vir E.
Na my klipkasteel het jy gekom.
Daar is
immers
spookasemwolke teen die plafon
waar my lugkastele hang.
Deur my sleutelgate het jy geloer,
deur die mure se krake,
verby blaargeraamtes op die vloer.
In ’n vergete spinnerakhoek
het jy my gevind
aan die drade van myself vasgebind.
Jy het langs my kom sit en
gewag tot ek slaap
en na my gekyk
totdat ek ontwaak.
In my eie kasteel was ek verdwaal
maar in my gange se spieëls het jy my herhaal
totdat ek werklik was.
Nou huil wolwe teen die maan:
jy het weggegaan.
En ek kan my maar net terugverbeel
want jy was net ’n sandkasteel.



Kommentaar
Ek vind hierdie gedig uiters mooi.
Baie dankie LitNet en ook aan Chris Brunette vir jou harde werk om deur oneindige voorleggings te sif.
Baie dankie Morné, ek waardeer dit baie.
Skitterend!
Baie dankie, Andries (-;
Dit praat met my siel.
Baie dankie Amanda.