
OGGENDSIMPOSIUM
Aangebied deur die Geskiedeniskommissie van die
SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Hoofstroom, stroomop, systroom, hoegenaamd ’n stroom? Die mite van Afrikaner-homogeniteit
Die twintigste-eeuse mite van wit Afrikaner-homogeniteit is lank reeds deur historici uitgedaag, en in ’n groot mate ter ruste gelê. Dink aan die bydraes wat reeds in die 1970’s van binne en buite Afrikaner-geledere gelewer is deur onder meer Dunbar Moodie, Dan O’Meara, Hermann Giliomee en Albert Grundlingh. In die daaropvolgende dekades het hulle op hul werk voortgebou, en veral in die 1990’s het historici soos Saul Dubow, Deborah Posel, Elsabé Brink, Maryke du Toit en Louise Vincent die mitologie verder uitgedaag deur op uiteenlopende Afrikaner-belewenisse te wys, en ook deur denkstrome verder te ontleed en hul teenstrydighede uit te lig. Vandag word Afrikaner-belewenisse binne die breër kategorie van witheid ontleed.
Tog leef die mitologie van Afrikaner-homogeniteit steeds in die politieke arena voort, waar dit as ’n handige strooipop dien vir die legitimering van huidige maghebbers – en terselfdertyd ook as ’n werktuig vir hedendaagse Afrikaner-ontnugtering en nostalgie.
Hoe kan ons binne ons huidige konteks, deur middel van gevarieërde verhale van Afrikaner-belewenisse, hetsy op ’n individuele of kollektiewe vlak, oor die gedagte van ’n Afrikaner-hoofstroom besin? Het so ’n hoofstroom, histories gesproke, ooit bestaan? Watter rol het persepsies daarvan in die politiek, godsdiens en sosiale omgang gespeel? Wie het dit in stand gehou en wie het dit uitgedaag? En bied dit insig tot ons hedendaagse debatte?
Hibriede simposium, Vrydag 27 Januarie 2023
09:00 tot 12:25
P R O G R A M
09:00 ‒ 09:05 VERWELKOMING
Prof. Anne-Marie Beukes, Hoof- Uitvoerende Beampte, SA Akademie
SESSIE 1 Voorsitter: Prof. Fransjohan Pretorius, Voorsitter van die SA Akademie se Geskiedeniskommissie
09:05 ‒ 09:30 Prof. Albert Grundlingh, Emeritus professor, Departement Geskiedenis, Universiteit Stellenbosch:
’n Afrikanergeskiedbeeld: Gevangene van sy eie sukses?
09:30 ‒ 09:55 Mnr. Albert Blake, onafhanklike navorser en skrywer:
Jopie Fourie: Die rol van sosiale media in hedendaagse herinnering en as navorsinginstrument in geskiedskrywing
09:55 – 10:20 Me. Cailin McCrae, onafhanklike navorser:
Toeing the line: The life of Emmie du Toit – exclusivity & agency within the National Party and beyond
10:20 – 10:40 Gesprek en vrae
10:40 ‒ 11:05 TEEVERPOSING
SESSIE 2 Voorsitter: Prof. Wessel Visser, Ondervoorsitter van die SA Akademie se Geskiedeniskommissie
11:05 – 11:30 Prof. Christi van der Westhuizen, Sentrum vir die Bevordering van Nie-Rassigheid en Demokrasie, Nelson Mandela Universiteit:
Petronella van Heerden en Afrikaner-nasionalisme: Die noodsaaklike randfiguur
11:30 – 11:55 Dr. Ruhan Fourie, Internasionale Studies Groep, Universiteit van die Vrystaat:
Van Prins tot Paria, en weer terug: Die ontlaering van Beyers Naudé
11:55 – 12:15 Gesprek en vrae
12:15 ‒ 12:25 Samevatting, bedankings en afsluiting van simposium: Dr. Lindie Koorts, Lid van die SA Akademie se Geskiedeniskommissie
Navrae oor bywoning kan gerig word aan: linda@akademie.co.za


Kommentaar
Dit is nie uniek aan Afrikaners nie. Ander kultuurgroepe het presies dieselfde verskynsel. Hier is goeie voorbeelde van navorsers wat die mite weerlê. Wat van ’n paar voorbeelde van wie dit lewendig hou? Name en shame gerus so bietjie.
Ook: Waar vind die simposium plaas? Kan mens aanlyn volg? Dit is baie interessante sprekers.
Is al die gepreksleiers bleek? Dit suggereer ’n blindekol.
Ek stel geweldig belang in hierdie onderwerp.
Die Afrikaner is 4.7% nie-Europees, naamlik 1.7% Indiër / Indonesiër / Maleisiër, 1.3% Khoi / San, 0.9% Chinees / Japanees en 0.8% Bantoe.
Maw die Afrkanervolk is 95,3% wit, oftewel van Europese afkoms. Dis 'n summa cum laude prestasie vir enige wit volk, te meer as dit 'n oorweldigende minderheid is.
- https://theconversation.com/what-genetic-analysis-reveals-about-the-ancestry-of-south-africas-afrikaners-133242
Dagsê, ek wil die simposium graag bywoon. Mag ek hier RSVP? Vind dit by die Akademie se kantoor plaas?
Vriendelike groete
Goeiedag! Navrae oor bywoning kan gerig word aan linda@akademie.co.za. Groete, die LitNet-redaksie
Vir wat hou wit mense 'n simposium oor wit mense se geskiedenis? Veral in Suid-Afrika? Dis weer daardie egokamer waar ons in afsondering mekaar beaam en op die rug klop.
Is die geskiedenis van die Joodse nasionalisme net die Jodendom se eie eksklussiewe stories? Of die nasionalisme van Afrika slegs vir Afrikane? Jy hoef gelukkig glad nie deel te neem aan dinge wat jou nie interesseer nie.
Ek verneem ook graag waar ek opnames van die bydraes kan kry?