KKNK 2017: ’n Hunkering na ontvlugting

  • 0

Die verlede. Kuns, kultuur en tradisie. Soeke. Behoeftes. Hunkering. Identiteit. Seksualiteit. Vergrype. Oorlewing. Om te behoort, te deel; om (iemand of) iets te wees. ’n Smagting na liefde. Ontvlugting. Die toekoms. Dit is die temas wat vanjaar se KKNK oorheers het. Mense beleef ’n kommerwekkende leemte wat wroegend hunker na volkome vervulling, meen die resensent Christiaan J de Swardt – ná hy 23 produksies beleef – én óórleef – het …

Asof die natuur verligting wou bring ná die afgelope ruk se politieke stormagtigheid en onstabiliteit, het die wolke donker bó Oudtshoorn in die Klein Karoo saamgepak en op 8 April het die donders geblits en die hemelruim het oopgebars en op die aarde neer geween. Gereinig. Die omgewing en strate is skoongespoel vir die 23ste nasionale aanbieding van vermaak, kuns, letterkunde en kultuur.

Die uwe het vanjaar ’n doelbewuste, doelgerigte gewetensbesluit geneem om hoofstroom-tjommelmusiek by spontaan verhoë en massakuiertentplekke te vermy. Ek wou ook nie wroeg nie en sou daarom aanvanklik net komedies gaan kyk – vir ’n ligter blik; sogenaamde ontvlugting.

Anders as elders in die wêreld sien resensente (en selfs skrywers, akteurs en regisseurs) op komedie neer. Tog is dit ’n genre wat, as dit behoorlik en geloofwaardig gedoen wil word, ontsettende eise aan akteurs stel en hulle vaardighede tot die uiterste beproef.

Gehore slurp dit op. Daar was vanjaar ’n keuse van 16 humoristiese aanbiedings uit ’n aanbod van 105 produksies. Ter wille van deursigtigheid, só lyk die top 10 stukke (met vyf komedies, vier dramas en slegs een musiekproduksie), in alfabetiese volgorde:

  • 3-in-1 (Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout en Hannes Brummer)
  • Ag, kom ek val sommer met die deur in die huis (Marion Holm)
  • Asem (makabere drama met die bekroonde feesakteurs Antoinette Kellerman, Tinarie van Wyk Loots, Edwin van der Walt en Stian Bam)
  • Beurtkrag (sepie- en rolprentsterre Ivan Botha en Donnalee Roberts)
  • Karoo Suite (Coenie de Villiers en Deon Meyer)
  • Koöperasiestories (gegrond op PG du Plessis se die eertydse TV-reeks, met Chris van Niekerk, Marion Holm, De Klerk Oelofse, Carel Nel en Margit Meyer-Rodenbeck)
  • Moedertaal (met Sandra Prinsloo, wat vir haar spel in die Hertzogpryswenner Chris Barnard se Pa maak vir my ’n vlieër pa vir ’n Kanna as beste vroulike byspeler benoem is)
  • My man se skelmpie se skelmpie se vrou (’n klug met Ana van Achterbergh, Anel du Plessis, Botha Enslin, Cindy Swanepoel, Elma Potgieter, Francois van Rensburg, Jennifer Myburgh, Rouel Beukes, Phillru van Achterbergh en Zak Hendrikz)
  • Ooms (Tobie Cronjé en Gerben Kamper)
  • So ry Miss Daisy (Sandra Prinsloo, John Kani en Jacques Bessenger)

Uit dié top 10 is dit duidelik dat gehore hou van humor, sepiesterre en nostalgie – soos in Koöperasiestories, waarin in ons onsself met deernis in vervloë dae se skynheiligheid, geskinder en onderliggende getwis herken.

Vier dekades van Pieter-Dirk Uys (Foto: KKNK)

Pieter-Dirk Uys

Die veteraan Pieter Dirk-Uys is vanjaar vir sy enorme bydrae as skrywer, satirikus, sosiale aktivis en humanis met die Kunste Onbeperk se Kruispunt-prys vereer. Die keurpaneel wys in die motivering op die onmoontlike wat hy vermag het en sy invloed wat oor landsgrense heen strek. “Hy is onverskrokke in sy taak om deur sy werk kopskuiwe te weeg te bring. Hy veg vir die reg van vryheid van spraak tot vir bewusmakingveldtogte oor vigs in skole. Met die Darling Trust en Evita se Perron inspireer hy nie net ’n gemeenskap op Darling nie, maar strek sy hartwerk wêreldwyd.”

