"Kiekies van Cradock" – die Karoo Skrywersfees 2012

  • 0

Op pad Karoo toe het Haai Karoo's soos muskeljaatkatvelle oor die kampdrade gehang om winddroog te word. (Hierdie foto is deur Menán van Heerden geneem.)
              

Haai Karoo is in die swanky Victoria Manor bekendgestel, met wildsvleis en goeie wyn.
 

Uiteraard was daar ’n groot opkoms tydens Haai Karoo se bekendstelling in die Victoria Manor.
 

Soos dit maar gaan daar waar meer as een skrywer bymekaar is, het die luiperd gespring. Jason Lloyd, LitNet-rubriekskrywer en Melt Myburgh, oud-SêNet-webmeester, het die kolle getel.
 

Veerman, uit my roman Die swye van Mario Salviati, het ingevlieg gekom. Die beeld, gebaseer op die engel in Die swye, is deur Frans Boekkooi gemaak en op die fees bekendgestel.
 

Lake Arthur (wat genoem word in Gifkaroo, my antihidrobreek-boekie wat eersdaags sal verskyn) se pens was vol.
 

Kerktoring en palmbome. Op die historiese dorpsplein staan ’n Wimpy om feesgangers te herinner dat alles van waarde weerloos is.
 

Soos dit maar gaan wanneer jy skryf, was daar ’n hek met veertien slotte waardeur alle genooide skrywers moes kom.
 

Die fees is deur Lisa Antrobus-Ker georganiseer. Klein dinamiet met ’n groot knal.
 

Romansier EKM Dido was LitNet se eregas; hier aan die brekfistafel afgeneem.
 

LitNet is deur die digter Bibi Slippers, wat ook LitNet se redakteur vir nuwe skryfwerk is, verteenwoordig.
 

Melt Myburgh van die Woordfees, pas nadat hy die digter Clinton V du Plessis voorgestel het. In die ruim tuin van Albert House.
 

Clinton V du Plessis het ’n nuwe digbundel na die fees gebring. Toe hy sy gedigte voorlees, het hy nie net die mes ingedruk nie, maar ook die lem gedraai.
 

LitNet het ’n Skoolindaba aangebied wat deur ongeveer 40 mense bygewoon is. Hier sit die sprekers: Russell Kaschula, wat in die Oos-Kaap grootgeword het en nou hoof is van die Skool vir Tale aan die Universiteit Rhodes; EKM Dido, skrywer van romans, wat in die ou Transkei grootgeword het en in die Holy Rosary Convent op Cradock op skool was; en Peter Mtuze, oudhoof van Afrikatale by Rhodes en ook eens adjunkregistrateur van die universiteit. Hy het op ’n plaas net noord van Cradock grootgeword. Die skrywers is drietalig en het tesame by die 40 boeke gepubliseer.
 

Cradock-leerders het plakkate gemaak wat by die LitNet Skoolindaba uitgestal
is. Op dié plakkate: Schreiner en Calata. Google hulle gerus.
 

LitNet het ook, met Bibi Slippers as voorsitter, ’n paneelbespreking ("Cultural Crossover – Is it happening?") aangebied.
 

Tim Huisamen, oudkollega van Rhodes, het die gesprek oor Haai Karoo saam met
my behartig. Slim en wys.
 

Russell Kaschula, EKM Dido, Tim Huisamen en Peter Mtuze het die fees verryk met hul menslikheid en beleë ervaring. Saam met sulke mense gaan ek oorlog toe.

Click here to read Clinton V du Plessis launches Flitse at Karoo Writers Festival.

Click here to read “Unlock the room that you are”: LitNet’s first Youth Indaba a success.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top