Die ou gesegde dat ’n goeie skrywer meer van die persoonlikheid van sy hoofkarakters onthul, terwyl die swak skrywer meer van homself onthul, is maar alte waar. Van Karel Schoeman is die eerste deel van dié gesegde selfs nog meer waar.
Karel Schoeman was in sy latere lewe aan die een kant iemand wat vreeslik min van sy persoonlike lewe onthul het, maar aan die ander kant, in Die laaste Afrikaanse boek, ongelooflik baie van homself onthul het en heel eerlik en openlik daaroor geskryf het.
Oor sy werk sal nog baie geskryf word, maar die belangrikste kommentaar daarop is dit wat hy self geskryf het. Die ongeveer 130 werke van allerlei aard wat gedurende sy lewe gepubliseer is, en ander wat nog gepubliseer sal word, is waarskynlik sy eie, grootse Afrikaanse taalmonument.
Omdat hy in sy eie lewe so ’n privaat persoon was en sy privaatheid hoog geag het, is ’n mens dus huiwerig om iets van hom bekend te maak wat jy nie gedurende sy lewe bekend sou gemaak het nie. Hy was in sy private lewe ’n besonder hartlike, geliefde en gelukkige man, soos wat in sy Sotho-naam Ntate Thabo (vader van vreugde) weerspieël word. Hy sou dus ongetwyfeld verras gewees het as hy op 2 Mei kon gesien het watter leemte hy in die persoonlike lewens van baie kennisse, korrespondente en uitgewerspersoneel gelaat het en hoeveel trane oor hom gestort is. Hy was ’n persoon wat intens meegelewe het in die persoonlike lotgevalle van die mense met wie hy te doen gehad het, hetsy redakteurs, administratiewe personeel of bodes by uitgewers en selfs die skoonmakers by die aftreeoord waar hy gewoon het.
Hy sal dus ongetwyfeld voortleef, nie net in die boeke wat reeds gepubliseer is nie, maar ook in dié wat later vanjaar en in komende jare gepubliseer sal word. Solank as wat Afrikaans gepraat sal word, en selfs langer, sal Karel Schoeman se naam gehuldig word. Sy plek in die Afrika-letterkunde en die wêreldletterkunde sal nooit gevul kan word nie.


Kommentaar
Insiggewend.
'n Mens hoor baie negatiewe dinge oor hom as persoon - snobisme, suinigheid, kilheid, onbeskoftheid, egosentrisme ... maar eventueel sal sy oeuvre onthou word. Nogtans is dit aangenaam om iets positief ook te hoor, want elke mens het baie kante, waarin die toeskouers gereflekteer word.