Ken Forrester Wines Bookshelf: boekgesprek verken menswees in al sy ekstreme, brose en dikwels pynlike vorme

  • 0

Lidia Rauch, Annemarié van Niekerk, Jonathan Amid en Debbie Loots (foto: Clifford Roberts)

........
Ken Forrester Wines se tweede Bookshelf-aand is verlede week op die plaas in die proelokaal gehou. Die bekende literêre kommentator Jonathan Amid het as gespreksleier opgetree, met Lidia Rauch, outeur van die onthullende memoires Apartheid’s daughter; Debbie Loots, outeur van die roman Die vrou met nege lewens; en Annemarié van Niekerk wat ná haar bekroonde Onder ’n bloedrooi hemel – liefde en geweld in Suid-Afrika nou terugkeer met die ingrypende roman Die oorkant. Al die boeke is te koop aangebied.
........

Ken Forrester Wines se tweede Bookshelf-aand is verlede week op die plaas in die proelokaal gehou. Die bekende literêre kommentator Jonathan Amid het as gespreksleier opgetree, met Lidia Rauch, outeur van die onthullende memoires Apartheid’s daughter; Debbie Loots, outeur van die roman Die vrou met nege lewens; en Annemarié van Niekerk wat ná haar bekroonde Onder ’n bloedrooi hemel – liefde en geweld in Suid-Afrika nou terugkeer met die ingrypende roman Die oorkant. Al die boeke is te koop aangebied.

⁠Wanneer goeie boeke, skerp literêre geeste en goeie wyn in een vertrek ontmoet, ontstaan daar ’n vreemde tipe towerkrag. Vir ’n paar uur skuif almal se fokus na ander sake, jou eie worsteling vervaag vir ’n wyle en die goue draad wat deur elkeen se lewe loop, staan helder uit.

Amid het die aand geopen deur te wys op die oorkoepelende motief wat deur al drie werke – hoewel die drie boeke in genre, styl en agtergrond van mekaar verskil – verweef is: die verkenning van menswees in al sy ekstreme, brose en dikwels pynlike vorme. Dis boeke wat nie wegskram van trauma, menslike gedragspatrone en familiegeheime nie, maar eerder dieper grawe om sin te maak uit die ruïnes van die verlede.

Die onophoudelike menslike drang na identiteit, verwerking en ’n innerlike tuiskoms is ontgin. ’n Plek om te behoort, waar jy waarlik kan tuisvoel. Debbie se karakter, ’n anonieme vrou wat een lewensreis het, maar met verskillende afdraaipaadjies worstel, illustreer dit dalk die beste.

Jonathan het die essensie van die drie werke soos volg saamgevat: “Al drie julle boeke handel oor verskillende vorme van menswees, trauma, familie en geweld. Of dit nou direkte, strukturele en politieke geweld is, of die stil geweld van gemiste geleenthede en verbrokkelde verhoudings; dit gaan oor die mens se soeke na sin en betekenis te midde van stukkendheid.”

Die brandpunt van die gesprek het ongetwyfeld gesentreer rondom Lidia Rauch se skokkende en eerlike openhartigheid in Apartheid’s daughter. Lidia, voorheen in die politieke wêreld betrokke en wie se daaglikse werk nou fokus op anti-rassisme, anti-diskriminasie en die fasilitering van moeilike gesprekke in skole, kerke en korporatiewe ruimtes, bring in haar boek ’n pynlik persoonlike offer op die altaar van historiese meegaandheid.

Die boek is geskoei op haar worsteling met haar oupa oud-minister Fanie Botha, ’n man wat ’n sleutelrol gespeel het in die argitektuur en uitvoering van die apartheidstelsel as minister in verskeie departemente. Vir haar was die skryf van Apartheid’s daughter nie bloot ’n intellektuele oefening nie, maar ’n konfrontasie met haar eie afkoms, die skaduwee van haar familienaam en die onverdiende bevoorregting wat haar wit vel haar in Suid-Afrika besorg het.

