KKNK 2018: ’n Fees van kontraste

  • 4

Christiaan J de Swardt besin oor die ideologiese tydgees van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn en besef: ons is almal freaks hier!

Dis 28 Maart 2018.

Die belofte van die reënboog wapper vars in kleurryke stroke lap om lamppale in Baron van Rheedestraat, Oudtshoorn, in die Klein Karoo.

Laatmiddag kom die reën verkwikkend.

Maar dan waai die wind die reën weg.

En die volgende oggende lê die belofte van die reënboog nat en verlep op die teerpad.

Amper asof iets verby is nog voor dit ontgin is ...

Dalk soos ons jong demokrasie?

Die fees lyk en voel kleiner, die aanbod kariger, die geroesemoes stiller.

Die weerkaatsings in die poele water op die pad hyg nie en weerspieël plek-plek agteruitgang, verval, sosiale uitdagings. Van die koshuise waarin joernaliste en jong akteurs tuisgaan, is gehawend: stortkoppe en krane is weg, daar is nie meer teëls teen die badkamermure nie, geen slotte aan die kamerdeure nie ...

Maar ons is hier om kunskierig kultuur te ontdek, om vernuwing te ervaar, ons horisonne te verbreed. Om uitgedaag te word.

Jy wonder: Koggel die gees van die samelewing in die kuns van die fees?

En dan ontdek jy ’n juweel: Babbelagtig – ’n betowerende debuutproduksie deur De Klerk Oelofse en Kunste Onbeperk. Die teks – met regie deur Janine Collocott, ontwerp deur Wolf Britz en klankontwerp deur Charl-Johan Lingervelder – is deur die geselskap ontwikkel. Die spelers – De Klerk Oelofse, Jemma Kahn, Roberto Pombo, Klara van Wyk, Dean Balie, Thambi Baba en David Viviers – oorrompel die gehoor met hul lyfgimnastiek. Die ensemble ontsluit ’n wêreld waarin babbelbek, babbelkous en babbelsug ’n ánder taal onthul. Babbelagtig ontgin die magiese, terwyl die lag met ’n traan in patos talm.

Babbelagtig is ’n spontane, eietydse teaterspektakel vir jonk en oud. Foto: Hans van der Veen

Aangevuur deur dié teatermeesterstuk word ek deur die Feesgids na ’n sonderlinge teaterstyl gelei: fisieke teater in die vorm van Sjaka S Septembir se omwerking van sy strokiesboek Moord in Ixiastraat – ’n Bal-Oog-en-Brommel-avontuur, met regie deur Gideon Lombard, oorspronklike musiek deur Gertjie Besselsen en dolle gimnastiek deur De Klerk Oelofse en Richard September.

Hier kon jy jou verbeelding vrye teuels gee.

Richard September en De Klerk Oelofse. Dié stuk fisieke teater is ’n energieke mallemeule-skoppelmaai-strokiesrit. Foto: KKNK

Dié twee produksies kombineer uitmergelende fisieke teater, energieke hansworstery, vernuftige mimiek en gebare, kreatiewe beweging en temagedrewe musiek op vindingryke wyse. Die produksies is gestapel met skerp humor, gesofistikeerde metafore en verrassende wendings. Jy moet rats wees om nie in die onvoorspelbare, progressiewe gegewe verlore te raak nie.

Dit is (ook) waaroor teater behoort te gaan: die ontdekking, verkenning en ontginning – én omhelsing – van die onbekende.

Dit verhinder stagnasie.

Verwarring tussen twee skoolsale bring my by ’n verkeerde plek uit, maar daar is nie tyd om by die regte plek uit te kom nie. Ek bly maar. Nie toevallig nie, want toe val daar inderdaad lig ...

Die musiek van Elvis Presley se “Jailhouse rock” skep die stemming. Op die verhoog kyk jy jou vas in seltralies.

Die musiek verander na “Psycho flight” en die spelers bars uit die gehoor en skiet met hul monde terwyl regte skote klap.

Beng-beng! Tata! Pah-pah! Ratata!

Aksie – en dié woorde op die wysie van ’n vrolike blyspeldeuntjie laat jou hensop:

Welkom by Pollsmoor facility
Hy’t dit gesoek ja
Hy’t dit gesoek ja
En hy’t gekry wat hom toekom!
Hy’t dit gesoek ja!
Hy’t dit gesoek ja!
Nou sit hy in die maksimum!
Tinakanakina!

En jy sit in ’n teater by die KKNK: ’n vrywillige gevangene – kielierig én kriewelrig …

Voor jou ontvou iets van die gees van die fees en jy word onwillekeurig bewus van onverskrokke sosiale kommentaar: oor die mens se domheid, mans se vergrype, vroue en kinders se lot.

