Die rocker Karen Zoid het geen bekendstelling nodig nie, of dit nou vir musiekkenners of televisiegehore is. Sy het onlangs ’n nuwe album vrygestel en beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Karen. Hoe's dinge?
Lekker, dankie, hoe gaan dit met jou?

Foto: Morné van Zyl
Ook so, dankie! Geluk met die vrystelling van Drown out the noise, jou jongste album. Dis jou eerste Engelse album in sewe jaar – waarom het dit so lank geneem, of waarom het jy besluit om spesifiek nou terug te keer tot die skep van Engelse liede? In ag genome die prominensie van “socially conscious” temas op die album ("Justice justice", "Troublemaker" en nog), was dit ’n oorweging dat Engelse songs noodwendig ’n groter reikwydte het – dit is tog belangrik dat protesmusiek deur soveel mense as moontlik gehoor word? Of is dit ’n toevalligheid dat dit so uitgewerk het?
Ja, dit is so dat Engels ’n groter reikwydte het. Een van die liedjies op my Zoid Afrika-album (2012) is getiteld “Waansin”. Arno Carstens het vir my gesê hy wens dat hierdie liedjie Engels was, sodat meer mense die boodskap kan verstaan. Maar ek was ook lus om weer in Engels te skryf – dit is vir my as kunstenaar belangrik om nie net vir my eie Afrikaanses te sing nie. Wat is die punt daaraan om net deur jou eie mense verstaan te word? Ek voel ’n mens moet die moed hê om oor die gekende lyne te trap.
Hoe voel die vrystel van die nuwe album vir jou, as iemand wat reeds soveel bereik het in musiek? Is daar nog skoenlappers oor die ontvangs daarvan, of hoe voel ’n mens daaroor as jy reeds bekend en geliefd is as musikant? Hoe verskil dit van die vrystel van die eerste een of twee albums in daardie opsig?
Dit raak eintlik moeiliker, want ek moet myself dwing om te vergeet van die kritiek wat op my wag. ’n Mens moet vergeet van jou fans en kritici terwyl jy ’n nuwe album opneem, anders beïnvloed dit die kreatiewe proses en dan is mens net ’n “people pleaser”. Die ironie is dat wanneer ek dit klaar opgeneem het, begin ek met hart en siel hoop en bid dat almal tog daarvan sal hou. Hehe.
Bostaande vraag in ag genome ... die ding van louere is dat dit ook intimiderend kan wees, in terme van vernuwing en heruitlewing van daai kreatiewe dryfkrag. Het jy gevoel dat jy spesifiek nuwe elemente en musikale gebiede wou verken met Drown out the noise? Hoe werk daardie druk om aan te hou verras vir jou, en hoe het dit op die ou end op die album lêplek gevind?
My droom is om oor drie jaar as ek 40 is ’n indrukwekkende kitaarsolo op die verhoog te kan speel, en Drown out the noise is die begin hiervan. Dit was die meeste elektriese kitaar wat ek nog ooit op ’n album gespeel het. Ek het die afgelope paar jaar nogal heelwat van my songs se volledige arrangements begin skryf (dromparte, bass lines, kitaar-rifs). Ek hoor partykeer die hele produksie van ’n song in my kop. Ek is gelukkig genoeg om ’n band te hê wat nie omgee as ek dan en wan hulle parte vir hulle uitplot nie. Maar bygesê, ek weet dat ’n drommer nege uit tien keer ’n beter drompart kan uitdink as ’n songwriter. Drown out the noise is die derde studio-album wat ek met my huidige band opgeneem het. So, as ’n eenheid is ons sterker as ooit en daar is nou baie dieper vlakke aan ons musiekspel as ’n groep.
Dit is interessant dat jy in die mediaverklaring noem hoe belangrik die konsep van ’n album (in teenstelling met die vrystel van ritse enkelsnitte) vir jou is. ’n Mens hoor dit nogal op hierdie album – dat daar ’n paar goue drade is wat loop wat nie noodwendig sou hou in ’n reeks enkelsnitte wat ver uit mekaar vrygestel is nie. In hoe ’n mate het die gemak waarmee enkelsnitte vrygestel kan word wêreldwyd en in Suid-Afrika bygedra tot ’n minder volwasse gehoor, en ook minder volwasse kunstenaars?
