Klaskamerklets: Onderhoud met Mariehetta Matthee

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies.

Hierdie week gesels ons met Mariehetta Matthee, skoolhoof van Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, wat nog elke dag in die Afrikaans-klas staan.

Wat is vir jou die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Oor die algemeen: Hoor maar wat sê die media oor taalgebruik en dissipline.

By ons skool … Natuurlik is daar ’n gebrek aan taalvaardigheid. Daarom het ons ’n program aangekoop en ’n onderwyser aangestel om die leerders te leer lees. Die agterstand moet ingehaal word.

Beslis nie dissiplineprobleme nie, maar wel gebroke huise. Kinders het dikwels nie ’n seker vastrapplek buite die skool nie. Dit maak hulle onseker en dit maak hulle optrede verwronge.

Daaruit spruit boelies, negatiwiteit en swak skoolprestasie.

Wat is vir leerders vandag die grootste uitdaging?

Koop Kaar by Kalahari.com

 Die wêreld is groot, in teenstelling met die elektroniese medium, wat dit klein en maklik bereikbaar maak.

Daar is baie om uit te kies … splinternuwe beroepe, universiteite wat hulle makliker aan die leerder bekendstel via die tegnologie.

Geld: Beurse is nie so geredelik beskikbaar nie. Sestigpersenters in die matriekeksamen kry dikwels nie beurse nie, maar hulle het ook nie beroepsopleiding nie – gevolglike werkloosheid.

Leerders moet geestelik/moreel versterk word vir die aanslae van die lewe. Hoe maak ek ’n verantwoordelike, sinvolle keuse as alles so moontlik en bereikbaar is?

Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdagings van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid, grit – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

 “Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”

Soveel te meer is leerders wêreldwys … onderwysers se waardesisteem moet vas staan om die aanslae met geduld af te weer.

“Empatie”, “omgee” staan in hoofletters by elke klas- en vakonderwyser. Elkeen in die klas moet raakgesien en aangeraak word.

Humor maak elke situasie makliker.

Kreatiwiteit van die onderwyser neem dikwels die plek in van die tegnologie in die klas. Jy word die tegnologie waaraan die kinders tog so verkneg is!

Entoesiasme buite die klas verruim ’n kind se lewe. Dit beteken dat die onderwyser tyd opoffer. Ekstra toere, uitstappies, planne om aan die leerders meer ervaring te gee, laat kinders blom. Hierdie aansteeklikheid word weer teruggevoer na die klaskamer. Oor ’n tydperk van 30 jaar is Daleen Matthee se Kringe in ’n Bos aan en af behandel. Telkens ’n staptoer in die Knysnaberge laat die kinders leef vir die boek … Dalk – net dalkies – kan ons die mooie Saul in die Bos raakloop.

Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klas gebeur?

 Ken die leerders by die naam.

Spreek elkeen direk aan.

Gebruik die stelsel: “Ask a Friend” – ’n kreatiewe speelsheid wat die kind dwing om te antwoord.

Weeg elke antwoord, laat die kind goed voel oor die poging en stuur haar antwoord na die regte antwoord.

Probeer tyd maak vir elkeen se mening … net nie op een dag nie!

In watter mate het jy toegang tot, en maak jy gebruik van, tegnologie in jou klaskamer?

 Dit is soms beskikbaar. Vanaf 2015 beoog ons om elke klas toe te rus met die nodige toerusting, want die leerders skakel oor na die tablette.

Poësie word visueel makliker, begrippe duideliker. Dink hoe die kunswerke van Van Gogh die gedig “Vincent van Gogh” verstaanbaar maak.

Gelukkig is die leerders skerp met die tegnologie. Sorg net dat jou voorbereiding reg is; die leerders help met die aanbieding!

Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

 LitNet.

My eie bibliotekie.

Google: Let wel, MEVROU Google – sy weet alles – nes alle vroue!

Om die letterkunde landwyd op dieselfde vlak aan te bied en na te sien, vra gelyke aanbieding. Hierdie stof ontvang ons.

Dit is dus daardie bywerk waarna jy self gaan soek.

Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerders wat onderpresteer te ondersteun?

 Herhaling.

Skryf volledige aantekening by skryfwerk wat ingegee word.

Wat glad nie werk nie, is dat hulle na mekaar se stelwerk moet kyk. Hulle sien self
nie die foute raak nie. Sien dus self na.

Terugvoer is die stapelvoedsel van wenners.

“Buddy”-groepe om elkeen se probleem vas te stel en dan aan te moedig.

Onderwysers se spreekure gedurende die middae … dus ekstra klas op ’n gratis basis.

Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

 Moedig hulle aan om te lees – wýd te lees. Hulle het gewoonlik meer tyd en ’n honger na kennis. Hulle sal nog ’n boek inpas.

Verwys na webwerwe.

Leer nuwe koerantwoorde in die klas aan. Verruim hulle woordkennis/woordeskat.

Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

 Ouers inroep of die leerder dissiplinêr verhoor.

Dis nie ’n algemene probleem hier nie.

Liewer nie daardie wegblyaksie nie omdat daar nie genoeg ondersteuning tuis is nie.

Praat, praat, praat en dan die sielkundige se hulp inroep.

Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

 Gedigte.

Die funksiewisseling van woorde: soos “word” as koppelwerkwoord of hulpwerkwoord.
Onderwerp- en voorwerpsinne.

Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

Geduld.

Dwing die leerwerk op hulle af – verstaan hang dikwels van kennis af.

Het jy ’n les of les-idee wat goed gewerk het en wat jy bereid is om met LitNet te deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

 Sjoe, hieroor moet ek dink!

Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of film(s) het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Klimtol deur Etienne van Heerden.
Sondag op ’n voëlplaas deur Johann Nel.
Die bleek man op my hakke deur Harriet Christou.
Kaar deur Marlene van Niekerk.

Herlees: Die jaar toe my ma begin sing het deur Engemi Ferreira.

 
Kontak Carine Janse van Rensburg by carine@litnet.co.za as jy graag wil klaskamerklets.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top