Dié lied is die tema van Innie selle, die wenstuk van die ATKV se Tienertoneelwedstryd van 2017.

Met vernuftige choreografie word die stel van Innie selle in ’n japtrap verander. Wat flussies beddens in ’n sel was, word ’n stort en ablusiegeriewe. Foto’s: Annemarie Wichmann

Innie selle, ’n amperse minirevue sonder fieterjasies, is waardige teater. Die leerders van die Hoërskool Tygerberg grou tot in jou murg. Die nege jong spelers bied ’n stuk blinkgepoetste teater. Die teks (Pieter Nel), die regie (Frans Hamman), die spel, met die gevangenes Edja de Meyer, Jay-D Sanderson, Zinedine Manus, Zane Sauls, Allesandro Dirk, JP Matthee en Peter-John Festus (wat Kyle Esterhuizen vervang het), en die twee bewaarders, Hanno Groenewald en Danté Barnard, die choreografie, gepaste stemmingmusiek, die vernuftige funksionele stel wat verskeie ruimtes voorstel – en, boonop, die professionele afronding – plaas dié stuk in ’n klas van sy eie. En dit bly my sjoe-oomblik van vanjaar se fees!

’n Klompie seuns beland om uiteenlopende redes in die Pollsmoortronk – soveel jeugdiges se lot. Die vraag is: Hoe beland ’n kind in die tronk? Wie is skuldig en wie is onskuldig? Dalk omdat jy ’n antie help wat gerob word, maar dan kla sy jou aan? Miskien slaat ’n kind sy stiefpa dat hy in drie stukke deur die huis lê? Miskien steek jy iemand met ’n skerpgemaakte canfruit-blik dat die bloed soos ’n fountain by sy nek uitspuit? Miskien word jy gevang terwyl jy gesonde appels steel? Dalk het jy jou pasgebore baba in ’n swartsak in ’n drom by Pick n Pay se ingang weggegooi? Of dalk het jy jou eie ma verkrag om gangster-sterretjies te verdien?

En as jy mooi plies eksplein, word jy dalk vrygelaat …

In ’n tronk is geen privaatheid nie, en selfs in die oënskynlik onskuldige stortspeletjie waar jy nie seep laat val en buk om dit op te tel nie, skuil onheil en menseskending. Jy aanskou ’n bendeteregstelling in die selle, kyk hulpeloos toe hoe ’n sorgpa sy seun ’n wyfie maak en sy lyf vir R50 aan ooms vir dwelmgeld smous.

Op maat van en in pas met ’n tango, ’n mars, ’n dodewals, die geestelike komposisie “Panis Agelicus” en die Kaapsvrolike “Welcome to Cape Town” verromantiseer die ensemble gevangeskap en die gepaardgaande hoop om en angs van vryheid, maar wanneer jy die teater verlaat, voel jy nie welkom en/of (be)vry nie!

Maar jy wéét meteens: die jeugstem stuit vir niks nie!

Gemeenskappe hét sê-reg. Foto: KKNK

Soos die produksies opstapel, is jy verheug dat álle gemeenskappe die reg op sê het. Feesgangers kon die beste produksies sien van die finaliste van die Eden-dramafees, wat in samewerking deur die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport en die KKNK aangebied word. Jeug van regoor die Eden-distrik ding mee. Met die hulp van die Baxter-teater se Zabalaza-feesspan word dié jongmense met kundige mentorskap in alle aspekte van teater opgelei. ’n Belegging in die toekoms van die fees.

En dit is hier dat ons gou Inkopie-uur, soos op TV, speel. Gooi al die bestanddele in ’n stormstoompot wat die brousel tien keer vinniger en geuriger gaarmaak. En maak dan die deksels van ’n ander stormstoompot oop en ruik hoe die stoom uit die gaar gereg jou proelus verlei.

Dus, daaruit: feesgangers kon vanjaar tussen 32 hooffees-teateraanbiedinge kies – met ’n balans tussen drama en komedie (wat ’n klug, twee tragikomedies en twee kabaretsketse ingesluit het). Die tragiklug Die stoele (met Antoinette Kellerman en Tobie Cronjé), wat vanjaar ’n vlagskipproduksie moes gewees het, moes egter (met motivering) gekanselleer word en is met verlede jaar se mees bekroonde drama, Die reuk van appels (met Gideon Lombard), vervang.

Naas dié aanbiedinge is die aanbod gebalanseer met ’n skerpskertsproduksie, agt Uitkampteaterstukke, nege kinderteaterproduksies by die ATKV se Speelbos in die Kuierbuurt, en die tienjaarviering van die gewilde musiekteaterproduksie Lollos & Lettie: 10 jaar.

