Kerkorrel: vreemde vrug

  • 0

“Southern trees bear a strange fruit/ Blood on the leaves and blood at the root.”

"Who killed Cock Robin?" "I," said the Sparrow,
"With my bow and arrow, I killed Cock Robin."
"Who saw him die?" "I," said the Fly,
"With my little eye, I saw him die."
"Who caught his blood?" "I," said the Fish,
"With my little dish, I caught his blood."

"Who'll sing a psalm?" "I," said the Thrush,
As she sat on a bush, “I'll sing a psalm."

Wie het vir Kerkorrel doodgemaak? Net soos in die bostaande kinderrympie sing elkeen sy noot in die psalm van Kerkorrel se ontydige dood.

Gisteraand op sabc2 was daar Deon Maas se dokumentêr wat swaar leun op ’n samesweringsteorie.

Kerkorrel word om die beurt as primadonna, dromer, popster, “ekzoties snoepje” en liefling van die media beskryf.

Ons word getrakteer op footage uit sy era van onskuld, voor die jare waarna sy eksvrou, Anne, as sy ego-periode verwys. Dit val my weer op hoe sexy en pragtig hy was, soos ’n blom, vol goud en lig. In die laaste jare was die lyne van sy gelaat sinies, smalend, asof in sement geset.

Sy bestuurder ontken dat hy aan erge depressie gely het: gemoedsbekak was hy wel ja, soos ons almal, maar nie uitermatig depressief nie. Sy ontken ook dat hy vigs gehad het. (“When people ask me how do you know he didn’t have Aids, I tell them: How do I know the earth is round?”) Sy aanvaar geensins dat hy selfmoord gepleeg het nie.

Sy eksvrou erken dat hy selfmoord sóú kon pleeg, maar beslis nie op hierdie manier nie. Sy het na die toneel gaan kyk en plaas haar vraagtekens: Hoe het hy tot by die boom gekom en die krag gehad om hom aan sy belt op te hang nadat hy homself so opgekerf het dat hy sy bewussyn verloor het?

Uiteindelik sien ons ook sy seun Reuben aan die woord. ’n Mooi, sensitiewe seun, hoogs ordentlik. Hy vertel dat hy en sy pa altyd goed gekliek het, maar erken later dat sy pa se gayheid “die simpelste ding op aarde” was. “Ek bedoel, hoe kan ’n mens gay wees – kyk net na ’n vrou, die wonderlikste iets wat die Here ooit geskape het.” Presies my sentimente, seun.

In ’n aksent en woordeskat wat sterk herinner aan die Afrikaanse politici van weleer verwys Ralph se biograaf na “That terrible book Slagplaas that was written by Koos Prinsloo.” Ook soos ’n politikus van weleer was hy sy hande in onskuld: “The media did not murder him.” Daarna vertel hy in grieselrige detail van die doodsfoto’s.

Die mooie Stef Bos, macho in ’n wit frokkie en met besorgd-geplooide voorhoof, vind dit baie subversief dat Ralph ’n volksliedjie soos “Al lê die berge nog so blou” in ’n gayliefdesliedjie kon omskep.

Vriende in Nederland en België vertel dat hy ’n sensasie was wat tot 15 000 mense per gig getrek het. ’n Mens vra jou af waarom hy teruggekom het Suid-Afrika toe. Hier waar diegene wat wil uitstyg deur hul makkers na benede getrek word soos krappe in ’n emmer. So erken Koos Kombuis dat hy vir jare kwaad was vir Ralph omdat hy gouer bekend geraak het as die res van hulle en die meeste van die Voëlvry-donder gesteel het.

Tussendeur flits kwelvrae soos subliminale suggesties oor die skerm: Waarom is sy afskeidsbrief in Engels geskryf en waarom was dit ongeteken? Waarom het ’n handskrifdeskundige vasgestel dat die handtekening op sy testament vervals is? Waarom is sy selfmoordbrief op ’n ander rekenaar geskryf en na sy rekenaar oorgedra?

Ander vrae bly onverken, byvoorbeeld: Was Johnny K, oopgesig dromer en talentvolle, skaam seun nie dalk bestem om ’n meer beskeie balladeer te word nie? Was hy nie maar op die regte oomblik op die regte plek nie, het hy nie bloot die tydsgees met intelligensie, humor en ’n fyn aanvoeling vir subversiwiteit gesnap en die golf gery nie? Hy het die poster boy van die sogenaamde Alternatiewe Beweging geword. Hy het dit cool gemaak om Afrikaans te wees. Toe die Voëlvrybeweging se rakleeftyd verby was, kon hy nooit weer daardie roem ewenaar nie.

Dit is roerend mooi om Kerkorrel te sien sing aan “Gee jou hart vir Hillbrow” en “Halala Afrika”. Om ’n jonger, sorgvrye Ralph te sien lag in sonlig, wyd-grinnikend ’n deur te sien toestoot.

Who killed Cock Robin? Depressie, skuld, vigs, die gebrekkige konsentrasietyd van fans, die onverskilligheid van vriende, die bloeddorstigheid van die media, die finansiële eise van lovers? Ja, dit was ons almal.

Miskien moes die vraag eerder wees: Wie het Kerkorrel in die eerste plek vervaardig?

"Who'll be chief mourner?" "I," said the Dove,
"I mourn for my love, I'll be chief mourner."

LitNet: 6 September 2005

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top