Kingdoms of fire, ice and fairytales
Met Bonné de Bod
Regie en kamera: Susan Scott
Dit voel of jy op fluweelwolke sweef en kort-kort kussingsag daarin wegsak wanneer jy na die dapper Stroop-meisies, Bonné de Bod en Susan Scott, se jongste dokumentêr kyk – juis dit wat ons nou, wanneer ’n groot deel van die land bedruk is en ons die wêreld tweedehands van agter maskers ervaar, benodig.
Dit is tog talle tuisblyers so grootste begeerte om tog net een keer ongesteurd (en in ons gewelddeurdrenkte land veilig) die natuur te kan waardeer en verken, veral ’n eksotiese, vreemde landskap waarmee ons dalk nie so vertroud is nie. En dit is juis wat hierdie twee vernuwende, verbeeldingryke en dapper vroue regkry. Om jou na paradyse te neem en tot in sy diepste geheimenisse te laat wegraak. Dit swiep jou dan vir ’n salige vakansie in veiligheid na plekke waar jy dit tevore nie sou gewaag het nie, of bloot nie die geld sou gehad het om heen te gaan nie.
De Bod en Scott neem ons soos goeie vriende saam, eers na Amerika se befaamde Yellowstone Park se eeue oue vulkaan en landskap met sy oeroue legendes; daarna verdwaal ons in die diepste strokieslegendes en -geheime van die Swart Woud, en staar dan na die Boheemse skoonheid van die Noorderligte in Noorweë. Waar veral Bonné de Bod met ’n byna vermetele maar dapper toewyding tot in die verrotte hart en afgesnyde horings van moordkultuur van renosterstroping gegaan het (en dit toeganklik vir die oningeligte gemaak het), draai hulle die muntstuk nou om, vee die bloed af, en staar met onverbloemde liefde na die skoonheid van die ongeskende natuur wat jy skaars op poskaarte sien. Dit dwing jou om dieper te kyk.
Maar hierdie is geen gewone mooi selfiefraai uitbeelding van asemrowende natuurtonele nie. Enigiemand wat al ’n kamera in sy/haar hand gehad het, kan daarin slaag om dit vir jou te wys. Met haar immersoekende vertellerkamera wat ons na die mees onverwagse plekke neem, dring Susan Scott diep in die donkerste hoekies van die Swart Woud in, terwyl Bonné sprokies se wortels noukeurig naspeur, maar dit op so ’n persoonlike en toeganklike wyse aan die kyker oordra dat dit voel of sy dit net vir jou as (grusame!) slaaptydstorie vertel. Want die meeste sprokies se oorsprong was maar bloedig en donker.
Haar menslike, vriendelike aanbieding en dapper voortbeur deur woeste sneeulandskappe ver benede vriespunt is grootliks die rede hoekom hierdie dokumentêr so verstommend slaag. Die wyse waarop sy haar inligting oordra, en Susan Scott se begrip van hoe haar kamera hierdie vertellings ondersteun en uitlig, maak dit so besonders. Ook wat Scott wys sonder om oorweldig te word deur die skouspel.
Hierdie is ’n besonder optimistiese, en by tye vrolike, dokumentêr wat die wonders van ons planeet na ons voorkamers bring deur twee deurwinterde en deeglik-voorbereide, bekwame vroue vir wie niks te moeilik of te veel moeite is nie.
Om in die Noorderligte te verdwaal en soos ’n engel daardeur te sweef mag een van die grootste ervarings van jou lewe op televisie wees vanjaar. Daar is weinig sentimenteel daaraan. Ook sonder enige dokumentêre cliché in sig wat blote gemaklike inligting van ’n teks afstandelik oordra. Hierdie vroue was daar en het dit eerstehands ervaar.
Gaan saam met hulle en ervaar ’n koninkryk vol vuur, in teenstelling vrieskoue ys en verbluffende sprokiesverhale soos jy dit nog nooit tevore gesien het nie.
Die sukses is om dit deur die oë van twee vroue te sien wat eers byna verdrink het in die bloed en derms van renosterstroping, maar nou die skoonheid van die natuur vier. ’n Welkome kontras wat wys hulle bemin die natuur met ’n passie wat min hulle kan nadoen.
Nou op Showmax.
Onmisbaar.