Vanjaar se musiekaanbod was uiteenlopend en demografies verteenwoordigend – met 15 teaterproduksies (hoofsaaklik by die ABSA Burgersentrum en Die Windpomp-restaurantteater) en ses buitelugproduksies in die Kuierbuurt – waar style in fusie ontplof het – van voorste Suid-Afrikaanse popklanke in Awê Kaktus, kontemporêre gospel in Boontoe: Engelstemme, hartsmusiek in Karoo-nag en Sterrenag tot paartieklanke in Dans op die vlaktes en hip-hop in Rymklets van Oos tot Wes.

Op Oudtshoorn waai die wind jou ook noord en suid – tot by die Uitkampteaterprojek, ’n program van kortkuns wat vanjaar vir die derde keer aangebied is met die ondersteuning van die Koninklike Nederlandse Ambassade, Pretoria. Teen R20 per kop word 20 feesgangers 20 minute lank in ’n tentjie vermaak. Die aanslag is eenvoud en die uitkoms daarvan is verrassing op verrassing.

In ’n vraghouer, op met staaltrappies, onder die vaandel van die oorkoepelende titel Lappieskonsert, onder leiding van Shihaam Domingo (in samewerking met kykNET), bied die produksiehuis The Domingo Effect die hoogtepunte van Oudtshoorn se versteekte talent en stories. Een van daardie merkwaardige stukke, Bid of baklei, stel die gemeenskaptalent – teks en spel – van Alex-Zay Leonards en Tiffany Saterdacht bekend. In dié treffende tweevrouvertoning worstel die vroue met die letsels van mishandeling. Hulle smag na verlossing, maar gaan hulle daaroor bid of gaan hulle terugbaklei?

Soortgelyke sosiale euwels word in van die ander produksies ontgin.

Brandmerk – kinderspeletjies neem ’n geheimsinnige vingerwyswending. Foto: Hans van der Veen

Brandmerk is ’n briljante aanbieding deur die Evolution-dramagroep van Riversdal in die Wes-Kaap, met regie deur Romeo Jantjies (18). Die stuk is geskryf deur die 19-jarige Stephren Saayman, wat die hoofrol met emosionele deernis vertolk. Die puik ensemble word voltooi deur Robyn September (19), Jomelia Mekeur (17) en Heinrich Hendricks (16). Die Williams-gesin se geheim is uit. Die kinders moet oppak. Dit is die roerende verhaal van ’n seuntjie wat deur sy pa gemolesteer is. Sy ma neem wraak en word verhoor vir die moord op haar man. Stephren se teks en spel ontroer terwyl die trane spontaan oor sy wange rol. Hy is vir ’n Kanna-toekenning vir beste opkomende kunstenaar benoem.

Die meermin-kompleks – oor andersheid, verraad en die regstellende verkragting van ’n gay seun.

Philip Rademeyer is die regisseur van Du Toit Albertze se Die meermin-kompleks (’n gogelteks en boeiende spel). Robbie is ánders. Hy glo hy is uit ’n meermin gebore en is vas oortuig hy leef in ’n borrel. Dié tragikomedie spreek die Calvinistiese oortuigings van die verlate denkbeeldige kusdorpie Draadbaai aan. Die inwoners, die pastoor en sy pa wil die meermin ’n meerman maak. Dit vertel die verhaal van ’n seun se seksuele ontdekkingsreis; dit spreek die Victoriaanse ideologieë oor die heiligheid van kindwees aan en ondersoek die regstellende verkragting van gays in ’n Afrikaner-konteks – tot verraad en ’n speldprik sy wêreld vernietig. Du Toit is vir ’n Kanna vir beste opkomende kunstenaar en beste teks en vir beste produksie by Uitkampteater benoem. Foto: Hans van der Veen

Lolly – die oortreder is ook die slagoffer in dié spulse stuk sosiale kommentaar. Foto: Hans van der Veen

In Lolly (’n produksie deur The Furies Co-Op) word die oortreder ook die slagoffer; dis snydende, introspektiewe sosiale kommentaar. In dié (ongemaklike) maklik-om-te-volg-YouTube-handleiding bekyk die regisseur Dara Beth haar en die aktrise Ameera Conrad se ondersoek na molestering amper kru en sny tot in die murg aan onderwysers se fantasie met dogters in skooljurke. Lolly se pruilmondjie is verleidelik en haar vingers kan ’n piesang bekoor – blykbaar danksy haar wiskunde-onnie. Sy streel jou ego en kielie jou vel, sy vryf jou op en hits jou aan tot fyndraai – en dan spoeg sy jou onbevredig uit. Wanneer die spulsheid in die speelsheid taan, verlep die plesier en die gehoor word gedwing om vir dié strammende banaliteit te bloos – hardop. Lolly is vir ’n Kanna vir beste produksie by Uitkampteater benoem.

