Ken Nordine se unieke woordmusiek

  • 0

As daar ’n boek oor stemkunstenaars geskryf word, sal Ken Nordine sy eie hoofstuk kry. Van die 1940’s af was sy diep, gesaghebbende en gerusstellende stem vir dekades oral op Amerikaanse radio en TV. Hy was die stem in advertensies vir alles van karre tot koffie en vir lokprente. Hy was ’n aankondiger, verteller en oorklankkunstenaar.

Almal het sy stem geken – nie noodwendig sy naam nie. Maar Ken het moeg geraak vir werk wat hy beskryf het as “banal, happy, didn’t bother anybody.” Een aand in 1956 het hy soos dikwels in die Lei Aloha-klub in Chicago gedigte van Edgar Allan Poe en TS Eliot voorgedra met twee jazz-musikante wat saamspeel. “Dit was elke Maandagaand dieselfde mense en ek kon nie dieselfde gedigte oor en oor doen nie,” het hy later vertel. “Ek het begin ad lib. Ek was altyd lief vir musiek en veral jazz. Dit het vir my interessanter geword wanneer hulle die tema vergeet en weggeskiet het in hul verbeeldingryke en wonderlike kore … So ek het dieselfde ding met woorde probeer doen.”

Die volgende jaar het hy die album Word Jazz opgeneem – die naam wat hy sy kuns gegee het. Die proses was op musiek gebou. “So as ek iets doen, soos ek nou die dag het, oor die spinnekopfamilie, sê ek vir die musikant: jy kan die web wees en jy speel die houding van die spinnekop wat wag dat daar kos verbykom.” En ’n ander keer het hy verduidelik: “Dis ’n verhouding van empatie tussen die musikant se gehoor en my gehoor, so daar is ruimte vir hulle en ruimte vir wat ek doen. Een van die lieflike dinge omtrent jazz is dat wanneer dit regtig werk, elke speler ruimte vir die ander laat.”

Chico Hamilton en sy groep het op Word Jazz onder ’n skuilnaam saamgespeel, maar die musiek was ewe veel in Ken se stem – die klank, die frasering, die tydsberekening. Volgende was Son of Word Jazz en 1960 se Word Jazz, Vol. 2. Dit was nie alles ligte woordspelings en humor nie, maar ook waarnemings oor die gemeenskap en die mensdom met tergende titels soos “Bury-It-Yourself Time Capsules” en “The Sound Museum.”

In die vroeë 60’s het die verfmaatskappy Fuller hom gevra om tien radioadvertensies te skryf en op te neem. Hulle het meer gekry as wat hulle verwag het: “The Fuller Paint Company invites you to stare with your ears at yellow.” Toe die advertensies ophou, het mense radiostasies gebel en gevra dat hulle dit weer speel. Dit het Ken besiel om in een dag (het hy beweer), ’n album van kort stukke oor 34 verskillende kleure te skryf en op te neem. Dis uitgegee as Colors, met musiek deur die veelsydige Dick Campbell wat presies verstaan het wat Ken wou doen.

Dit begin so:

Olive,
Poor thing,
Sits and thinks
that it's drab.
Sure does.
Sits and sits and sits and sits and thinks
About its olive drab drab.
Doesn't know
That it is about to be named color of the year
By those with the nose for the new,
By the passionate few.

Snaaks, skerp en plesier vir die ore – en dan kom die onvergeetlike een, “Flesh”. Dink so daaraan: dis Amerika in 1966 met Viëtnam, sosiale onrus en verset en hier dra een van die land se bekendste stemme voor:

Flesh, as a color is in an awful mess, yes
Ask anyone with flesh, they'll tell ya
Flesh, as a color is about as close to a problem as a color can get
Some people think the only color flesh color should be is the color their flesh color is
Which, pure and simple, is color-centric thinking
Popular in some corners, but you and I know, though,
That the proper color flesh for flesh to be is the proper color it is
Varying from complexion to complexion.

Daar was nog baie albums en op party het Ken effens koers verloor deur té eksperimenteel te raak. Maar hy het ’n alternatiewe legende geword. Fred Astaire het in ’n TV-program op My Baby, ’n betowerende liefdesgedig deur ’n trotse pa, gedans. Jim Henson van die Muppets, Grateful Dead en Tom Waits het saam met hom gewerk. Laurie Anderson het gesê toe sy Ken die eerste keer gehoor het, het daar vir haar ’n lig opgegaan. Jy hoor sy stem op van haar liedjies, soos “Language is a Virus (From Outer Space).” Rare feit: Ken is betaal om die aktrise Linda Blair vir haar rol in The Excorcist te leer agteruit praat.

“I want to make people think about their thinking and feel about their feeling, but even more important to think about their feeling and feel about their thinking,” het Ken gesê. 

Byna totdat hy op 16 Februarie vanjaar op 98 jaar dood is, het hy sy stem laat hoor. En danksy musiekstroomdienste kan almal nou na sy woordmusiek luister en saam met hom dink en voel.

Luister hier na Colors:

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top