“My professionele werk as anti-rassisme-konsultant het direk uit my eie innerlike stryd gevloei. Ek werk daagliks daarmee om mense bewus te maak van hul onsigbare bevoorregting en die eeue-oue strukturele geweld wat steeds in die gemeenskap voortleef.

“Ek sê altyd ek maak mense ongemaklik vir ’n lewe. My werk fokus op anti-rassisme en anti-diskriminasie, om ruimtes te skep waar ons eerlik kan kyk na die bevoorregting wat ons geërf het. My boek is ’n uitnodiging na daardie selfde eerlikheid en medemenslikheid.”

Wat haar bydrae tot die aand só meesleurend gemaak het, is haar weiering om in maklike antwoorde of oppervlakkige skuldgevoelens te verval. Sy ontleed hoe die skaduwee van haar oupa se dade en die ideologiese erfenis waarin sy grootgeword het, haar vorming as kind beïnvloed het. “Om as wit persoon in Suid-Afrika vrede te maak met die verlede vereis nie ontkenning nie, maar ’n bereidwilligheid om die erfenis van bevoorregting reg in die oë te kyk en aktief te werk aan herstel.”

Jonathan het opgemerk dat Rauch se boek as ’n spieël dien vir baie Suid-Afrikaners wat worstel met die vraag: Hoe leef mens eerlik voort as jy weet jou eie stamboom het bygedra tot die onderdrukking van ander? Lidia se antwoord lê in aktiewe luister, die afbreek van rassegrense en die uitbou van ’n diep medemenslikheid.

Sy het gesê die boek was meer ’n sielkundige proses vir haarself en “het amper per ongeluk gebeur”. Tydens die jare se skryf aan die boek moes sy leer om haar oupa te vergewe, om van die diep skaamte wat haar oupa se bloedlyn beteken, weg te kom. “Maar ek moes ook leer om myself te vergewe,” het sy vertel.

Sy het die beeldspraak van ’n teesakkie gebruik: As jy die sakkie uit die water haal, is dit steeds tee. Ons almal sit met die gevolge van ’n onderdrukkende stelsel en dit gaan nie oornag genees word nie.

Sy het gesê daar is net twee soorte wit mense: rassiste en recovering rassiste. “Ons moet besef ons is almal deel van die probleem.”

Die outeurs het almal saamgesels oor hoe belangrik dit is om menslike karakters te skep. Annemarié het onder meer verwys na die term kompartementalisering, waar iemand liefdevol en gaaf kan wees, maar tegelykertyd opdragte kan uitdeel wat mense skade berokken. Sy het gesê jy kan nie net ’n slegte man skep nie; “lesers gaan jou nie glo nie. Jy moet die karakter mens maak, vertel waar hy vandaan kom en hoekom hy is wie hy is.”

Debbie se derde roman Die vrou met nege lewens bring ’n soortgelyke diepgaande kyk na die menslike psige. Sy woon op Stellenbosch en skryf en skilder voltyds. Haar roman verken die lewe van ’n vrou wat in haar middeljare voor ’n groot kruispad te staan kom – ’n oomblik waar haar kinders uit die huis is, haar huwelik en verhoudings verbrokkel het en die sekerhede van haar jeug soos sand deur haar vingers glip.

“Die nege lewens gaan vir my oor een lewe, maar binne daardie een lewe is dit ’n vrou wat ’n klomp verskillende lewens oor en oor leef. Die katte in die boek is amper soos simbole van hoe sy in haar reis groei; hoe sy met hulle omgaan, weerspieël hoe sy met haarself omgaan. Dit is ’n teken van haar innerlike transformasie.”

Debbie se anonieme hoofkarakter trek voortdurend van een huis na ’n ander, op soek na ’n plek van tuiskoms en ’n nuwe identiteit. Jonathan het opgemerk dat die karakter se reis nie net ’n geografie van verskuiwing is nie, maar ’n meedoënlose soektog na betekenis.