’n Kragwoord – ná amper 40 jaar op die verhoog – oor Uys se lippe, is so treffend en doelgerig soos ’n engeltjie se piepie op jou tong; terloops en onverwags, maar verrassend van pas.

Sy twee produksies by die fees – Weerklank van ’n wanklank: ’n eenmanmemoire – en die komedie Pasaanoffokkof – is bloot bewys waarom Uys geen gelyke as Suid-Afrikaanse satirikus het nie. In die eerste ontbloot hy hom as mens en in die komedie een wys hy steeds ’n vet middelvinger vir die establishment. Met net ’n vasberade handgebaar, ’n verskuiwing in liggaamstaal, ’n verandering in stemtoon, en met ’n hoed, ’n bril of ’n lap, ontvou ’n wêreld van geloofbare karakters, situasies en waarhede. Hy is ’n dinamiese en onderhoudende storieverteller!

Hannes Brummer, Schalk Bezuidenhout en Casper de Vries in 3-in-1 (Foto: Lumico)

Humor en taalkruheid

En toe beland ek by die eerste komedie-aanbieding op die program: 3-in-1, met Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout en Hannes Brummer (as ervare komediant en akteur, die beste van dié lotjie, veral met improvisasie).

Dit is stand-up, of, as jy wil: skerpskerts. Wat ’n jammerte dat soveel nuwelinge, ook vroue, by De Vries afgeloer het. Walglik was nog nooit snaaks nie. Mense (durf nie meer) lag vir ’n gevloekery nie. Inteendeel. Die lagbuie was sporadies. Woorde soos “[email protected]”, “p#$s” (al verdien die slagoffer met wie gespot word dit) en, veral, die ydellike gebruik van “God” se naam het lankal impak verloor.

Casper se energie is flou, sy skerpheid stomp, sy humor vervreem. Dit raak afstootlik.

Helaas: dit was ’n gehoorgunsteling by vanjaar se fees.

De Klerk Oelofse in Strooijonker. (Foto: Robert A Hamlin)

Die Parlement

My plig lei my na Die Parlement. Ná ’n paar besoeke daar – nie die sirkustent in Kaapstad nie, maar wel die nuwe lokaal vir komedie (en kabaret) – het dit gou duidelik geword: dit is makliker om die werklikheid in die werklike samelewing te ontglip as om dit in ’n gehoor voor ’n verhoog in ’n teaterlokaal vry te spring.

Resensente kon nie vanjaar vooraf kaartjies vir vertonings bespreek nie. Ons kon by ’n lokaal opdaag en, nadat al die betalende gehoorlede sitplek gekry het, ’n stoel kry as daar een oop was. Die gewildheid van die produksies en die streng protokol by Die Parlement het nie my mediakaart vir akkreditasie erken nie en ek is telkens weggewys. Ek het nie te veel geprotesteer nie, want die beelde van die geweld teen parlementslede wat nie wou skoert nie deur manne en vroue in hul swart en wit “uniforms” van die ánder “mag” was nog te gogelend in my geheue ingeprent.

Hier is gehore onder meer deur die komediant Ester von Waltsleben (met die komedie O my goeie volk) en die vrypostige Schalk Bezuidenhout (met die skerpskertsvertoning Voksbesit) vermaak. Gehoorlede kon lekker ontspan met ’n drankie in die hand terwyl hulle slagspreuke op die papiertafeldoeke lees en die mankoliekige vierkantige tafeltjies probeer regop hou.

Die akteurs se tonge het in die kies gebol, soms vernuftig giftig. Ook selfspottend. Ons ontglip egter nie die druk van die moderne samelewing nie.

Die nuweling Elisha Zeeman se kabaret Mond verby hét iets, maar kort nog poetsing. Haar gegewe is uitdagend, maar die uitkoms soms voorspelbaar. Haar vertolking (ook sang) is geesdriftig en dapper. Maar die stuk skort oorspronklike fut.

