenning vyf verskillende kultivars insluit – cabernet sauvignon, shiraz, chenin blanc, sauvignon blanc en chardonnay – is selfs nog meer bevredigend,” sê Kobus.

Die bevestiging van die deurlopende uitmuntendheid regoor wit en rooi kultivars, sowel as al die Kleine Zalze-reekse – van groot tot boetiek – is ’n deel van die onlangse gros suksesse.

Sedert die begin van die jaar sluit dit onder meer in:

  • Goud by die International Wine Challenge 2019 vir die Kleine Zalze Family Reserve, cabernet Sauvignon 2015 en die Kleine Zalze Vineyard Selection, Chenin Blanc 2015
  • Goud by die Concours Mondial du Sauvignon 2019 vir die Kleine Zalze Vineyard Selection, Sauvignon Blanc 2017
  • Goud by die Concours Mondial de Bruxelles 2019 vir die Kleine Zalze Vineyard Selection, Cabernet Sauvignon 2017 en Family Reserve, Shiraz 2015
  • Goud by die Decanter Wine Awards, vir die Kleine Zalze Vineyard Selection, Sauvignon Blanc 2017
  • Goud by die Mundus Vini International Awards (Lente-proe) vir die Kleine Zalze Vineyard Selection, Shiraz 2016

Die Kleine Zalze Vineyard Selection, Cabernet Sauvignon 2017 se insluiting in die Top 10 Wyne in die Prescient Cabernet Sauvignon Report 2019.

Die SWA-prestasie is ’n belangrike herbevestiging van Kleine Zalze se volgehoue gehalte, vaardigheid oor oesjare en kultivars, en internasionale gewildheid.

Vanjaar het die SWA-organiseerders “merkbare stygings” in topmedaljes vir die Nuwe Wêreld – en dus strawwer kompetisie – opgemerk, wat Kleine Zalze se prestasie vanjaar nog meer indrukwekkend maak.

Die organiseerders se verslag verwys na die Suid-Afrikaanse wynkelder se “uitstekende rekord” by die SWA en noem dat die landgoed “gereeld ’n baie groot aantal medaljes – heel dikwels vir groot pryse – inpalm”. “Hulle het dit vanjaar weer vermag met drie van hul sewe medaljewenners (en twee van die vyf goues) onder £10 [±R183]. Met hierdie wonderlike prestasie het hulle die eerste wynkelder geword wat twee agtereenvolgende jare die Produsent van die Jaar-toekenning verower.”

Kleine Zalze is een van die oudste plase in die Kaapse wynlande en in die wynproelokaal is daar altyd ’n mengelmoes van tale van regoor die wêreld soos wynliefhebbers kom wyn proe.

Die landgoed se goue-medalje-wenners en onderskeie beoordelaarsnotas is:

Kleine Zalze Cleefs Reserve Collection, Chardonnay 2017

Die spanleier, Laura Rhys MS, het die goeie waarde geloof en sonder die wyn se groot kompleksiteit vir die prys uit. Die paneel het dié sentiment gedeel. Claire Love van Loves Consultancy het die balans tussen “speseryagtigheid en romerige eikehout” en die “lewendige suurlemoen- en blomgeure” besing. Subtiele skeutjies crème brûlée en eikehout gee tekstuur, het Street XO se Raphael Thierry, gesê, maar “die ryp steenvrugte eindig vars”.

Kleine Zalze Family Reserve, Cabernet Sauvignon 2015

“’n Pragtige Stellenbosch-uitdrukking”, “swart vrugte en bloubessies, met blomgeure van lelies en goeie balans,” het Ieva Markaityte van Portuguese Concepts verklaar. Die spanleier, Tom Forrest, het gepraat van “’n aardsheid, met sagte tanniene en sederspeserye”, terwyl Hakkasan se Olivier Gasselin dit “groot en gekonsentreerd, met ’n blaar- en speseryagtige aroma, sappig op die tong met stywe tanniene” gevind het.

Kleine Zalze Family Reserve, Chenin Blanc 2017

“Jy het hierdie wyn op jou wynlys nodig!” het Roberto Sanchez van Sexy Fish verklaar. Hy het die wyn beskryf as intens op die neus, met skeutjies geroosterde brioche en ’n “pragtige ryk en romerige tekstuur en ondersteunende suur”. Suave Wine se Joseph Lunn, wat van die “vars mineraalagtigheid en groot kompleksiteit met goeie balans” gepraat het, voor hy dit ook in terme van “geure van ryp suurlemoene en lemmetjies en ’n kruiagtige roosmaryntakkie” beskryf het.

Kleine Zalze Family Reserve, Shiraz 2015

“’n Volwasse wyn!” het Joseph Lunn van Suave Wine verklaar. “Dis baie Nuwe Wêrelds, met lieflike balans.” Sarah McKenzie van Nut Tree Inn het dit as “liplekker” met rokerige swartbessie, sappige vrugte en goeie tanniene beskryf. Giuseppe Longobardi van The Cross Kenilworth, Simpsons & Edgbaston het saamgestem, en bygevoeg daar is sjokolade en tabak op die tong, “soet en gebalanseerd, wat lank, vars en skoon eindig”. “Dis ’n monster,” het die spanleier, Martin Lam, bygevoeg.

Kleine Zalze Vineyard Selection, Chenin Blanc 2018

Carolina W Seibel van Moio Restaurant het die “groen varsheid en kompleksiteit, goeie vrugdiepte en lang lewensduur” geprys, terwyl Cavalry & Guards Club se Andre Luis Martins die ryp perske en wit speserye, wat tot ryp geelpruim op die tong lei, geproe het. Harry Ballmann van Wiltons het diepte en balans en skeutjies kamille in die wyn neergepen.

By die aankondiging van die titel is van links: Hatch Mansfield se HUB, Patrick McGrath, Sommelier Wine Awards se Micaela Martins Ferreira, Kleine Zalze se besturende direkteur en eienaar, Kobus Basson, en RJ Botha, Kleine Zalze se wynmaker.

Bo en behalwe die reg om te spog, het Kleine Zalze se gouemedaljewenners nou by die ander wenners in die Goue SWA-boek aangesluit wat die voorreg het om die titel te dra as Suid-Afrikaanse wyne wat aan meer as 12 000 VK-restaurante en VK-spesialis- onafhanklike wynverkopers lewer.

SWA is die enigste kompetisie wat net op die restaurantbedryf fokus. Dit word beoordeel deur ’n paneel van top-sommeliers en top-restaurant-drankaankopers en beloon die beste wyne wat in restaurante, kroeë en hotelle in die VK en verder beskikbaar is. Al die wyne word per kategorie blind geproe en die vereistes sluit onder meer in kosvriendelikheid, veelsydigheid, persoonlikheid en – die belangrikste – waarde vir geld teen watter prys ook al.

Die SWA se hoof van beoordeling is Christine Parkinson, die groep-wynaankoper vir die multinasionale, Michelin-bekroonde Hakkasan-restaurantgroep.

Kleine Zalze het ’n internasionale aanhang opgebou deur die nastrewing van ’n standvastige filosofie: lojaliteit aan kliënte, ’n voortdurende reik na kwaliteit en deurlopendheid en die onderneming om sterk verhoudings te bou. Dié aanslag het die landgoed gehelp om sukses in Suid-Afrika, Europa en die VSA te behaal sowel as om die Chinese mark te betree.

  • Foto’s: Clifford Roberts
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top