My boetie is ’n danser – die dans word die metafoor vir die ritme van die siel. Foto: Hans van der Veen

Die regisseur Thembela Madliki het die teks van My boetie is ’n danser saam met die akteurs Ahswin May en Meyrick Tree ontwikkel. Dit bevat elemente van eksperimentele fisieke teater en verken die verhouding van twee broers – Patrick, bruin (Ashwin), Pierre, wit én boonop gay (Meyrick) – wat die wêreld baie verskillend ervaar. Aanvanklik ervaar hulle mekaar soos die buitewêreld hulle hanteer. Die teks is gelaai en kwetsend.  Hulle moet hul eie duiwels aandurf, hul vrese verken, hulself en mekaar vind. Die dans word die metafoor vir die ritme van die siel en deur ’n rits gebeure kry die gehoor insig in die omstandighede waarin hulle vasgevang is en waaruit hulle ten alle koste wil ontsnap.

Doos/Box – as jou kop eers in dié doos is, word jy ’n skaamtelose afloerder. Foto: Grand Street Studios

Die aktrise Stephanie Gericke en die regisseur Llandi Beeslaar skep met hul Doos/Box-projek eiesoortige, opwindende teatervernuwing. Die verhoog is ’n vierkant wat met lakens – waarin daar vier gate aan al die kante is – binne die tent afgebaken is. Om die aktrise te sien, moet jy jou kop deur een van die gate steek. Jy kyk haar in die oë. Dis só intiem; jy kan haar asem voel, haar sweet ruik, met jou gesig aan haar raak. Met drie uiteenlopende stukke wat spel, grafiese ontwerp, musiek en dramaturgie uitdaag. In een van die stukke, Die laaste ding (oor die einde van die wêreld), kruip die aktrise halfnaak en met stof oortrek in ’n dorre woestyn rond terwyl sy naarstiglik aan ’n klip vasklou om oorlewing. Dié stuk deur Philip Rademan word gekenmerk aan digterlike prosa en die aktrise skram nie van die uitdaging weg nie. Doos/Box is vir ’n Kanna vir beste produksie by Uitkampteater en vir beste debuutwerk, en Philip vir beste teks benoem.

Diskoerse

En terwyl dié jong stemme mure afbreek en grense verskuif, het politici, kerkleiers, opvoedkundiges en toekomsontleders ’n diskoers in die Feeskafee – skuins oorkant die pad – oor die vierde nywerheidsrevolusie, die toenemende waterskaarste, hoe om volpunte in die onderwys te kry, en die verhouding tussen jou, God en die kerk, en daar word bespiegel of die sprekers van Afrikaans inderdaad ook vyande vir Afrikaans maak – álles in die poging om ’n meer gelyke samelewing te skep.

Proe, ruik en voel die taal

Jy hoor Afrikaans – in talle skakerings en dialekte – oral: van awê antie, hommeltuig, selfie en nurk tot hovaardig, flop en toep en falafel, paljas, dhaltjie en poenankies.

Die keurigheid van dié taal skitter suiwer in Lizz Meiring se twaalfde solostuk, die tragikomedie Met ander woorde, ’n versameling eiesoortige, aweregse sketse, stories en vertellinge – in die lastigste, ongemaklikste en triomfantelikste woorde in Afrikaans!

Mbulelo Grootboom en Tinarie Van Wyk-Loots in Gif/Poison/Ityhefu. Foto: KKNK

Op ander verhoë word ánder temas, uitdagings, verhoudinge en werklikhede deur gewilde sepiesterre en veterane getakel.