Die veelsydige akteur De Klerk Oelofse het in die komedie Strooijonker bewys ervaring kan ’n yl teks net-net red. Dié strooijonker stel die heildronke in, kyk egter té diep in die bottel en soos die vonkelwynproppe plof, dy sy gemoed en sy hart stroom oor sy mond. De Klerk Oelofse se spel van nugter tot dronkverdriet behou deurentyd tydsberekende fokus, maar die teks (hoewel welig met galgehumor) is bloot té oppervlakkig om geesdrif, veral by die gehoor, te behou.

Ek voel toe sommer ook besope. Geen drank meer vir my die res van die fees nie!

Toe ek uitstap, besef ek meteens: in al dié aanbiedinge word ons bewus gemaak van die onrealistiese eise wat ander mense én, veral, ons aan onsself stel.

Natuurlik lei dit tot leegheid, ’n hunkering, ’n soeke.

Marion Holm in Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis. (Foto: KKNK)

Patos

Marion Holm se 14de solovertoning, Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis, beur selfs terneergedruktes op. Haar bogpraatjies het nog altyd ’n angel gehad, maar dié keer laat sy ons ten koste van haarself lag. En jy besef spoedig niemand is immuun teen pyn nie; maak nie saak hoe mooi, ryk of slank jy is nie. Sy klets oor die “prettighede” wat haar getref het: siekte, ouderdom, swaarkry en leed. Sy doen dit met ’n deernis wat jou ’n oomblik van jou eie skete en vertwyfeling laat vergeet. In haar bekwame hande het elke onderwerp en grap inhoud, ’n oorsaak en gevolg. Daaruit spruit die traan in die lag.

Tobie Cronjé en Gerben Kamper in Ooms. (Foto: KKNK)

Dieselfde geld Chris Vorster se komedie Ooms. Twee knorrige ooms beland in ’n soort verbeteringskool vir skatryk oues wat lastig geword het of uit ander aftree-oorde geskors is. Dié tehuis is op ’n weelderige landgoed geleë, iewers langs die see. Dit is omhein soos ’n tronk, en het wagte en selfs honde. Al hoe jy “vrywillig” hier uitkom, is in ’n doodskis. Maar dié ouballies het nog lank nie boedel oorgegee nie en wil ontsnap ... Die ooms stamp uit die staanspoor kop, maar besef gou dit is nie “ons teen mekaar” nie, dit is eerder “ons teen die kinders” vir wie hulle op hul oudag net “’n erfporsie werd is”.

Dit is ’n roerende blik op ouderdom en selfs ’n vingerwysing na en aanklag teen hoe ’n samelewing bejaardes behandel en wil uitsluit, wegsluit, toesluit.

Selfs in dié skater is daar wrangheid.

André Odendaal en Wilhelm van der Walt in Dop. (Foto: KKNK)

Ek hou by my alkoholvrye voorneme, maar durf tog die drama-komedie Dop aan. Op die groot verhoog is daar net ’n kroegtoonbank en twee stoele (op ’n ronde podium), onder die kollig. Die kroegman, Tim (Wilhelm van der Walt), vryf glase blink. Hy is ’n ontwortelde Afrikaner – met ’n geheim en soeke. Sy enigste klant die aand, Frank Venter (André Odendaal), kom vier sy verjaardag. Hy is een van daardie onsigbare mense wat niemand sal of wil onthou nie. Maar hy het óók ’n storie; ’n verlede. Hy kom ontvlug, en dis duidelik hy is hier om geknetter te raak. Amper alleen in die kroeg; heeltemal alleen in die wêreld. Die mans het albei iets van mekaar nodig. Hulle word mekaar se klankborde.

Die dramaturg Retief Scholtz (Kanna-benoem vir beste nuutgeskrewe teks) se gebalanseerde teks is gelaai met subteks: ’n druppel gal en waarheid in elke glas drank wat Tim skink en Frank verorber. Tim, met sy afgeleerde Afrikaans en sy Australies-Engelse aksent, en Frank, ’n Afrikaner-patriot, sukkel soms om mekaar te verstaan; deels ook weens die generasieverskil. Scholtz raak talle kwessies aan, soos die wanbegrip oor manlikheid, Afrikaansheid, mensheid en die valsheid en onmiddellikheid van die sosiale media.

Twee vreemdelinge begin gesels oor die lewe, generasies, emigrasie, drome (onvervuldes en nuwes), die kunsdiefstal van 1990, reënwoude, spyt en perdedrolle wat nie vye is nie.

