“A group of rangers working on a private game farm in South Africa set up a challenge to see who can have sex with the most tourists during a season. Winner keeps all the tips.”
Daar is werklik nie meer tot die storielyn as dit nie.
As ’n gewaagde (seks-) komedie werklik (slim-) snaaks is, kan die skeppers draaksteek met omtrent enige heilige koei en boonop die grense van die genre verskuif.
Dink aan daai toneel in jou gunstelingkomedie waar jy jouself uitasem gelag het. Die voedselvergiftiging-chaos in Bridesmaids (2011). Mike Tyson se gesteelde tier wat wakker word agter in die kar in The hangover (2009). Die “deep fried chicken”-oomblik in They cloned Tyrone (2023).
Hierdie films was werklik snaaks, maar het ook die grense van die genre vernuwe. Daar is ’n punt gemaak sonder om wreed te wees, elke karakter het betekenis gehad en die weirdos is met waardigheid hanteer.
........
Hierdie films was werklik snaaks, maar het ook die grense van die genre vernuwe. Daar is ’n punt gemaak sonder om wreed te wees, elke karakter het betekenis gehad en die weirdos is met waardigheid hanteer.
.........
Bridesmaids, ’n groot, morsige, r-rated-fliek, gewoonlik gereserveer vir ’n manlike rolverdeling, is vertolk deur amper uitsluitlik vroue. Die skrywers het die cookie cutter mold gebreek deur suksesvolle, feilbare, seksuele, selfsugtige en liefdevolle vroue uit te beeld.
Die onverskonende “what happens in Vegas, stays in Vegas”-humor van The hangover was ’n vars briesie in ’n see van veilige, kommersiële komedies. Onderwerpe soos seks, naaktheid en selfs dwelmmisbruik is aangebied as snaaks, amper absurd, sonder om prekerig te wees.
They cloned Tyrone het Blaxploitation-estetika gekombineer met wetenskapsfiksie en donkerkomedie. Wetenskapsfiksie is boonop hier nie gebruik om te ontsnap nie, maar om onderdrukkende sisteme te kritiseer.
So, as ’n gewaagde (seks-) komedie nie slim of snaaks is nie, bly die heilige koeie, wel, heilige koeie. Dit krimp daarby die grense van die genre. Khaki fever is nie snaaks nie. Die draakstekery bly dus grootliks platvloers. Dit is nie die “boere comedy”, in die regisseur se woorde, wat die Suid-Afrikaanse filmindustrie nodig het nie.
Stereotipes
Nie net daag Khaki fever stereotipes nie uit nie, die film versterk dit.
“Hunt a grunt”
Die opskrif is vanselfsprekend. Jy jag ’n prooi wat niemand in belangstel nie, ’n prooi wat gevang wil word. Vroue wat lelik, siek of gestremd is en desperaat is vir ’n bietjie aandag. Dan kan wildbewaarder, Albie (Francois Jacobs), na die tyd vir sy pelle vertel dat die epilepsielyer tydens orale seks gelyk het soos ’n “pitbull wat pap vreet”.

Prent: Showmax
Vleisgordyne
Anel (Trix Vivier), die anale bestuurder van die reservaat, dreig om almal wat met die gaste flankeer, af te dank. Wanneer sy uitvind van die kompetisie, hou sy haar belofte. Hul plan? Maak haar “vleisgordyne” oop. (Nie my woordkeuse nie.) Blykbaar het sy net ’n goeie spyker nodig. Hulle plan werk.
Viagra
Hoeveel films gaan nog die geykte Viagra-grappie gebruik? Die ou bok onder die jong ramme het ’n blou pilletjie nodig.
Maak haar jaloers
Marco is verlief op Embeth, maar sy stel nie in hom belang nie. Die plan? Gaan spyker ’n streep ander meisies om haar jaloers te maak. Hul plan werk.
Gay mans en hul seksdrang
’n Gay rugbygroep besoek die hotel. Raai wat gebeur? Ja, ’n orgie. Werklik? Kaal lywe wat die hele plek rondlê? Kom nou.
Toneelspel
In ’n onlangse onderhoud oor die wegholsuksesvolle spoof, Naked gun, het Pamela Anderson en Liam Neeson gesê: “You play it straight”, anders is dit nie snaaks nie. Jou karakter moet glo in wat hulle sê of doen, en nie probeer snaaks wees nie. Alhoewel Khaki fever topakteurs bevat, maak almal die fout om te hard te probeer om snaaks te wees. Vertolkings is oordrewe en weer eens nie snaaks nie.
Punching up versus punching down
Die boonste aanhalings (“hunt a grunt”, “’n pitbull wat pap vreet”, “vleisgordyne oopmaak”) is ’n goeie opsomming van die kaliber humor waarmee Khaki fever probeer vermaak. Dit versinnebeeld ook hoe die karakters, veral vroue, hanteer word. Hulle is prooi.
In vandag se klimaat sal ’n Suid-Afrikaanse gehoor ’n goeie komedie verwelkom. Khaki fever se platvloerse humor en verbeeldinglose storie onderskat ons intelligensie.