  • Kinnes (oor wat jongelinge én moeders sal doen om in die Cape Flats te survive – met teks deur Chase Rhys, regie deur Hennie van Greunen, ontwerp deur Birrie le Roux, musiek deur Pedro Kruger en stewige spel deur Lee-Ann van Rooi, Dean John Smith, Dustin Beck (veral), Lindsey Abrahams en Shannon Williams)
  • Nêrens, Noord-Kaap (Nico Scheepers – teks en regie – se roerende empatiestuk oor die verhouding tussen drie broers en hul pa – met De Klerk Oelofse, Albert Pretorius en Geon Nel)
  • Swerfgoed (oor erfenis en opoffering, waterskaarste én moord daaroor – met teks deur Bauke Snyman, regie deur Tinarie Van Wyk-Loots, ontwerp deur Jemma Kahn en spel deur Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher)
  • Gif/Poison/Ityhefu (oor hoop uit pyn en die versoening wat daaruit spruit – met teks deur Lot Vekemans en vertaal deur Willem Anker, regie deur Erwin Maas, ontwerp deur Guy de Lancey en Michael Garbett en gestroopte, deernisvolle spel deur Mbulelo Grootboom, Tinarie Van Wyk-Loots en Mahlodi Kenny Rakotsoane)
  • Half-leeg (besinning oor whiskey, mans en vroue, liefde en eensaamheid – met teks en regie deur Tara Notcutt en spel deur Cintaine Schutte)
  • Weerkaats (oor spyt en die gevolge van keuses – met teks deur Retief Scholtz, regie deur Phillip Rademeyer, en spel deur Milan Murray)
  • Mike & Mavis (oor hervonde liefde in bejaardheid – met teks deur Wessel Pretorius, regie deur Gerrit Schoonhoven en spel deur Elize Cawood en Wilson Dunster)
  • Dans van die watermeid (ondersoekende bevraagtekening oor die lewe en menswees deur vergelykende parallelle met die mite van die watermeid se misvormde wese te trek – met teks deur Amee Lekas, regie deur Jason Jacobs, ontwerp deur Birrie le Roux, musiek deur Pierre-Henri Wicomb en spel deur Rehane Abrahams, Gretchen Ramsden, Ephraim Gordon, Elton Landrew, Abduraghmaan Adams en Celeste Mathews-Wannenburg)
  • Hierdie lewe (die nabetragting van ’n onvervulde lewe – ’n verhoogverwerking deur Saartjie Botha na Karel Schoeman se gelyknamige roman, met regie en ontwerp deur Wolf Britz en ’n teatrale solokragtoer deur Antoinette Kellerman)

Feesvoos ontvlugting

Elders word gelag: onder meer in, vir, oor en met die seksklug My vrou se man se mannetjie, die komedies Die baba met die badwater, Manne, Wie’s jou pappa?, Op my eish! – en by die Feeskafee help skerpskertsers – Schalk Bezuidenhout, Shimmy Isaacs, Melt Sieberhagen, Hannes Brummer en Loyiso Madinga – feesgangers selfspottend en vingerwysend feesvoos ontvlug en vergeet.

Ons neem die pendelbussie na ’n volgende vertoning. Die drywer ry draaie, met die hoop om nóg passasiers op te raap. Ons ry later dorp-deur terug. Die strate is voller as by die feesterrein. Maatskaplike toelaes is uitbetaal en die gemeenskap staan in toue op elke straathoek voor die hekke van mikroleners. Om hul skuld terug te betaal en weer skuld te maak.

By die burgersentrum word gesmul aan warm etes. Jy betaal per gram; ook vir die gewig van die bord waarin jou kos geskep word. Geen twee borde weeg dieselfde nie. Jy betaal ook vir die bene van jou bredie. Ek het dit – nadat ek die bietjie vleis daaraan verslind het – uit weerwil en protes laat weeg: amper R20 se waarde in die vullisblik.

Ek loop ’n draai by die bedompige, onhigiëniese groen plastiektoilette langs die burgersentrum.. ’n Oogknip verder sien ek twee vroue – die een is duidelik swanger – besig om oor die rand in twee reusevullishouers te klouter. Hulle graaf deur hope gekookte groente wat nog stoom en die oorblyfsels van bredies wat al vrot. “Wil Meneer ’n foto neem?” vra die een. “Dit sal net R10 kos.” Sy diep ’n gebotterde roosterkoek uit. “Kyk, ek kon hierdie geëet het!” Ek neem nie ’n foto nie, want onwillekeurig dink ek aan Saartjie Baartman se storie in die produksie Ons is almal freaks hier. Hoe durf ek hierdie vrou se menswaardigheid aantas en uitbuit vir ’n foto? Om my gewete te sus, druk ek R20 in haar hand en strompel met ’n naar kol op my maag weg.

Albert Pretorius, Kay Smith en Lee-Ann van Rooi in Ons is almal freaks hier. Foto: Nardus Engelbrecht

En jy besef opnuut hóé geslaagd daardie produksie was: die ongemak en ongerief waarmee die gehoor tydens die treffende begeleidingteaterstuk uitgedaag is, en Lee-Ann van Rooi en Albert Pretorius se spel goël by jou. Nicole Holm se kreatiewe regie van Ingrid Winterbach se geromantiseerde dokumentêre teks verleen verrassings op elke trap, om elke draai en in elke hoek, geverf teen ’n doek van uitstalruimtes. Saartjie Baartman en haar gedwonge verplasing, die onreg teenoor haar en die uitbuiting van vlees en siel word ’n lewende aanklagkunswerk tussen swyende kunswerke teen die muur. Jy word teen jou wil ’n voyeur en bloos met skaamte oor jou verwondering aan Kay Smith se bates – terwyl ’n aanwyser jou amper op jou boud met ’n raket piets om jou verder in dié ontdekkingsreis aan te hits. Eensklaps is jy terug waar jy begin het, meteens verward of alles hier eindig – en dan pluk Garth Erasmus se ritmiese kitaarklanke jou terug in jou eie freakgeid!

