Keshia Davids, superheld deur Alesha Dixon: ’n lesersindruk

  • 0

Keshia Davids, superheld
Alesha Dixon
Vertaler: Lydia du Plessis

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799388763

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die kinderroman Keshia Davids, superheld (2018) is die vertaling van Alesha Dixon se debuutroman vir kinders, Lighting Girl (2018). Die vertaling is behartig deur Lydia du Plessis, en sy kry dit beslis reg om die verhaal eg Suid-Afrikaans te maak.

Die roman vertel die verhaal van Keshia Davids, ’n laerskoolkind, wat ontdek dat sy superkragte het. Hierdie ontdekking vind plaas op ’n dag by die skool toe haar jonger sussie, Kaylee, geboelie word. Keshia se woede en ontsteltenis oor die hele gebeurtenis veroorsaak dat vonke en lig uit haar hande spat. Verward en onseker probeer sy dit so goed as moontlik wegsteek, want sy wil nie nog vreemder onder die ander skoolkinders voorkom nie. Sy kan egter nie vir ewig die geheim vir haar ouers wegsteek nie. En dit is wanneer haar ouers haar die waarheid oor hulle familiegeskiedenis vertel: al die vrouens in hulle familie het superkragte.

Keshia se vermoëns word uitgedaag wanneer haar ma haar ná skool begin onderrig en wys hoe om haar superkragte te gebruik. Haar lewe word ongelukkig ook hierdeur moeiliker gemaak. Sy het deesdae min tot niks tyd om saam met haar beste vriendin, Alicia, te spandeer nie, en haar buitengewone tannie met haar troeteldiervolstruis, Prins Valentyn, maak sake nie makliker nie.

Alesha Dixon se roman is ’n verhaal oor ’n meisie in ’n moderne Suid-Afrikaanse familie wat haar identiteit ontdek, vrede maak met wie sy is en leer wie sy kan vertrou. Dit bied ook ’n realistiese uitbeelding van hoe ’n superheld vir ’n ma die familiedinamika kan beïnvloed.

Die verhaal bevat dikwels ook absurde en lagwekkende verskynsels, soos Keshia se ma wat met geskroeide hare van die gym af kom:

"Mamma!" sê ek. "Wat het gebeur?"

Haar glansende lang bruin hare staan regop in alle rigtings. Dit lyk asof sy ’n groot verestoffer op haar kop het. Rookwolkies trek by haar haarpunte uit. (19)

Dan is daar haar ma se tweelingsuster, tannie Dessie, wat met ’n aandrok en haar volstruis by Keshia se oueraand opdaag:

Net toe ons by meneer Daniels se tafel kom, is daar skielik ’n groot kabaal agter in die klaskamer. Ek kan nie my oë glo nie. Tannie Dessie kom na ons toe aangestap met ’n deftige groen aandrok aan. Sy het ’n oranje skemerkelkie met ’n blou sambreeltjie in haar hand. Prins Valentyn kom agterna met ’n klein hoedjie op sy kop. (65)

Dan is daar ook Keshia se broer, Clio, wat ’n rekenaarspeletjiemaatskappy se sagteware binnedring omdat hy verveeld is met die ou weergawe van sy rekenaarspeletjie en graag die volgende uitgawe wil hê (114–5).

Die verhaal en die skryfstyl van die roman is geskik vir die jonger jeug – 13 en jonger. Dit word in die eerste persoon geskryf, vanuit Keshia se perspektief. Die taalgebruik is hoofsaaklik maar eenvoudig, met hier en daar ’n meer verouderde Afrikaanse woord of tradisionele Afrikaanse uitdrukking. Die uitdrukkings en woorde is dalk nie gepas vir die teikenmark nie, maar dit is miskien ook ’n manier om die jonger jeug bewus te maak van hierdie pragtige Afrikaanse taalgebruik:

"Ek het sy planne in die wiele gery." (69)

"Hy het my gevra of ek saam met hom wafels en roomys wou gaan eet. Ek het ja gesê. En toe was die koeël deur die kerk." (72)

"Sy dink dit gaan alles oor ma en pa, wat grotendeels waar is." (76)

"Ek’s so bly almal kom. My pa gaan drie verskeie soorte koeke bak. Hy raak bietjie meegevoer." (78)

"Die opwelling van hitte deur my hele lyf tot my vingerpunte." (97)

"Dan het ons ’n voorsprong," sê Ricardo. "Hy gaan nie verwag dat jy hom probeer keer nie." (133)

Die roman bevat ook besonderse en humoristiese wit-swart illustrasies, geteken deur James Lancett en Steve Simpson. Dit ondersteun en dra by tot die uitbeelding van die karakters en die absurde situasies waarin hulle hulle bevind.

Alesha Dixon se roman en Lydia Du Plessis se vertaling daarvan is ’n unieke boek vir enige jong leser wat sy of haar tone in die leserswêreld wil doop.

Foto van Alesha Dixon: John V Edwards, CC BY-SA 3.0, Wikimedia Commons

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top