Klaskamerklets: Onderhoud met Carline Janse van Rensburg

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies.

Hierdie week gesels ons met Carline Janse van Rensburg, Afrikaans-onderwyser by die Hoërskool Claremont in Claremont. Sy onderrig Afrikaans Eerste Addisionele Taal van graad 8 tot 12.

Wat is die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Die onderwys is ’n interessante beroep: daar word van onderwysers verwag om leerders te inspireer, te dissiplineer, te motiveer en allerhande ander eerbare “-eer’e” te doen, maar tog word die onderwys deur baie mense gesien as ’n vangnet-beroep. Onderwysers moet dikwels soveel baadjies deur die skooljaar aantrek: opvoeder; vakspesialis; sielkundige; skool-ma of -pa; sport-organiseerder en dit alles nog voor jy na jou eie gesin omgesien het. Myns insiens is die grootste uitdaging in die breë onderwys om talentvolle onderwysers te lok en te behou. Vir Afrikaans as vakgebied is die grootste uitdaging om te waak daarteen dat jou passie nie versmoor word deur al die burokrasie wat daar vir ons bestaan nie.

Wat is vir die leerders vandag die grootste uitdaging?

Daar word baie van vandag se leerders verwag. Hulle skooldae is vol; hulle moet harder werk om na skool sukses te behaal en die sprong tussen hoërskool en tersiêre opleiding is dikwels waansinnig groot. Voeg daarby saam die sosiale en maatskaplike probleme wat aan die leerders se enkels byt en dis byna ’n resep vir Hunger Games: School.

Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdagings van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid en grit byvoorbeeld – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Jy sal sonder hierdie eienskappe nie lank in die onderwys oorleef nie. Vir my is dit noodsaaklik om jou te omring met kollegas wat jou inspireer, maar ook uitdaag om beter te wil doen. Mens kan so maklik ingesuig word in die negatiwiteit wat daar rondom die onderwys bestaan en hierdie tipe kollegas maak skoolhou lekker.

Tweedens is dit belangrik om bietjie van al die spanning te vergeet en iets buiten skool te vind wat niks met skool te doen het nie, maar jou ongelooflik baie plesier verskaf. Vir my is dit koor-sing. Ek gaap saam met al my ander koor-vissies my sorge weg en soos Nataniël gesê het almal los jou uit, want niemand dink more vat ons bietjie die kore vas nie!

Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klaskamer gebeur?

Kinders koop net in op ’n les as hulle deel daarvan is; óf dit nou hulle verwysingsraamwerk aanspreek, óf wanneer hulle deel is van die beplanning. Aan die einde van elke jaar gee ek my leerders, anoniem, kans om vir my eerlike terugvoer te gee. Ek vra vrae soos wat het, volgens hulle, in die klas gewerk en wat het nie? Watter tema het hulle die meeste geniet en waarvan sou hulle meer wou sien? Dit is verbasend om te sien hoe regverdig hulle terugvoer is. Wanneer hulle stem gehoor word en hulle kan sien jy luister en neem wat hulle sê ter harte, koop hulle in op die les.

In watter mate het jy toegang tot, en maak jy gebruik van, tegnologie in jou klaskamer?

Ek is in die baie bevoorregte posisie om oor ’n rekenaar, interaktiewe witbord en projektor in my klas te beskik. Daar gaan nie ’n dag verby wat ek dit nie gebruik nie. Die kinders leef in ’n digitale era en ek gebruik dikwels e-gereedskap te vinde op www.classtools.net. Daar is ook ongelooflike literatuuraanbiedings beskikbaar op prezi.com ontwerp deur onderwysers soos Tiaan Lötter. Ek het ook onlangs begin kyk na e-lesse en het ’n wonderlike mentor, Danie Boneschans (www.danieteach.com), wat vrylik sy tyd en wysheid deel.

Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

LitNet help met die akademie, maar dit is so belangrik om jouself in te burger by ’n netwerk van onderwysers wat deel en aanstuur en help. Die onderwys kan so oorweldigend wees as jy hierdie ding alleen probeer aanpak en dit help nie as die wiel driehonderd keer oor “uitgevind” word nie. Verbeter saam, anders as om alleen voort te sukkel.

Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerders wat onderpresteer te ondersteun?