Die regisseur, Sylvaine Strike (Kanna-benoem vir beste teateraanbieding), ontgin dié duo se bekroonde vaardighede ten volle. Odendaal vertolk Frank uitspattig, maar hy is taalgevoelig en het selfs ’n liefde vir Afrikaanse spreekwoorde. Tim, oënskynlik selfvoldaan en arrogant, is tog ook kwesbaar en broos, veral in sy naarstige soeke na die regte woorde om homself uit te druk. Taal, sê die kroegman vir die dronkaard, is ’n manier om vir iemand iets te sê …

Odendaal is vir sy rol hierin vir ’n Kanna as beste akteur benoem en Van der Walt as beste manlike byspeler. Die stuk is ook vir beste debuutwerk benoem.

Soos die nag wink, die voggies vloei, die tonge losser sleep en die inhibisies vlug, verlep die skille en taan die voordoen. Die effektiewe benutting van die dekor dra by tot die verrassende ontknoping. Daar is ’n toneel, onder flitsende beligting, waar die kroegman die podium al in die rondte draai, terwyl sy kliënt in gechoreografeerde kykweer-aksie aan die kroegtoonbank hang, met die kroegstoel toertjies probeer doen, maar balans verloor. En soos hy dronker raak, word hy letterlik (liggaamlik en emosioneel) rondgeslinger; deels op die maat van die treffer “Onder in my whiskeyglas”.

Wat op daardie bodem gevind word, laat jou ongemaklik aan die knop in jou keel sluk. Ons wil almal tog maar net lief hê en lief gehê word … As ons tog net meer dikwels kon weet hóé om dit vir iemand te sê!

Wessel Pretorius en David Viviers in Dodedans van die Taurus. (Iewers in daardie geveg is die bloedsel Santiago) (Foto: Hans van der Veen)

Wessel Pretorius (as Romeo en die spermsel Linguine) en David Viviers (as Juliet). (Foto: Hans van der Veen)

Wessel Pretorius

Komedie is dikwels die stiefkind wanneer beoordelaars toekennings uitdeel; so asof dit ’n minderwaardige genre is. Onwaar, uiteraard. Daarom is dit verblydend dat nóg ’n komedie, die astrant-parmantige Klara Maas se hart is gebreek, en so meer: Die vloeistof-trilogie, ook met vier Kanna-benoemings erken word.

Wessel Pretorius se “kort” Klara Maas het verlede jaar as Uitkampteaterstuk ’n Kanna as debuutwerk gewen. Vanjaar het die uitgebreide trilogie vir Pretorius benoemings vir beste nuutgeskrewe teks, beste debuutwerk én akteur en vir David Viviers as beste manlike byspeler besorg. Viviers is verlede jaar vir ’n Fiësta as beste opkomende kunstenaar benoem.

Die stuk kap ook onwillekeurig aan die ander bekroonde komedie, Die koninkryk van die diere, waar akteurs, ter wille van oorlewing, die vreemdste karakters moet vertolk.

Pretorius en Viviers (ook ernstige akteurs wat albei al met toekennings vir dramatiese vertolkings bekroon is) word tot vloeistof gereduseer en vertolk onder meer die rolle van ’n traandruppel, ’n bloedsel en ’n spermsel! Twee reisende spelers, ’n verteller en ’n handlanger (in effense Commedia dell’arte-kader-styl) skets drie verhale: die biografie van ’n traan – Traan 1 0455 (Klara Maas se hart is gebreek), ’n liefdesdriehoek tussen matador, mantel en bul (Dodedans van die Taurus, oor die tragiese verloop van die bloedsel Santiago), en ’n legendariese nag van passie (Romeo en Juliet en Linguine), oor die versugting van ’n spermsel wat die kuns van vlieg wil bemeester. Dié trilogie oor lewensiklusse is skreeusnaaks, volop prettige hansworstery en smeulende, verleidelike lyfteater – sónder volvoor naaktheid! Pretorius, wat ook ’n legio ander karakters vertolk, oorrompel met sy geartikuleerde vokaliteit en skerp komiese tydsberekening.

Hier kon ek ’n rukkie kommerloos ontvlug!

