KKNK se Teksmark-vernuwing bekroon: ’n onderhoud met Hugo Theart

  • 0

Hugo Theater (foto: Jeffrey Abrahams)

’n Kunstefees is ’n ervaring. ’n Ervaring van kuns en kultuur. Dit is ’n plek waar mense bymekaarkom om te ontspan, te kuier, te gesels, te debatteer en geprikkel te word. Dit is ’n kreatiewe inspuiting wat mense saam met hulle dra. ’n Kunstefees behoort dus aan feesgangers ’n allegaartjie van aansporing te bied wat hul laat dink, ontspan en aan die gesels kry.

Suid-Afrikaanse kunstefeeste het ook ’n baie belangrike rol om te speel in nasiebou en om ’n voorbeeld te wees van wat ons land en die wêreld kan wees. Kunstefeeste is brugbouers van die samelewing waar mense van alle dele van die samelewing met verskillende agtergronde, tale, kulture en gelowe bymekaarkom en op konstruktiewe wyse met ons menslikheid worstel. Dit is die kunste wat ons anders kan laat dink en wat krap waar niemand wil krap nie. Deur die kunste kan ons heel.

’n Kunstefees het ook ’n verantwoordelikheid om te kyk na watter impak die kunste in die gemeenskap, of die dorp waarin dit plaasvind, kan maak.

ʼn Kunstefees durf egter nooit ’n platform vir propaganda van benoude ideologieë te wees nie; ’n laertrek van eksklusiwiteit nie. ’n Plek waar substandaard werk aangebied word nie.

Dit is die mening van Hugo Theart, die waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk by die KKNK op Oudtshoorn.

Kunste Onbeperk se Teksmark is pas met ’n Fleur du Cap-teaterprys vir vernuwing vereer vir dié projek se strewe om Suid-Afrika se eietydse teater te ontwikkel deur die voorsiening van ’n markplein vir plaaslike dramaturge.

Die beoordelaars het die Teksmark geprys vir sy doel om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en ’n geleentheid vir dramaturge te skep om hul idees en tekste aan belangstellendes in die teaterbedryf bekend te stel. Teksmark het toegesien dat oorspronklike inhoud die lig sien, wat ’n uiteenlopende reeks Suid-Afrikaanse stories verken en nuwe teaterstemme verhef.

Die eerste Teksmark, wat in 2016 plaasgevind het, was ’n reusesukses. Dit was meer as net ’n voorlegging van tekste. Dit het uiteindelik ook ’n platform vir openhartige gesprek oor die werk, prosesse en verskeie kwessies in die bedryf geword. Daar is reeds vyf tekste uit die eerste Teksmark ontwikkel en verlede jaar is op daardie welslae voortgebou soos wat meer rolspelers betrokke geraak het.

Wat beteken die Fleur du Cap-toekenning vir jou en Kunste Onbeperk?

Dit is wonderlike erkenning en ons is baie dankbaar. Teksmark is ’n projek wat my na aan die hart lê. Een van Kunste Onbeperk se doelstellings is om met verskeie platforms ’n bydrae in die ontwikkeling en ondersteuning van kunstenaars en ons land se kultuur te lewer. Dié erkenning is ’n pluimpie en aanmoediging dat ons op die regte pad is.

Hoe het die gedagte aan die Teksmarkprojek ontstaan?

Die gedagte was om letterlik ’n mark vir tekste of idees vir nuwe tekste te skep en om weg te beweeg van ’n kompetisie en nét ’n paneel wat ’n paar tekste lees en een “wenner” kies. Om aan skrywers ’n geleentheid te gee om hul idees voor te lê aan rolspelers in die bedryf – feeste, teaters, borge en vervaardigers. Skrywers moet gewoonlik meestal alleen werk en skryf ’n volle teks in die hoop dat iemand êrens in hul teks sal glo en dit sal vervaardig. Met jong skrywers is daar ook nie genoeg mentorskap nie en die probleem is dat ’n eerste weergawe gewoonlik op die verhoog gesit word voor dit reg is. Dit is belangrik om in skrywers te belê sodat hul die nodige tyd kan afstaan om te skaaf en skuur. Die gedagte was om ’n platform te skep waar die rolspelers saam kan werk en saam kan belê in nuwe tekste, om sodoende waardige, deurdagte en afgeronde werk op ons verhoë te plaas.

