Kennisgewing: Oproep om referate vir die SAAWK se jaarlikse algemene simposium vir 2022

  • 0

Foto van plant: Matt Palmer op Unsplash (gebruik ingevolge die Unsplash-gebruiksooreenkoms)

Die SA Akademie se jaarlikse simposium vind virtueel op 15 September 2022 plaas. Alle belangstellendes, ook nielede van die Akademie, word uitgenooi om ’n referaatvoorstel in te stuur.

Oorkoepelende tema: Om op te staan uit die as: Reaksies op rampe en pandemies met ’n fokus op die Covid-19-pandemie

Referaatvoorstelle oor die tema en relevante subtemas uit verskillende perspektiewe word tot 15 Mei 2022 ingewag.

Die breë akademiese wêreld het toenemend te make met ’n gebrek aan empiriese repliseerbaarheid en ’n gepaardgaande afname in geloofwaardigheid. Gesaghebbende wetenskaplikes verskil onderling oor temas soos die ekonomie (inflasie!), regte, onderwys, klimaatsverandering, ens, terwyl meningvormers, regerings en die algemene publiek beïnvloed word deur die sosiale media en halwe-waarheid-populêr-wetenskaplike inligting wat geredelik op die internet bekombaar is. Verloor die breë akademie geloofwaardigheid en respek? Bring dit die wese waarmee die SAAWK sig besig hou in gedrang?

Die wêreldwye omwenteling wat die Covid-19-pandemie sedert Maart 2020 meegebring het en hoe individue, gemeenskappe en lande geraak is, het álle aspekte van die menslike bestaan geraak.

Voorbeelde van subtemas is die volgende:

  • Reaksies op rampe en pandemies in die verlede
  • Bill Gates se voorspelling van die apokaliptiese uitwerking van virusse
  • Die vertegnologisering en moontlike "ontmensliking" van kommunikasie
  • Die skrikwekkende afmetings van (kuber)misdaad
  • Die grondwetlike implikasies van verpligte inentings en die verbod op en beperkings van byeenkomste
  • Die impak van inentingsmandate op wetenskapsbeoefening, die ekonomie, die strafregstelsel, die onderwys (primêre, sekondêre en hoër onderwys)
  • Die impak van fopnuus en gebrek aan kennis by leke (en selfs medici)
  • Die impak op klimaatsverandering: mislukte klimaataksies, uiterste weersomstandighede
  • Die impak op biodiversiteitsverlies
  • Die impak van Covid-19-inperkings en regulasies op landbou
  • Die impak op die besoedeling van natuurlike hulpbronne
  • Die impak op skeppende werk: Hoe reageer die kunstenaars? Hoe reageer die letterkunde, die teater, die musiekbedryf?
  • Die impak op godsdiensbeoefening en bediening

Belangstellendes wat ’n referaat (maksimaal 20 minute) wil lewer, word hartlik uitgenooi om ’n voorlegging wat aansluit by die oorkoepelende tema en verwante terreine in te stuur. Die voorlegging moet vergesel word van die volgende:

  • ’n opsomming van ongeveer 400 woorde
  • u volle name en van, titel, werksadres, e-posadres en selfoonnommer
  • ’n bondige CV (maksimum 150 woorde in prosastyl)
  • ’n hoëresolusiefoto van uself

Referaatvoorstelle moet voor 15 Mei 2022 aan Linda Brink gestuur word by linda@akademie.co.za. ’n Keurkomitee sal finaal oor elke voorlegging besluit. Terugvoer van die komitee: 15 Junie 2022.

Dieselfde model as in 2021 sal gevolg word om die simposium aan te bied:

  • Deelnemers se PowerPoint-aanbiedinge, asook persone wat verkies om gewoonweg aan te bied, se referate moet vooraf opgeneem en in video-formaat omskep word. Duidelike wenke oor hoe om die aanbiedinge self op ’n rekenaar op te neem, sal verskaf word.
  • Die laaste dag vir indiening van die video-opnames is 15 Augustus 2022.
  • Die videos word in verskillende sessies volgens die subtemas byeengebring. As voorbeeld, kyk op die Akademie se YouTube-kanaal (onder "Videos") hoe die 2021-simposium aangebied is: https://www.youtube.com/channel/UCp7S5UyyEazdGABB7owx2Hg.
  • Die sessies word ’n week voor die simposium op die Akademie se Facebookblad gebeeldsaai.
  • Op die dag van die simposium, 15 September 2022, word die hoofspreker se referaat intyds gelewer, waarna alle belangstellendes wat vir die aanlyn simposium inskakel, aan ’n direkte vraag-en-antwoord-sessie, met al die referente, kan deelneem.
  • Sprekers wat sou belangstel, kan na afloop hiervan 2 minute gebruik om toekomstige navorsingsbelange te opper en ander, met soortgelyke navorsingsbelange, uit te nooi om die spreker te kontak om moontlike samewerking te oorweeg.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top