Gewetesussers

Jy soek ontvlugting, smag na versoening, gryp na ’n gewetesusser. In Baron van Rheedestraat, die hartklop van die fees, kon feesgangers ’n allegaartjie van internasionale en plaaslike straatkunstenaars se talent in nege produksies verken.

Verskeie bekende sterre en (helaas ook onbekende hoopvolles) het by RSG se uitsaaikaravaan en -verhoog opgetree. Teen sonsondergang het Haidee Muller van die land se beste storievertellers aan die gehoor voorgestel, met produksies soos Stories uit Verneukpan: Oom Goltros vertel, Ons Komvandaan, Tol, Toller, Tolla en ’n Aand met gedigte.

Oudergewoonte kon feesgangers by Die Beiteltjie verpoos en na dramaproduksies en hoorbeelde luister en regstreekse uitsendings bywoon.

Neffens die ATKV se Boeke-oase, met die slagspreuk “Ontdek ’n Nuwe Wêreld”, kon feesgangers ’n reeks van 23 boekbesprekings bywoon – egter mét beserings.

Jy strompel byvoorbeeld verslae by die ouditorium uit oor die bloedige wending waarmee die sielkundige verhoudingsriller Melk & vleis jou treiter (Marina Albertyn se teks, met regie en ontwerp deur Marthinus Basson en puik spel deur Illse Roos, Neels van Jaarsveld, Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka). Jy’s hoopvol om kalmte in die Feeskafee te vind, terwyl jy Die Burger, ’n koppie koffie en ’n muffin (álles vir R10) verslind. Maar daar word jy verder gekonfronteer – met gesprekke oor die opspraakwekkende De Zalze-bylmoorde, oor mans se onnoselheid, oor dwarsklappe en die skakerings van swart in die nuwe Suid-Afrika, oor die dinge wat bekendes liefs nie moes gesê het nie, oor die denkwêreld van narsiste, psigopate, stalkers en sadiste, oor sterre se stories van hoop, oor drama en die gemeenskap. En jy besef meteens hoe soekend mense is. Jy besef ook hoe siek en ongesond die Suid-Afrikaanse samelewing is wanneer jy hoor die boeke Ek en jy: verhoudings wat werk en Kalmte in die malle gejaag tussen die topverkopers by die ATKV-Boeke-oase is.

Ons kon darem, dankie tog, ook denkbeeldig vreet, danksy besprekinge oor kookboeke en gepaardgaande kosdemonstrasies. Jy’s mos genooi! Boerekos kry ’n twist!

Gehore, kritici en die kannas

Pieter-Dirk Uys (foto: KKNK)

Die kontras tussen gehoorgewildheid, kritici se menings en die Kanna-paneel se benoemings wys die kloof tussen nuuskierigheid en kieskeurigheid duidelik uit.

Uit die top 20 gewildste produksies het net vyf die beoordelaars se lys gehaal en Kanna-benoemings besorg aan:

  • Die musiekproduksie Afrika, my verlange / Afrique mon désir (beste musiekaanbieding).
  • Melk & vleis (beste teateraanbieding, beste regisseur vir Marthinus Basson, beste akteur vir Neels van Jaarsveld en beste aktrise vir Illse Roos).
  • Nêrens, Noord-Kaap (beste teateraanbieding, beste regisseur vir Nico Scheepers, beste akteur vir De Klerk Oelofse en beste akteur vir Geon Nel. Die derde akteur, Albert Pretorius, is nie hier benoem nie, maar is wel as manlike byspeler in Ons is almal freaks hier Dié drie akteurs het egter reeds vanjaar die Fiësta-toekenning vir beste ensemble-spel verower.
  • Babbelagtig (beste debuutproduksie, beste kinderproduksie en beste ontwerp vir Wolf Britz).
  • Die distopiese Swerfgoed (beste debuutproduksie, beste teks vir Bauke Snyman, beste byspeler vir Richard September en beste byspeler vir Nicole Holm. Die ander spelers was Anna-Mart van der Merwe en Andrew Laubscher).
  • Resensente en die Kanna-paneel was veral opgewonde oor die plekspesifieke produksie Ons is almal freaks hier – uit die pen van die Hertzogpryswenner Ingrid Winterbach – wat die voortou met ses benoemings neem: beste teateraanbieding, beste regisseur vir Nicole Holm, beste aktrise vir Lee-Ann van Rooi, beste vroulike byspeler vir Kay Smith, beste manlike byspeler vir Albert Pretorius en beste teaterontwerp vir Birrie le Roux.
  • Ander produksies wat vir Kanna-erkenning benoem is, is:
  • Hierdie lewe (beste teateraanbieding) – met regie deur Wolf Britz (beste regisseur en beste teaterontwerp) en spel deur Antoinette Kellerman (beste aktrise).
  • Daar was ook puik spel deur Mbulelo Grootboom (beste akteur) in Gif/Poison/Ityhefu), Ephraim Gordon en Gretchen Ramsden (beste byspelers in Dans van die watermeid).
  • Net twee komedies het die Kanna-paneel beïndruk: Klara van Wyk (beste debuutwerk) se stuk You suck (en ander afgryslike waarhede) met regie deur Francesco Nassimben) en NRNNSA (Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika) vir die beste opkomende kunstenaars (ensemble).
  • Uit vanjaar se wye verskeidenheid musiekaanbiedinge het die Kanna-paneel net drie produksies as mededingend kon eien:
  • Lepeltjie vol snare, met Hannes Coetzee, ontvanger van 2018 se Kruispuntprys, bekend om sy besondere styl om ’n hele orkes met ’n teelepeltjie en kitaar te skep. Hy word gekomplementeer deur Frazer Barry, Earl Witbooi, Loit Sols en Deniel Barry. Regie deur Emelda Brand.
  • Afrika, my verlange / Afrique mon désir, ’n versnit tussen Suid-Afrikaanse en Afrika-musiek in Afrikaans, Frans en verskeie Afrikatale.
  • Besselsen, met Gertjie Besselsen; Jacques du Plessis en JC Visser; ’n eietydse kabaret met tekste deur Hennie Aucamp en ID du Plessis.

