Kinders vannie suburbs: “Die wêreld het vriendelikheid nodig”

  • 0

Kinders vannie suburbs is een van die nuwe musiekprojekte uit die noordelike voorstede van Kaapstad. Corné Opperman, leier en voorlopig enigste lid van die band, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Corné. Hoe’s dinge?

Hi Henry! Dinge gaan goed en besig, wat altyd goed is.

Baie geluk met die snit “Thanks for the memories”, wat onlangs bekend gestel is, en die opkomende EP van vyf snitte wat, soos ek dit verstaan, op 6 Maart beskikbaar sal wees. In ’n beskrywing op Kinders vannie suburbs se Facebook-blad verduidelik jy dat die EP deels gekom het ná ’n ander mislukte musiekprojek ... Dat jy jou stem moes vind en in beheer moes wees van jou musiek. Kan jy dalk meer lig hierop werp? Watter foute is daar met die vorige projek gemaak waaruit jy moes leer, en watter blote wrede heelal-truuks het oor jou pad gekom wat jy moes afskud? En ook: Hoe vind ’n mens die motivering om basies oor te begin? Was daar ’n spesifieke oomblik toe die huidige musikale roete vir jou duideliker geraak het?

Baie dankie. My ander projekte waarvan ek gepraat het, het misluk as gevolg van ego’s en lede wat nie dieselfde sieninge gehad het nie. Daar was omtrent drie projekte waar ek óf kitaar, óf bass, óf vocals gedoen het. Elkeen van daardie projekte was sound-gewys anders. Twee van die projekte was rock bands en die laaste een was ’n metal band. Ek het gevoel ek daar is nie regtig iets wat by my pas nie, want ek wil nie aan net een genre van musiek behoort nie.

Ek het ook heeltyd songs geskryf, en daar was altyd in die projekte vir my gesê dit pas nie by die band se sound nie. Ek is uit my laaste band geskop omdat ek nie by hulle sound gepas het nie. Ek het dus na dit begin om net myself te volg en sing en skryf hoe ek wil, al is dit selfsugtig.

Vorige foute was dat ek soortvan beterweterig was oor als, omdat ek kennis van die industry gehad het, maar eintlik het ek nie als geweet nie. Die enigste struikelblok was om motivering te kry om weer te begin. Ek het besluit om oor te begin nadat ek gevoel het dat my musiek dalk iets vir ander kan beteken. Die aand toe Sunset Sweatshop (die hele band) met my kom gesels het ná ek Hoërskool Bellville se talentkompetisie gewen het, het ek weer gemotiveerd begin voel. Ek het my song “Thanks for the memories” gesing en eintlik gegaan om dit te bemark. Toe ek sien dat selfs mense in ’n suksesvolle band my wil help deur vir my ’n opening slot aan te bied, het ek besef ek moet aanhou met my musiek.

In dieselfde Facebook-inskrywing praat jy oor ongesonde verhoudings – romanties en vriendskaplik – wat die agtergrond vir die EP bied. Daar is beslis sterk temas van verlore liefde (byvoorbeeld “Ek’s jammer indien ek pla / ek wou net sê ek gee nog om vir jou” uit “Korttermynliefde”) en vriendskaplike verraad (“Vriendskap verruil vir ’n dubbel-Olof sonder my / Ja dis vir my scary shit” uit “Dis scary shit”). Dit is natuurlik nooit maklik om intense rouheid en seer vir die wêreld te wys nie ... Of hoe het jy dit ervaar? Hoe omskep ’n mens ’n baie spesifieke gevoel, verbonde aan spesifieke mense, in iets waarby ’n groter gehoor sal aanklank vind? Dan sê jy ook die EP was ’n vorm van terapie vir jouself rakende hierdie verhoudings. Mag ek vra: Het dit gewerk?

Ek voel eerlikheid is nodig in musiek. Al die musiek wat ek op ’n gereelde basis luister is musiek waarmee ek kan relate. As jy nie eerlik is in jou musiek nie, hoe wil jy dan hê jou musiek moet goed doen? Om soms kwesbaar te wees bring ’n ander sy van musiek na vore en laat mense besef die ou sê goed wat mense dalk reeds dink.

“Korttermynliefde” is half konseptueel. Dit het toepassing op my lewe, want ek is al deur ’n ervaring waar ek verlief was op iemand en mislei is. Die lied was op ’n tyd my manier om myself te laat nadink oor hoekom ek dit toegelaat het. Alhoewel ek kwaad is vir dié wat dit gedoen het, het ek nog steeds daagliks gedagtes oor byvoorbeeld hoe dit met hulle gaan.