Wessel Pretorius in Die Ontelbare 48 (Foto: KKNK)

Dit verg fokus, konsentrasie, berekende tempo en afwisselende nuansering en interpretasie om ’n gehoor op jou eentjie ’n uur lank te boei. ’n Goeie solostuk word gekenmerk aan teksskerpheid, karakters wat jou intrek, ’n eerlike, geloofbare vertolking en ’n onverwagte, verrassende wending wat jou in jou krop moker en verslae laat.

Wessel Pretorius slaag briljant daarin. Sy solo-tragikomedie, Die Ontelbare 48 (waarvoor hy ook as beste akteur benoem is), tréf hard en vier die mens se uithouvermoë. Dit speel af in ’n fiktiewe tipiese plattelandse dorpie, Wakkerstroom. Maar alles is nie pluis nie, want tussen daardie inwoners is daar ’n onverwagte moordenaar met ’n sluwe plan. Dit is ’n mikrokosmiese blik op die alledaagse menslikheid wat ons almal, maak nie saak hoe anders ons dink of leef nie, uiteindelik saambind. Pretorius vertel wat gebeur deur die oë van vyf van die 48 dorpenaars wat by ’n skoolsaal bymekaar kom vir ’n onskuldige fliekaand. Hy wissel geloofwaardig tussen ’n peuter, ’n tiener, ’n middeljarige en ’n bejaarde – mans en vroue – en verweef situasies en interaksies met spaarsamige rekwisiete, maar met tonne talent. Hy trek jou stelselmatig in en dan boender hy jou verslae en stom. En jy treur stilweg onder jou glimlag.

Ek het op 23 produksies (uiteindelik óók dramas) besluit, bloot omdat dit vanjaar die 23ste aanbieding van die KKNK was. Uiteraard moes ek produksies systap; dikwels gelei (of dalk mislei?) deur mederesensente en teatergangers se kundigheid en/of genieting. My vraag was bloot: “Gaan ek sielsarmer wees daarsonder?” Gevolglik het ek onder meer Pierre van Pletzen se eenmanklug Voël innie hand by my laat verbygevlieg, want die beelde wat dit by my gewek het, was bloot té onaansienlik.

Maar ek was dapper en het die feesklug (’n gunsteling tussen die top 10 aanbiedinge), My man se skelmpie se skelmpie se vrou (’n vertaling van Ray Cooney en John Chapman se Not now Darling, wat ons egter reeds in Afrikaans as Flikflooi gesien het), aangedurf. Ek het my verkneukel in die veterane Raoul Beukes en Elma Potgieter se fyn tydsberekening en die jong akteur Francois van Rensburg se breker-kamee. Maar ek was verstom oor van die ander akteurs se onvermoë om statuur en karakter te behou en sónder enige poging tot selfbeheersing in lagbuie uit te bars en harder as die gehoor te skud en skater. Een keer is gaaf; dit maak ’n akteur menslik. Maar té diwels is ʼn onderskatting van die gehoor se intelligensie en dan raak dit ʼn ongemaklike verleentheid.

En ai: die Nkandla-ding is nou al so voos gery; dit vrot al!

Evita Bezuidenhout in Baron van Rheedestraat op Oudtshoorn (Foto: KKNK)

Die straathoogtepunt by vanjaar se fees was gepas ’n besoek van Evita Bezuidenhout. Pieter-Dirk Uys se alter ego is op 10 April ingevolge ’n besluit van Oudtshoorn se munisipale raad die Vryheid van die Dorp toegeken. Sy het ’n helde-ontvangs in Baron van Rheedestraat beleef en het die skare ná die verrigtinge op die balkon van die Queen’s Hotel toegewuif.

Dit was rooitapytoomblikke. Weliswaar oomblikke wat jou aan die afgryslike verlede herinner het; maar dit was goeie, ontnugterende, aan- en ingrypende teateroomblikke!

En ontvlugting!

Soos ons in die pittig-briljante komedie Die koninkryk van die diere (my algehele KKNK-gunstelingvertoning!) herinner is: as jy wil oorleef, maak kuns (en/of vlak vermaak) – of word brêkfis


Lees ook:

KKNK 2017: Die naakte waarheid

Christiaan J de Swardt
Feeste

"Christiaan J de Swardt loer hóé aanvaarbaar naaktheid, seks, geweld en vooroordeel op die verhoog geword het."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top