Die heel eerste Romeinse universiteite het begin as plekke waar mense gesprekke, selfs argumente, kon hê oor verskeie onderwerpe. Hulle moes hulself aan mekaar verduidelik en ek glo soos wat hulle gepraat het, het daardie groot filosowe eintlik besef wat hulle regtig dink en glo, omdat hulle hulself op ’n openbare platform moes blootstel en verwoord. ’n Album is so. Die gevoel en gedagte kom nie altyd in een song nie. Mens kan net so lank oorleef op ’n “catch phrase” wat jy op Twitter gesien het. Ek voel dat mense wat hulle eie standpunte kan verduidelik, lesers van boeke en luisteraars van vollengte-albums is.
Jou collabs met verskeie kunstenaars is iets wat jy dikwels op die verhoog en op albums doen, en hier is ’n vertroude kollega, Zolani Mahola, weer te hoor op "Troublemaker". Francois van Coke se stem dreun in op "Smile". Waarin lê die waarde van hierdie collabs vir jou, in terme van hoe dit die lied dien en hoe die kunstenaars mekaar slyp, al is dit net binne ’n oomblik? Hierdie vraag kan natuurlik nie gestel word sonder om melding te maak van jou collab met Francois op sy solo-album nie - "Toe vind ek jou" is ’n onmiddellike en massiewe treffer. Het julle dit verwag? Hoe het daardie werk verskil van jou en Francois se werk op "Smile"?
Die meeste collabs begin omdat ons baie saam wag: op lughawes, in hotelle en backstage. Iemand het altyd ’n kitaar byderhand. Kunstenaars met wie ek op my albums werk is kunstenaars wat ek bewonder. Wie wil nou nié saam met Zolani en Francois sing nie? Ek was hierdie keer die gelukkige een.
Gepraat van die samewerkings: ’n album met die opnames uit die TV-reeks Republiek van Zoid Afrika is ook onlangs vrygestel. Geluk met die sukses van die program – ek verneem die tweede reeks is eersdaags op TV. Wat het dié program vir jou loopbaan beteken en watter invloed het dit – en vernaam die talle samewerkings wat gedoen is – op jou as liedjieskrywer en sanger gehad?
Die program was veronderstel om sommer ’n ekstra, klein pretprojek te wees. Maar dit wat dit my toe bied, is baie meer as dit. Elke episode is soos ’n meestersklas van die lewe met Suid-Afrikaanse ikone. Dit is ook vir my ’n spesiale ervaring om musiekregisseur te wees vir ons uiteenlopende musikale gaste. Ek leer vreeslik baie hieruit. Mens kan nie ’n prys sit op so ’n ondervinding nie.
Jy het ’n magdom vertonings, opnames en toere agter die rug, en hopelik nog baie wat kom. Is daar enige venues of verhoë wat vir jou terugskouend uitstaan? Enige plekke wat jy nie sommer weer sal aandoen nie? Enige staaltjies wat ons sal weier om te glo waar is? Wat is die coolste ding aan toer en/of gedurig ver van die huis optree, en wat is die beslommernisse daarvan?
Ek hou daarvan om in teaters op te tree. Van die teaters waarvan ek baie hou, is Atterbury, Artscape, Fugard en Theatre on the Bay. Ek wil ook nog by die teater in Prins Albert speel. En natuurlik ook feeste. Ek is mal oor Oppikoppi. Ek sal liewer nie sê waar ek nie wil speel nie – netnou koop een van hierdie eienaars een van die plekke waar ek wel graag wil speel. Dis jammer dat Blue Moon nie meer bestaan nie. Dit was ’n heerlike venue. Wat staaltjies betref: Let's just say #StalkersAreReal.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir jou in, in soverre jy dit kan beheer? Wat is byvoorbeeld die toerplanne met die nuwe album? Sal die TV-werk op langer termyn jou musiekloopbaan begin oorskadu?
My en Francois se vertonings by Atterbury-teater is vasgemaak vir 23, 24 en 25 Julie. Verkope het Saterdag oopgemaak en dit is reeds uitverkoop, nog voordat ons dit kon adverteer! Daar is ook een vertoning in die Kaap by Artscape op 12 Julie. Die kaartjieverkope by Computicket maak binnekort hiervoor oop. Dan word Republiek van Zoid Afrika se tweede reeks vanaf 2 Julie op kykNET uitgesaai.
Wat is die sin van die lewe?
Om ’n sinvolle lewe te hê.


