Karen Zoid word Beskermvrou van Borg ʼn Woord

  • 0

"Kom ons sit die skat terug in woordeskat. Borg ʼn Woord!  Myne is Republiek".  So sê Karen Zoid wat vanaf 16 Oktober die beskermvrou van die WAT se Borg ʼn Woord-projek is en reeds Republiek geborg het.  "Ons het Karen gevra om beskermvrou te word omdat sy ikoniese status in die Afrikaanse musiekwêreld geniet en wyd gerespekteer word.  Sy is eenvoudig buitengewoon begaaf en het aanhangers onder alle generasies," sê Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

karenzoidwat650

Enigiemand kan ʼn woord vir R100 borg, of ʼn woord koop vir R5 000.  As jy ʼn woord koop vir R5 000 mag niemand anders daardie woord borg of koop nie.  Meer as een persoon kan dieselfde woord vir R100 borg.  Elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord wat hy geborg of gekoop het.

Volgens Botha het Borg ʼn Woord Afrikaanssprekendes bewus gemaak van die waarde van ʼn woord en ook van die rykdom en verskeidenheid van die Afrikaanse woordeskat.  Mense borg of koop woorde omdat dit  ʼn besonder persoonlike bevrediging gee: dit is jou woord.  Dit is ook ʼn gewilde verjaarsdag- of kersgeskenk.   

Elke deelnemer kwalifiseer outomaties vir die prystrekking vir ʼn Sanlamprys van R25 000.  Almal kry ook gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ʼn woord borg of vir vyf jaar as jy ʼn woord koop.

Die volgende bekende persone het onlangs woorde geborg of gekoop:

Die skrywer, avonturier en dosent  Johan Bakkes borg karnallie en karnuffel vir sy vrou Nanna, pantoffel vir sy seun Mark, spookasem vir sy dogter Cara, kabouter vir sy skoonseun Gallie en pallieter ("lewensgenieter") vir homself.

Joan Hambidge borg goegeloer en vuisboek; Steve Hofmeyr koop pampoen en toeka; Rudolf en Sonia Gouws koop bolyf en slaggereed; die skrywer Wilna Adriaanse koop bobbelsee; dr. Chris Stals koop markekonomie; die skrywer Riëtte Rust borg emoji vir Coenie de Villiers; die skrywer en vorige beskermheer van Borg 'n Woord Deon Meyer  koop nugter (vir Bennie Griessel) en spanning; die skrywer Ena Jansen koop abba; Jan Braai koop braai;  Brand Pretorius koop dienende leierskap; Jannie Mouton koop entrepreneur;  Boet Troskie koop filmbaas; Johan Krige koop Kanonkop; Hermann en Anette Giliomee koop wispelturig, snotklap, pantoffel, skattebol en kolwyntjie vir hul vyf kleinkinders; die skrywer Winnie Rust het ramkat en gedamasseerd ter herinnering aan haar pa (Boerneef se broer) geborg; oudambassadeur Albert Nothnagel borg parasitokrasie; skrywer Anzil Kulsen borg tirk (woord wat in Upington en omgewing vir 'n akkedis gebruik word) en poenankies.

Ander interessante borgskappe is: Neels Borstlap borg borslap; Ockert Gouws borg namens sy ongebore babadogtertjie Petronella die woord mamma; Barry van der Westhuizen van die Sandveld borg ravot en latjiebeen; Wilhelm Sadie borg blymoedig vir Cebella Krige omdat sy die blymoedigste mens is wat hy ken; Johan Taljaard borg vinkel en koljander vir sy twee kleinseuns.  Ook Nederlanders en Vlaminge borg en koop woorde en Erik Arys van Vlaandere het lugfietser (iemand wat droom, wat lugkastele bou) gekoop.

Die staat het die WAT se subsidie in die afgelope tyd drasties ingekort.  Borg ʼn Woord is een van die wyses waarop die maatskappy die voltooiing van die grootste projek ooit in belang van Afrikaans wil verseker. Volledige inligting oor deelname aan Borg ʼn Woord is te kry by www.wat.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top