Ek was ook beïndruk met onder meer Amanda Strydom en die pianis Coenraad Rall se Stadig oor die klippers; Anna Davel, Gloria Bosman en die pianis John Fresk se huldeblyk aan Ella Fitzgerald (waarin die gewilde treffer “Ek verlang jou na jou” in Afrikaans ’n sonderlinge Afrikajazzpoetsing kry); Coenie de Villiers en die kitaarspeler Maurit Lotz se Shhhhhhhhhh; Karin Hougaard en die pianis Jaconell Mouton se kleinkunsvertoning Grepe; en Leslie Javan, Ronan Skillen en Francois Afrika se Maanlig. Al dié produksies ontgin splinternuwe werk deur dié veterane.

Aan die kunsfront is Collen Maswangany vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir ’n nuwe stem. Hy en sy pa, Johannes, was vanjaar se feeskunstenaars. Hul gesamentlike tentoonstelling het Dance and carve with my father geheet. Hulle ding mee om ’n Kannatoekenning met Jürgen Dünhofen se uitstalling Re-Acclimate en Diek Grobler wat uitgesonder is vir sy animasie vir die produksie Afrika, my verlange / Afrique mon désir .

Die Uitkampteaterprojekte het vanjaar talle verrassings opgelewer en het sewe benoemings ingepalm, soos reeds boontoe bespreek.

Gehoorgunstelinge

Dit is duidelik dat gehore wil ontvlug as jy na die top 20 gewildste produksies kyk, met sewe musiekproduksies en sewe komedies – van Dowwe Dolla en Wicus van der Merwe, Marion Holm se Operasie Holm tot ’n klompie 7de Laan-sepiesterre se Manne en die seksklug My vrou se man se mannetjie op die lys.

Die eksperimentele produksie Fotostaatmasjien (met teks deur die bekroonde digter Bibi Slippers en regie deur die bekroonde akteur, dramaturg en regisseur Wessels Pretorius) is visueel opwindend en jy sou dit selfs ’n stylontploffing van elemente van kabaret, klug, komedie, drama en tragedie, fisieke en dansteater as ’n “interessante” teaterervaring kon bestempel, maar dit het helaas nie die kritici of die Kanna-paneel beïndruk nie. Tog tel dit tussen feesgangers se gunstelinge (moontlik om Anna-Mart van der Merwe as plakkaatnooi, ondersteun deur Bibi self, Schalk van der Merwe, Emma Kotze, Kathleen Stephens en Len-Barry Simons). Trouens, dié stuk het die gehoor se voete in hul hande gehad!

Dit is goed dat kinders teater toe gebring word; hier vir die prettige feesopdragproduksie Babbelagtig en die kindermusiekproduksie Lollos & Lettie: 10 jaar.

Net drie dramas – Melk & vleis, Nêrens Noord-Kaap en Swerfgoed – het die Top 20-lys gehaal.

Die bywoning van uiteenlopende musiekaanbiedinge is verblydend – met onder meer Afrika, my verlange / Afrique mon désir, Amanda Strydom se Stadig oor die klippers en RSG se Dis Opera ook in die top 20.