Klasse is dikwels groot en die kinders het individuele aandag nodig en dit is onmoontlik vir een onderwyser om by almal uit te kom. Ek het ’n “buddy-sisteem” en werk in klein groepe van 6 in my klas. Ek het dus 6 groepe, bestaande uit 6 leerlinge, per klas. Baie navorsing is al gedoen oor die waarde van eweknie-onderrig (peer tutoring) en ek vind dit werk in praktyk ook! Een van my leerders se punte het met 25% gestyg! Hulle eerste stop om hulp, wanneer hulle iets nie verstaan nie, is dan nie die onderwyser nie, maar hulle klasmaats. Klasmaats verduidelik dit dikwels met behulp van voorbeelde en verwysings na die ervaringswêreld van die tiener waarvan die onderwyser nie veel weet nie en so maak dit vir hulle baie meer sin. En dit is dan nie die sterkste kandidaat wat dan al die leerders help nie; jou punte is mos verspreid en selfs al doen sy “buddy” net 5% beter, is dit 5% wat hy nie weet nie en mee kan help. Die beste vorm van leer is om die werk so te verstaan om dit vir iemand anders te kan verduidelik. Dit verdwerg ook nie die rol van die onderwyser nie. Ek stap steeds rond en help as hulle die pot mis sit. Natuurlik moet die dissipline steeds behou word.

Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Ek probeer in daardie 10 minute spaar van my les ’n interessante boek voorlees wat dalk bietjie moeiliker is as wat die sillabus sê hulle moet doen. Dit hou die klas stil en gelukkig en die leerders wat sukkel, lê dikwels net op hulle arms en luister na juffrou se stem. Dikwels lees ek ’n gedig voor wat buite hulle voorgeskrewe werk is en dan bespreek ons dit vinnig. Of ek vertel hulle van die lewens van ons interessante en eksentrieke skrywers soos Eugène Marais.

Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

Ek is nogal ’n streng opvoeder en ek stel hoë eise van my studente waarnatoe ons hard saamwerk, so hulle weet hulle moenie my tyd in die klas mors met swak gedrag nie. Ek het al gehoor dat ek, nes Antjie Krog se ma, ook kan beitel met my oë.

Ons word verder ook fantasties ondersteun deur die skool op bestuursvlak en as dit moet, weet ek ek kan maar die vrymoedigheid hê om hulle na die graadhoof toe te stuur as hulle nie na my wil luister nie.

Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Dit is nie soseer inhoud as wat dit vaardighede is nie: leerders sukkel om kreatief te skryf; veral langer tekste. Hulle sukkel met die fynere kunsies en om ontslae te raak van al die onnodige inligting.

Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

My leerders weet dit nog nie, maar in 2015 gaan hulle skryf dat die wilde waks wit staan om hulle. William Styron het gesê (losweg vertaal): om te skryf, is hel. Al raak hulle self nie versot daarop nie, sal hulle minstens skrywers begin waardeer veral die fynere nuanses van speel met taal. Ons gaan dit oefen en oefen en oefen en nogmaals oefen. Ek gaan baie meer tyd daaraan spandeer om rowwe kopieë te redigeer en hulle dan te help om dit te verfyn.

Watter onderrighulp sou jy graag op LitNet wou kry?

Daar is ’n fantastiese webtuiste http://afrikaans-afrikaans.weebly.com/ wat onderwysers probeer ondersteun nie net met bronmateriaal nie, maar ook administratief met onder meer puntelyste en beleidsdokumente en dies meer. Dit word onderhou deur ’n Gautengse onderwyser. Dit sal van soveel waarde wees as LitNet so iets kan doen vir die Wes-Kaap, of bloot net skakels soek en dit kategoriseer sodat onderwysers net na LitNet toe kan gaan en van daar af soek wat hulle nodig het. Dit steel so baie van my tyd as ek ure op die internet moet spandeer op soek na bronne. As LitNet ook kan help met die samestelling van bronne soos advertensies, strokies en begripstoetse waarvandaan onderwysers vrae kan opstel sal dit my lewe baie vergemaklik.

Het jy ’n les of lesidee wat goed gewerk het en wat jy bereid is om met LitNet te deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

Klik hier Carline se luistertoets oor Nataniël se kostafel af te laai

Natanël se "Krisis Kos"

Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of films het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Ek het nou eers by Siegfried van Willem Anker uitgekom. Wonderwerker was vir my en my graad 11’s ’n belewenis en ek was so ontsteld nadat ek Junie-vakansie Verraaiers gekyk het dat ek vir drie dae daarna nog beduiweld was.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top