Die ding met “Dis scary shit” is dat die song ’n ware verhaal is. Op ’n stadium was ek in ’n vriendekring waar almal underaged drinking gedoen het, en ek nie. Ek wou net nie. Ek was altyd na hul parties genooi, maar kon sien dit was maar net om ’n nugter persoon daar te hê. Ek het naderhand besef dat dit my mentally breek. Die song was terapeuties en ’n manier van terugkyk waardeur ek besef het hoe scary dit is om in so ’n wêreld te lewe. Op ’n manier was die lied erkenning dat daardie tydperk scary shit was.

Die skryf van die album het alles beter gemaak. Ek word konstant herinner aan daardie tydperk. Die skryfproses was terapeuties in die sin dat dit alles meer duidelik gemaak het en om dit te skryf het wel gehelp om die wonde te genees en my te laat besef dat daardie tydperk is wat dit is. Ek het nou duidelikheid en het op ’n manier self-comfort gekry.  

Gepraat van die skryfproses ... Dit werk sekerlik anders vir elke musikant, en veral vir jong musikante wat nog hulle eie “tone” en stem vind, soos jy self sê. Wat kom vir jou eerste? Die akkoordstruktuur, die melodie, die lirieke? Hoe laat jy hulle almal saamwerk, en hoeveel herverwerking vind plaas? Wanneer weet jy ’n lied is nou gereed?

Die skryfproses is vreemd. Ek skryf 80% van die tyd woorde eerste en dan melodie. Die akkoordstruktuur hang af van hoe ek wil hê die song vir die luisteraar moet klink en om emosie te ontlok. Baie keer doen ek geen herverwerking nie en soms maak ek die klein goedjies, soos ’n verkeerde akkoord, reg deur dit net oor te doen.

Ek probeer maar oor alledaagse goed skryf, soos waardeur ek gaan, of ek gee lewe aan ander se stories, met hul toestemming. Ek weet ’n lied is reg nadat ek dit ’n paar keer geluister het en selfs by ’n optrede gespeel het. Ná die lied opgeneem is en klaar gemix en gemaster is, laat ek my vriend Tiaan Beukes daarna luister. Die meeste van die tyd laat hy my aan sy kar se Bluetooth connect en dan speel ek vir hom die songs. Sy oor is nogal goed en hy luister fyn. Hy sal my sê wat hy dink te sag of te hard is op die song. Daarna sal ek gaan verander en hom vra om te luister en so speel ons dit ook vir ander sodat hulle kan terugvoer gee. Dis ’n vreemde proses, maar dit werk.

Jy het ’n unieke en meesleurende stem – ’n hoë register, wat selfs plek-plek neig na falsetto. Wanneer en hoe het jy begin sing, en hoe het jou stemwerk gegroei tot waar dit nou is? Hoe sal jy dit graag nog verder wil laat groei? Is daar spesifieke sangers by wie jy wenke kry wanneer jy luister?

Ek sing al my hele lewe lank. Ek het maar nog altyd gesing. My vriend Rossouw het ’n kitaar gehad en hy sou baie keer speel en ek moes sing en soms het hy ook saamgesing. Toe sy familie en ander vriende wat my sangstem gekomplimenteer het my begin aanmoedig om te sing, het ek geweet ek moet daarop fokus. My stem is deels ontwikkel deur Michelle Cabral, ’n vocal coach by Jamrock Music Academy in Brackenfell. Sy was streng en het my alles geleer oor wat ek reg doen en wat ek verkeerd doen.

My stem is op ’n goeie plek en ek wil dit net behou soos wat dit is. Pierre Rossouw het my ook baie uitgehelp deur te sê waarop ek moet fokus en dat ek moet aanhou en nie opgee toe ek wou opgee nie. Die ouens van Sunset Sweatshop het my ook gehelp en net aangemoedig om te behou wie ek is.

Corné Opperman (foto: verskaf)

Die EP bevat songs in beide Afrikaans en Engels ... Wel, net een Engelse snit (“Thanks for the memories”), maar daar is ook ’n ander Engelse snit van jou op YouTube, “Gone with the wind”. Vind jy dit makliker om in Afrikaans of Engels te skryf? Is dit ’n poging om beide die Afrikaanse en Engelse mark te penetreer? Of “voel” ’n song soms net Engels of Afrikaans, en hoe gebeur dit?

