
Titel: Small things like these
Skrywer: Claire Keegan
ISBN: 9780571368686
Uitgewer: Faber
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Claire Keegan het in 2022 die Orwell-prys vir politieke fiksie gewen en het die kortlys van Booker-prys met hierdie lieflike klein roman gehaal.
Small things like these is klein. Dit beslaan slegs 110 storiebladsye. Die bladspieël is boonop klein, die skrif is betreklik groot en los geset. Ek vermoed daar is minder as 30 000 woorde in die roman.
Moet egter nie die fout maak om hierdie boekie vlak te kyk nie. Keegan bied ’n meesterklas aan; met min woorde breek sy ’n wêreld oop.
Die karakters
Die verhaal speel in 1985 in Ierland af.
Die hoofkarakter en fokaliseerder is Furlong, ’n eenvoudige man met ’n vrou en vier meisiekinders. Hy is die seun van ’n ongehude ma en ’n onbekende pa. Dit sê al klaar iets – onthou in Ierland was die Katolieke kerk baie sterk – veral in daardie dae. Dit was soos die NG Kerk hier in Suid-Afrika.
Ten spyte van sy geringe agtergrond is Furlong nou die baas van ’n belangrike besigheid. Hy verkoop hout en steenkool aan die dorp en het ’n hele klompie mense in diens.
Ons klim saam met hom in die lorrie. So leer ons die dorp ken.
In die bitter koue werk Furlong hard, want hy is die man wat sorg dat daar hitte in die dorp se huise en stowe is. Dit is kort voor Kersfees en snerpend koud. Mense koop dus ekstra, want Furlong gee sy mense af die week ná Kersfees. Dit beteken natuurlik dat hy en sy span nou ekstra hard werk.
Een van sy groot klante is die klooster. Hulle bestel gereeld en betaal dadelik. Hy doen dus moeite om hulle bestellings uit te voer.
Wanneer hy eendag onverwags by hulle opdaag, ontmoet hy ’n aantal meisies wat vreemde dinge vir hom sê. Vra Furlong egter daaroor uit in die dorp, maak almal wat hy ken, sy vrae dadelik af as nonsens. Die gevalle meisies daar in die klooster word gehelp, hoor Furlong, en in ruil daarvoor help hulle soms om die wasgoed te was. Die klooster maak immers hulle geld deur die dorp se wasgoed skoon te hou.
Wanneer Furlong egter een snerpende oggend ’n meisie in die steenkoolhok ontdek, klop hy aan by die klooster en word dadelik vertel dat sy wegkruipertjie gespeel het. Hy kry warm tee en koekies, plus ’n Kerskaartjie met ’n allemintige 50 pond daarin.
Furlong is ’n eenvoudige man en hy moet vir sy gesin sorg, maar tog begin hy verder invra. Hoe meer hy egter oor die klooster vra, hoe duideliker word dit dat die hele dorp hulle oë sal wegdraai en hulle monde sal hou oor enige iets wat daar gebeur.
Moet hy iets doen?
Kán hy iets doen?
Gaan hy wat Furlong is, dalk dié een keer in sy lewe opstaan vir iets waarin hy glo?
’n Enkelma
Die kwessie van die vergrype in die klooster is die kern waarom die boek draai, maar Furlong se begeerte om meer oor sy pa te wete te kom, is ook ’n belangrike deel van die boek. Sy eie ma was gelukkig. Sy is nie weggestuur na die klooster nie. Haar werkgewer het haar toegelaat om aan te bly en Furlong het in die werkgewer se huis grootgeword.
Hoe meer Furlong van die klooster se doen en late agterkom, hoe meer besef hy dat hy gelukkig was; meer nog, dat sy ma ontsettend bevoorreg was.
Ek het verlede week gesels met ’n Suid-Afrikaanse vrou wat in Ierland gebore is en aangeneem is. Sy het onlangs haar biologiese ma se gesin opgespoor daar in ’n klein, Ierse dorpie. Baie van die verhale wat sy my oor haar biologiese gesin vertel, stem ooreen met die karakters in hierdie boek.
Haar ma was egter nie ’n slagoffer van die Magdalene-orde nie.
Die Magdalene-orde
In 2002 het Peter Mullan ’n grufilm oor hierdie orde gemaak. Ek is baie bly ek het The Magdalene sisters gesien, en enige iemand wat meer oor die orde wil weet, kan gerus moeite doen om dit te kyk. Wees egter gewaarsku dat dit baie erg is; dit is inderdaad moeite om daardeur te sit.
Ongelukkig het hierdie orde werklik bestaan, en duisende vroue het reeds stories oor mishandeling in daardie kloosters vertel. Sinéad O’Connor was ’n ruk lank in hulle sorg – skynbaar weens beweerde winkeldiefstal.
Die laaste van hierdie wasserye is eers in 1996 gesluit.
Peter Mullan klim kaalvuis in en hy slaan hard. Claire Keegan se Small things like these is glad nie so erg nie. Juis nie. Keegan skets nie ’n grootse probleem nie; sy fokus op klein dingetjies, op dit wat mense nie sê nie, op dit wat hulle nie doen nie.
Keegan slaag daarin om ’n mooi storie oor ’n eenvoudige mens te vertel. Jy hou van Furlong; jy wonder saam met hom of hy moet kies tussen kos op die tafel en iets heldhaftig.
Waar Mullan ’n woedende film gemaak het wat fokus op die vergrype van die kerk, skryf Keegan ’n klein roman oor ’n klein mensie wat gekonfronteer word met die mooi en die lelik van die kerk.
Mullan loop die orde storm en stroop hulle – letterlik; daar is heelwat kaal lywe in sy film.
Keegan hou die bose mense agter mure en fokus op die mooi, eenvoudige lewe van diegene wat gedomineer word deur die mag van daardie klooster. Tog, al fokus sy op die mooi, bly die donker klooster juis daarom ’n realiteit daar op die bult.
In Karel Schoeman se Ierse roman, By fakkellig, word ’n betreklik welaf persoon aan armoede bekendgestel. Dit verander sy uitkyk. Keegan hou dit nog eenvoudiger. Furlong leer al hoe meer, maar hy bly op die periferie. Hy is deel van die probleem en hy weet nie hoe om dit op te los nie.
’n Magiese of ’n onbenullige Kersfees?
Die naam Furlong is interessant, want ’n furlong is ’n bekende mate in Brittanje en Ierland. ’n Furlong is naamlik een agste van ’n myl, of 220 jaart. In ons mate is dit net meer as 201 meter, ’n klein, byna niksseggende afstand.
Op Kersaand moet Furlong, die man, die pa, die sakeman, besluit: Gaan hy klein en onbenullig bly, of juis nie?
Lees Small things like these. Ek gaan beslis nie die einde verklap nie!
Small things like these is ’n klein boekie wat ’n groot prys gewen het. Met reg.



Kommentaar
Ek stem saam met die resensent: 'n wonderlike boek.
Die boek was op die kortlys van die Booker-prys, maar het nie gewen nie. Die wenner was "Seven Moons of Maali Almeida".