Hoe volhoubaar is die projek?

Alhoewel daar reeds wonderlike tekste uit die Teksmark ontwikkel is, het ons nog ’n ver pad om te loop. Die ware sukses sal wees as ons meer befondsing kan genereer om skrywers langtermyn te ondersteun en waardevolle deurlopende mentorskapprojekte kan daarstel. Ons wil nuwe skrywers ontdek en ondersteun, maar dit is net so belangrik om ons skrywers wat reeds uitstaande tekste gelewer het, ook te kan ondersteun sodat hulle kan fokus om nog werke van waarde te lewer. Dit is belangrik om ons stories te vertel. Verskillende stemme te ontwikkel. En by te dra tot die klassieke skatkis van ons letterkunde.

Alhoewel die Teksmark ’n inisiatief van Kunste Onbeperk is, kan dié projek ’n bydrae lewer alleenlik as die hele bedryf eienaarskap neem en dit as ’n gesamentlike geleentheid benut. Die Teksmark sou beslis nie sonder die ondersteuning van verskeie rolspelers moontlik gewees het nie – veral die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxterteater-sentrum is van onskatbare waarde, asook verskeie feeste en organisasies wat met oorgawe deelneem om tekste by die Teksmark te identifiseer en finansieel in die ontwikkeling daarvan te belê.

Wat is die uitdagings in die verwesenliking van kreatiwiteit?

Die uitdagings is steeds om genoegsame tyd en befondsing te vind om die skrywers saam met regisseurs die geleentheid te gee om tekste ordentlik te ontwikkel. Die uitkomste wat ons nou reeds gesien het, is ongelooflik. Marina Albertyn het nie net self twee pryse vir haar teks, Melk en vleis, ontvang nie, die produksie het ook reeds verskeie pryse ontvang. So ook Amee Lekas se Die dans van die Watermeid – wat ook genomineer is as inheemse teks by die Fleur du Cap-pryse en ook nominasies vir die produksie ontvang het. Daar is opwindende ander tekste wat nou as produksies ontwikkel is, soos Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier en ’n teks wat by die KKNK debuteer: Bauke Snyman se Swerfgoed.

Daar word dikwels in kunskringe beweer teater is oppervlakkig; party kritici bespeur ʼn insinking. Is daar ʼn verskil tussen kuns en vermaak? En waar pas gehalte in?

Verskillende mense word deur verskillende dinge vermaak. Uiteindelik is dit belangrik om gehalteteater aan te bied – in enige genre. Teater wat met vaardigheid en eerlikheid aangebied word, sal altyd goeie vermaak wees. Kuns kan vermaak wees. En vermaak kan kuns wees.

Die KKNK en die teaterlandskap het die afgelope 24 jaar drasties verander. Wat is feesgangers se behoeftes nou?

Ons ding nou met nuwe tegnologie en vermaak mee wat nie voorheen so vrylik beskikbaar was nie. Ek dink teatergangers in 2018 soek eerlike werk. Hulle soek gehaltewerk. Gehore is, soos enige ander verbruikers, altyd op soek na iets meer opwindend; iets anders – maar hul belê ook en keer terug na ’n gehalteproduk. Die ekonomie druk en mense soek waarde vir geld. Jy moet vir hulle ’n besonderse ervaring bied. Ek glo dat teater in wese ’n besonderse ervaring is.

Is die groot aanbod feeste in die land nie dalk té oordadig nie?

