Titel: Karaktermoord
Skrywer: Carina Diedericks-Hugo
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978-1-1452-1017-8
Die skrywer debuteer met haar misdaadriller nadat sy haar merk met jeugboeke gemaak het en doen dit met sukses in ’n patroon wat effens afwyk van die gewone aanslag.
Anders as om karakters te skep by wie die leser aanklank vind – soos Lisbeth Salmander en speurders soos Harry Hole en Kurt Wallander van Skandinawië, die Amerikaanse reisende probleemoplosser Jack Reacher en Suid-Afrika se Renata Malan en Bennie Griesel – is Diedericks-Hugo se karakters die een afstootliker as die ander:
- Die verleidster Anna Neethling, ’n nimfomaan wat verhoudings met mans aanknoop, hulle verslaaf kry en dan hul koppe figuurlik afbyt soos ’n knopiespinnekop met haar vryer maak.
- Die gesette boekuitgewer Malan Sinclair, wat in die direksie dien danksy die invloed van sy skoonpa. Sy vrou is ’n dwelmverslaafde en sy seun en dogter is ware probleemkinders aan wie hy net so min aandag as aan sy vrou gee.
- Wynand du Toit, die media se gunstelingskrywer, ’n man wat oorloop van pretensies en verkies om "Du Twa" genoem te word.
- Dawid Briers, wat hom voordoen as ’n wynboer, op sy pa se naam ry en sy druiwe inkoop, waarna sy keldermeester die werk doen en hy die lof kry.
- Anna Neethling se pa, Conradie Neethling, op sy beurt ’n skynheilige en sadistiese predikant.
Daar is twee uitsonderings:
- Sebastiaan Barnard, wat taamlik aantreklik is en wie se misdaadboeke in aanvraag is.
- Sy vriendin Christina, wat vir ’n skindertydskrif skryf en skynbaar ’n skoon lewe lei.
Hulle leef almal in ’n wêreld van dronkpartytjies waar die naywer tussen die karakters plek maak vir ’n samesyn vol afstootlike onguurhede. Die kru dialoog – ook in gedagtegange – is getrou aan die karakters, hoewel die grense straks later oorgesteek word.
Dis nie duidelik waar Sebastiaan inpas nie. Hy is ’n soort eenkantkarakter en al een wat nie in Anna se web spartel nie. Die speurder Stefaans Slabbert maak net kameeverskynings.
Anna word vroeg in die boek vermoor en in Malan Sinclair se kattebak aangetref. Dit was nadat sy ontsteld by sy kantoor uitgestorm het toe sy gehoor het dat haar jongste manuskrip afgekeur is. In haar laaste woorde dreig sy dat sy as wraak haar dagboeke aan Christina se skindertydskrif beskikbaar gaan stel. Sinclair raak maklik en effens onoortuigend van haar lyk ontslae, maar iemand slaan die hele petalje van agter ’n pilaar gade in wat ’n gelaaide leidraad vir die ontknoping is.
Afskrifte van Anna se dagboek van 15 jaar gelede beland dan in die hande van die mense wat aandadig was aan ’n aand wat op Du Toit se wynplaas in ’n wilde orgie en seks en verkragting ontaard het. Almal wat betrokke was, word dan na Du Toit se wynplaas ontbied. Hulle moet voltallig wees, want "hier is kak. Dit spat op ons, op jou ook, my tjom."
Daar word nie veel na die moordenaar gesoek nie en lesers moet tot aan die einde wag om te sien wie die skuldige is en ook wie die pa is van Neethling se seun, Adam. Dis goeie tegniek en die skrywer slaag goed daarin om haar lesers tot aan die einde op sleeptou te neem.
Die dagboek wat dan gedeel word, beskryf die gebeure van vyftien jaar gelede in grafiese besonderhede. Die sekstonele word eksplisiet beskryf, soos waarskynlik nog nooit tevore in Afrikaanse literatuur nie. Dit is dalk hier waar mense wat in Pieter-Dirk Uys se vertoning op die KKNK uitgestap het, sal voel genoeg is genoeg ...
Om die kroon te span, bly daar nog ’n karakter in ’n pas bloed lê.
Die einde is knap en oortuigend gehanteer, hoewel dit vir lesers wat baie oplettend is, dalk meer ’n bevestiging en motivering van hul vermoedens as ’n verrassing sal wees.
In haar bedankings vertel Diedericks-Hugo dat die saadjie vir Karaktermoord reeds in 2011 geplant is en dat sy onlangs aangemoedig is om die eerste twee hoofstukke af te stof en die riller te voltooi. Dit was goeie raad aan ’n skrywer wat nou getoon het dat sy ook ’n ander genre kan baasraak.