Kannemeyer gehuldig by US Woordfees

  • 0

Die literêre historikus en biograaf John Kannemeyer, wat op Kersdag 2011 oorlede is, sou vanjaar by drie geleenthede tydens die US Woordfees opgetree het. Die dertiende Woordfees word van 2 tot 11 Maart op Stellenbosch aangebied.

Kannemeyer sou op 2 Maart ’n rondleiding in die J.S. Gericke-biblioteek se Dokumentesentrum waargeneem het oor die skrywer Jan Rabie. Hy sou verder in ’n gesprek met prof. Louise Viljoen die sluier gelig het oor sy lewenswerk as literêre biograaf van verskeie prominente Afrikaanse skrywers. In ’n derde aanbieding sou die biograaf gesels oor sy biografie van die Nobelpryswenner J.M. Coetzee, wat kort voor Kannemeyer se dood voltooi is. Dié lang verwagte publikasie verskyn later vanjaar in Afrikaans, Engels en Nederlands.

Aanpassings is intussen aan die US Woordfees se skrywersprogram gemaak sodat Kannemeyer gehuldig word tydens twee van die geleenthede waar hy sou optree.

Op 6 Maart neem Louise Viljoen, Wium van Zyl en Hermann Giliomee deel aan ’n huldigingsgesprek met ’n oorsig oor Kannemeyer se loopbaan as historikus en biograaf onder die titel “Die lewens van John Kannemeyer”.

Kannemeyer se biografie van J.M. Coetzee word op 7 Maart belig deur uitgewer Hannes van Zyl, terwyl fragmente uit die manuskrip deur Dorothea van Zyl voorgelees word. By dié geleentheid, “Al skrywend aan J.M. Coetzee”, sal Lucy Graham ’n oorsig verskaf oor die statuur en omvang van Coetzee se oeuvre.

Die volledige program van die US Woordfees is hier beskikbaar. Computicket-besprekings open op 17 Januarie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top