Die verskillende feeste dien verskillende gehore in verskillende gebiede. Natuurlik is ’n ooraanbod gevaarlik. Maar of jy nou ’n fees of ’n teater of ’n produksiehuis is, as jy vir jou gehore gehalte bied en sorg dat hul waarde vir hul geld kry, sal hulle terugkeer. Feeste wat vir hul gehore ’n unieke ervaring bied, sal lewensvatbaar wees.

Waarop fokus die KKNK vanjaar?

Met die samestelling van die 24ste KKNK-program was dit vir ons belangrik om ’n gebalanseerde program in alle genres aan te bied. Ons fokus op familievermaak (met byvoorbeeld ’n besonderse produksie soos Babbelagtig) en werke wat tot ’n eietydse Suid-Afrika spreek. Uiteenlopende intieme eg Suid-Afrikaanse musiekervarings soos Lepeltjie vol snare. ’n Fees waar jy waarde vir jou geld kan kry en waar kuns toeganklik vir almal is.

Hoe gaan die KKNK aanstaande jaar die kwarteeufees vier?

Ja, volgende jaar vier die KKNK inderdaad 25 jaar! Dis ’n groot een! Dit sal ’n jaar van introspeksie wees: ons kyk terug, maar ons kyk ook vorentoe. Verskeie projekte word reeds beoog. Die direksie en bestuur van Kunste Onbeperk is doelgerig besig om met die KKNK en al ons ander projekte in die volgende paar jaar daadwerklike verskille op Oudtshoorn en in die omgewing, maar ook in die res van die land, te bewerkstellig – sosiaal, in die kunstebedryf en ook ekonomies. Ons wil volhoubare projekte aanpak wat langtermynstabiliteit en waarde bied.

Waarna streef die KKNK?

Ek wil toesien dat ons deur die kunste en ook deur Afrikaans ’n werklike verskil maak op Oudtshoorn en ook in ons wonderlike land. Wat die kunste betref, hoop ek dat ons kan bydra om meer standvastige strukture vir ons kunstenaars te skep. Ons moet na ons kunstenaars kyk. Ons moet vir hulle ruimtes skep waarin hulle kan asemhaal en werk van waarde kan skep en kan kreatief wees. Ons móét in hul toekoms belê.

Gemeet aan die tydsgees waarin Suid-Afrikaners hul bevind, hoe gesond is die kunstebedryf?

Ek dink daar is opwindende werk wat gelewer word, maar onder moeilike omstandighede. Dit is wonderlik dat daar nuwe stemme gehoor word en dat ons teater almal se stories begin vertel. Op die oog af gaan dit goed met Afrikaanse teater. Daar is getroue en wonderlike borge wat dit moontlik maak en daar is gehore wat kom kyk en belangstel. Ongelukkig voel dit soms kunsmatig en die bedryf sal moet besin oor hoe ons die volgende dekade aanpak. Soms voel dit asof alles op sand gebou is. Ons moet nou die fondasies verstewig sodat ons werklik ’n gesonde bedryf kan vestig waarop ons ’n standvastige en sinvolle kulturele toekoms kan bou.

  • Hugo Theart het ʼn meestersgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy werk sedert 1999 as akteur en vervaardiger in teater, televisie en film en is al met verskeie kykNET Fiësta-toekennings vir vernuwing en produksievernuf bekroon.
  • Vanjaar se Teksmark word op 3 en 4 September in die Baxterteater-sentrum aangebied.
  • Nóg vyf tekste van Kunste Onbeperk se Teksmark is vanjaar van Donderdag 29 Maart tot Woensdag 4 April by die KKNK op Oudtshoorn te sien:
    • Amee Lekas se Die dans van die Watermeid
    • Marina Albertyn se Melk & vleis
    • Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier
    • Bauke Snyman se Swerfgoed
    • Du Toit Albertze se Die Meermin-kompleks (deel van die Uitkampteater-program).
  • Die volledige feesprogram vir die KKNK is by kknk.co.za beskikbaar en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 gemaak word.

 

Die dans van die watermeid: ’n teaterresensie

Ons is almal freaks hier: ’n resensie

Teksmark: vars platform vir die skep van verhoogtekste

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top