“Sy trek van een huis na die volgende, omdat sy telkens dink ’n nuwe begin sal alles oplos. Maar uiteindelik besef sy die tuiskoms lê nie in ’n nuwe adres nie; dit lê binne-in haarself. Om daardie vrede te vind, moes sy eers deur al die verskillende lae van haar verlede en haar eie onsekerhede breek,” het sy vertel.

Sy het beklemtoon dat die reis nie net fisies is van een huis na ’n ander nie, maar ’n psigo-spiritualistiese reis waarin die karakter moet leer om tuis te kom in haarself, eerder as om te verwag dat omstandighede haar gaan red.

Debbie erken dat sy later moeg geword het vir haar hoofkarakter en ook nie baie van haar gehou het nie, want “sy is baie wisselvallig, maar ek glo ek het haar later meer geliefd gemaak”.

Debbie se bydrae het ’n ligter noot gebring, maar sonder om die dieper menslike skade mis te kyk: die pyn van gemiste geleenthede, verbygaande jeug en die moed wat dit verg om in jou middeljare weer van voor af te begin.

Annemarié van Niekerk, wat al meer as twee dekades in Nederland woon, maar haar wortels stewig in Suid-Afrikaanse grond behou, het gepraat oor haar indrukwekkende werk Die oorkant. Die roman is geïnspireer deur ’n skokkende ware gebeurtenis: ’n tragedie en gesinsmoord wat afgespeel het in ’n omgewing wat haar na aan die hart lê. Sy het vertel van die dieper vrae wat haar gedryf het om hierdie verhaal neer te skryf: “Die gesinsmoord het afgespeel langs die rivier in ’n omgewing wat ek baie goed ken en liefhet. Die vraag wat my nooit gelos het nie, was: Hoe is dit moontlik dat daar binne so ’n vreedsame, pragtige en idilliese omgewing iets só naar en verskrikliks kan plaasvind? Dit gaan oor die voortdurende wisselwerking tussen verlede en hede, tussen die kind en die volwassene en die ingewikkelde proses van trauma en verwerking.”

Haar hoofkarakter Ada moet terugkeer na haar kinderjare en die streek van haar verlede om die lae van haar trauma af te skil. Deur die kontras tussen die natuurskoon van die Gamtoos-omgewing en die menslike duisterheid uit te beeld, ontleed sy die brose fasette van gesinsdinamika.

“Ek het as’t ware die rivier van beide kante bekyk: eers as kind, later as volwassene. Ada kan nie haar verlede verwerk nie, maar deur haar vriendin se oë – wie se trauma dalk selfs dieper was as Ada s’n – besef ons dat baie mense met erge trauma dikwels die lewe ligvoets benader,” het sy vertel.

Of dit nou Lidia se nie-fiktiewe verkenning van sosiale skuld en herstel is, of Debbie se intieme uitbeelding van vroulike identiteit en self-herontdekking, of Annemarié se diepgaande studie van traumatiese gesinsgeskiedenis, al drie skrywers stem saam dat die literatuur ’n noodsaaklike ruimte bied waar die mens sy eie stukkendheid kan aankyk en verwerk.

Die Bookshelf-aand het net weer bewys dat boeke nie net stories op papier is nie, maar ons herinner dat die kuns van storievertelling ons help om die wêreld – en onsself – ’n bietjie beter te verstaan.

En des te meer as daar heerlike tuisgemaakte sop en brood⁠ en ’n glas Ken Forrester-wyn ter sprake is⁠.

Gaste is verwelkom met ’n glas Sparkle Horse-vonkelwyn en boeke van die outeurs is deur Wordsworth verkoop.

Lees ook:

The Bookshelf Events and a shared love for reading and discussing books: an interview with Jonathan Amid

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top