(Daar is gewis ’n behoefte aan ernstiger musiek by die fees, en Kunste Onbeperk sal moet besin oor die voortbestaan van Klein-Karoo Klassique en oorweeg om dit eerder weer met die hooffees te integreer. Die grootste leemte by die fees bly steeds die gebrek aan dansteater.)

En, ja, die satirikus Pieter-Dirk Uys in Weifel oor jou twyfel! (When in doubt say Darling) het ook die Top 20-lys gehaal!

Die Top 20-produksies

Só lyk vanjaar se beste verkopers (in alfabetiese volgorde):

  • Afrika, my verlange / Afrique mon désir – met regie deur David Kramer, toonsettings deur Laurinda Hofmeyr en animasie deur Diek Grobler.
  • Amanda Strydom se Stadig oor die klippers.
  • Babbelagtig.
  • David Kramer se Platteland.
  • Die baba met die badwater – ’n komedie met regie deur Henry Milne en spel deur Kaz McFadden, Lizz Meiring, Liezl de Kock, Karin van der Laag, Wynand van Vollenstee en Denver Vraagom.
  • Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe.
  • Fotostaatmasjien.
  • Laurika Rauch met Loki Rothman se Blou.
  • Lollos & Lettie 10 jaar!.
  • Manne – ’n komedie, met teks en regie deur Chris Vorster en spel deur Chris Vorster, Hennie Jacobs, Theodore Jantjies, Francois Lensley en Deon Coetzee.
  • Melk & Vleis.
  • Mike & Mavis.
  • My vrou se man se mannetjie – ’n klug, met regie deur Frans Swart en spel deur Paul Luckhoff, Cobus Venter, Edrien Erasmus, Wynand van Vollenstee, Tessa Denton en Rowlen von Gericke.
  • Nêrens, Noord-Kaap.
  • Operasie Holm – teks en regie deur Chris Vorster, met Marion Holm.
  • Ricus Nel en Refentse se Akoesties.
  • RSG se Dis opera-
  • SHHHHHHHHH – met Coenie de Villiers.
  • Swerfgoed.
  • Weifel oor jou twyfel! (When in doubt say Darling) – Pieter-Dirk Uys.

Repliek

Ek het niks ervaar waarin ek onherstelbaar teleurgesteld was nie, maar ek het regtig min sjoe-oomblikke beleef. Dalk raak ’n mens feesversadig. Tog verwag jy ’n paar basiese dinge: ’n goeie teks, bogemiddelde spel (geloofwaardig met diksie en projeksie), woordvastheid, ’n funksionele stel, gepaste verhooginkleding, naatlose klank en beligting. Ek het dikwels gevoel die tekste is nog in ’n ontwikkelingfase, asof van die sepiesterre die oorgangstegniek van kleinskermwerk na ’n groter teaterruimte verloor het, asof jy na ’n repetisie kyk, dat die eintlike vertoning nog moet begin. Asof ek ontneem is, asof ek bedrieg is, asof ándersheid onoorspronklike eendersheid word, asof ek gedwonge aan selfsugtige, teatrale masturbasie onderwerp is.

Ek vlug egter nie onvervuld nie.

Die tydgees van die fees?

Die gees(te) van die verlede – én die asem(s) van die hede – bepaal die fees(te) van die toekoms.

Gistermôre.

Môregister.

Tyd ...

Terwyl die KKNK, Kunste Onbeperk, NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief), die kunstenaars, die borge en Oudtshoorn se gemeenskap daarmee swoeg, kan jy intussen oefen om feesfiks te word vir die 25ste KKNK – van Donderdag 21 Maart tot Woensdag 27 Maart 2019.

  • In my poging om dié oorsig te skryf het ek daarin kon slaag om 33 produksies in te pas. Ek kon ongelukkig nie die Kanna-benoemde aanbiedinge Besselsen, You suck (en ander afgryslike waarhede) en NRNNSA (Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika) inpas nie.
  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Sandra Pretorius

    Wat 'n uitstekende lekkerlees-artikel. Mag mnr De Swardt meermale vir LitNet skryf. Hy is 'n absolute vars briesie. Het hy dalk al enige boeke geskryf? Want ek sal dit graag wil koop. Want sy werk getuig van insig, 'n fyn taalgevoel en 'n skerp waarnemingsvermoë. Doen so voort, mnr De Swardt!

  • André Badenhorst
    André Badenhorst

    Uitstekende werk en 'n model van hoe 'n resensent te werk moet gaan om die onbegonne taak van 33 in een te behaal. Natuurlik word die oorsig inherent 'n oorveeg waar die leser as medeskrywer talle groen grassies verder afvreet, maar vir my as toneelmaagd was dit 'n baie insiggewende leesfees. Baie dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top