ʾn Dogtertjie in ʾn rooi japonnetjie
staan vroegoggend onder die hoë boom,
roepend na die verkleurmannetjie
wat verdwyn het
tussen gister en vandag.
Sy het ʾn handjievol sonne
wat bars soos miljoene ballonne.
Sy het ʾn handjievol sterre
wat verskiet daar bo in die verte,
en sy begin leer dat dinge verdwyn
tussen gister en vandag.
Sy het ʾn handjievol drome
wat verdwaal oor mistige strome.
Sy het ʾn handjievol woorde
wat die wêreld sou bekoor het,
maar dinge verdwyn
tussen gister en vandag.
Sy het ʾn handjievol maanlig
wat haar toe nooit sou oplig,
want dinge verdwyn
tussen gister en vandag.
Nou het sy ʾn grootmenshand vol sagte seesand,
vergaan teen die wind op ʾn sononderstrand,
want te veel het verdwyn
tussen gister en vandag.
Kommentaar
So so pragtig!
Baie dankie Hendrina (wat eintlik my Mamma is) - is hulle nie net die kosbaarste nie! Xxx