Klaskamerklets: Onderhoud met Erna Steenkamp

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies.

Hierdie week gesels ons met Erna Steenkamp, departements- en graadhoof by Hoërskool Durbanville, ’n voorstad van Kaapstad. Sy onderrig Afrikaans van graad 8 tot 12.

Wat is die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Om die leerders se ogies blink te hou, want hulle word so gebombardeer met al die negatiwiteit in ons land. Dit is soms asof hulle hierdie wonderlike drome het, maar dan as gevolg van die neerdrukkende mediaberigte hoop verloor.

Wat is vir die leerders vandag die grootste uitdaging?

Leerders moet die regte keuses maak: hulle waardesisteem moet baie sterk staan teen die aanslag van buite. Werkloosheid en finansiële onkoste verbonde aan studies is ’n groot uitdaging.

Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdagings van die beroep die hoof te bied?

’n Onderwyser wat geesdriftig en positief is oor die lewe het beslis ’n positiewe invloed op sy/haar leerders. Veral ook die feit dat jy telkens vir hulle sê jy glo in hulle; hulle kan uitstyg bo die gemiddelde. Humor is baie belangrik: “Angels can fly because they take themselves lightly” (uit ’n voorgeskrewe werk: Die kwart-voor-sewe-lelie). Verder is kommunikasie, ’n oor om te luister en raad te gee is baie noodsaaklik.

Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klaskamer gebeur?

Ken elkeen van jou leerders; luister na hulle menings en laat hulle goed voel oor hulle antwoorde. Betrek die leerders in jou voorbeelde. As ek byvoorbeeld ’n sin op die bord skryf, gebruik ek elke keer ’n leerder in die klas se naam met sy/haar sterkste/beste eienskap. Hulle voel spesiaal en geniet dit.

In watter mate het jy toegang tot, en maak jy gebruik van, tegnologie in jou klaskamer?

Ek kry hopelik in 2015 die nodige toerusting in my klas. Wil so graag die wêreld van poësie na die leerders self bring. Wil vir hulle die visuele in ’n gedig laat sien en so ook dat hulle die begrippe makliker sal verstaan.

Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

Natuurlik LitNet. En ook Google. Ek raadpleeg alle moontlike bronne en gebruik die stof wat ons deur ons vakadviseur ontvang. Die leerders wil daardie ekstra inligting rakende ’n skrywer/digter se agtergrond hoor. Bring ook die geskiedenis en aardrykskunde in. Afrikaans is ’n vak wat hom leen tot baie interessante bykomende inligting.

Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerders wat onderpresteer te ondersteun?

In hulle kreatiewe skryfwerk gee ek volledig terugvoering en aanbevelings om foute en manier van sê te verbeter. Ons werk baie voorbeelde in ou vraestelle uit en so sorg ek dat ek inligting baie herhaal. Ek moedig hulle aan om aan te sluit by studiegroepe op die sosiale media – dit werk! Die belangrikste is dat hulle selfvertroue moet kry en moet ervaar hulle beter kan vaar.

Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Skryf hulle skryfwerk in vir kompetisies. Moedig hulle aan om aan olimpiades deel te neem. Lees, lees en nogmaals lees. Hulle ruil leesboeke uit en bespreek dit in ’n studiekring. Verder bespreek ons baie onderwerpe/nuusgebeure in die klas en dit brei ook hulle woordeskat uit.

Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

Praat, praat, moedig aan, probeer raaksien waar hulle iets reg/goed doen en prys hulle dan daarvoor. As dit nie help nie, kry hulle gedragskaarte en word hulle daagliks deur al hul vakonderwysers gemonitor. Hulle ouers word gekontak en ook gedwing om verantwoordelikheid vir hul kinders te aanvaar. Dan is daar natuurlik ’n dissiplinêre ondersoek, maar dit gebeur selde in ons skool.

Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Poësie, en dan natuurlik ontleding van sinne.

Ek oefen, oefen totdat leerders die selfvertroue het om dit te verstaan. O ja, geduld – sal nooit vir hulle wys ek is al moeg om oor en oor te verduidelik nie.

Watter film het ’n blywende impak op jou gemaak?

Die Wonderwerker.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top