Ek het “Gone with the wind” gemaak toe ek nog gedink het om heeltemal Engels te gaan, maar ek kon nie verder as daai een sad song skryf nie. Dis vir my makliker om in Afrikaans te skryf, aangesien dit my eerste taal is. Afrikaans is ’n mooi taal en om in jou eie taal te skryf en sing is iets anders. Ek voel altyd selfbewus met Engels, want ek spreek nie altyd die klanke reg uit nie. Soms sal ek in Engels skryf net om te kyk of ek kan. Ek het my eerste single in Engels geskryf, maar sou dit nooit release nie. Ek het besef ek moet dit net release, want mense kan dalk daarmee relate.

Ek fokus op Afrikaanse musiek.

Gepraat van die plaaslike mark(te) – dit is ’n vreemde monster, om die minste te sê. Hoe beskou jy Kinders vannie suburbs se uiteindelike plek op die plaaslike musieklandskap? Is daar spesifieke venues of feeste waarvan jy droom, of andere waarvan jy nagmerries kry? Ons het ook al gepraat oor die mislukte musiekprojek. Waarvolgens sal jy uiteindelik Kinders vannie suburbs as suksesvol bestempel?

KVS het nog nie regtig ’n plek nie, om eerlik te wees. KVS is op die plek waar niemand anders is nie. Ek wil nie in ’n boksie geplaas word nie.

Corné Opperman (foto: verskaf)

Ek het dit van die begin af geweet. Die industry is ook op ’n vreemde plek waar nuwelinge sukkel. Om die projek as suksesvol te bestempel, sal ek eers by al my bucket list venues soos Aandklas, Bohemia, Rumours Lounge en sulke plekke moet speel. Ek wil graag eendag by Rocking the Daisies en Up the Creek wil speel, want dit sal by my musiek pas.

Al wanneer ek nagmerries oor venues kry, is wanneer die kommunikasie met die agent sleg is en ek met die vrae gelos word. Ek wil ook nie regtig aan een genre verbind word nie, want ek wil heeltyd nuwe sounds probeer en nie as ’n sell-out gesien word nie.

Op die meeste van die snitte hoor ’n mens slegs vir jou en ’n kitaar, maar daar is ook hier en daar ’n vol band te hoor, spesifiek op “Dis scary shit”. Beplan jy om een of ander tyd van Kinders vannie suburbs ’n voltallige band te maak? Of slegs deurlopend sessie-musikante in te span? Sal dit ook die geval wees met live shows? Indien jy eerder net solo sal bly, waarom die bandnaam Kinders vannie suburbs kies, en nie bloot optree onder jou eie naam nie? (Dis natuurlik nie ’n slegte of vreemde ding nie, ek wonder maar net ...)

Op die oomblik is KVS nog ’n solo-projek, maar indien die full band aangevra word, of ek sien dit kan by ’n sekere venue pas, sal ek session-musikante gebruik. Baie van hulle wil vir my speel en ek weet hulle is betroubaar en gaan my nie laat stres oor hulle professionaliteit nie, want hulle weet klaar wat van hulle verwag word. Die droom sal wees om vaste lede te hê, maar vir nou is ek nog fine daarmee om session muso’s te gebruik. Die band-naam het net vir my cool geklink en toe vat ek dit.

Ek wil eerder nie onder my eie naam speel nie. Ek hou net nie daarvan nie en het te gewoond geraak daaraan om ’n projek se naam te gebruik.

Volgens ’n ander mediaverklaring studeer jy tans digitale bemarking. Daar is natuurlik baie groot bands wat in hul studentedae ontstaan het. Hoe balanseer jy die studies met die musiek? Sal jy die musiek as ’n loopbaan wil uitleef, of dit eerder koester as ’n tipe side hustle terwyl die eintlike loopbaan aan die gang bly? Kan ’n mens eens beplan vir hierdie soort dinge?

Ek sal graag voltyds wil optree, maar sal iets wil hê wat my in die dag kan besig hou. Ek balanseer dit deur datums beskikbaar te stel wanneer ek weet ek kan optree, bv oor naweke en vakansies. ’n Mens kan daarvoor beplan. Ek kry al my datums vir toetse en take vooraf (al op die eerste dag van klas), so ek kan beplan watter datums in die jaar gaan werk en wat nie.

Wat is die sin van die lewe?

Die lewe is wat jy daarvan maak. Ek lewe op ’n basis waar ek almal hanteer soos wat ek wil hê hulle my moet behandel. Die wêreld het vriendelikheid nodig.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top