Kan Suid-Afrika sy uitdagings oorkom?

  • 0

Fotobron: Canva

Vir toekomstige geslagte, nie net in Afrika nie, maar wêreldwyd, sal Suid-Afrika se reis na vryheid altyd ’n bron van groot inspirasie wees.

Dit was min of meer die sentrale onderwerp van bespreking in koerante of meningstydskrifte in 2004 toe uitgelese meningsvormers en openbare intellektuele ons dekade van demokrasie bespreek het. In hul uitlopende bydraes oor die wel en wee van die stand van ons demokrasie was hulle dit eens dat ons op ’n goeie plek was, baie bereik het in die vestiging en uitbouing van ons ontluikende demokrasie, maar nog groot ruimte en uitdagings het om te verbeter.

’n Menigte kommentators en analiste, binne- en buitelands, sal vandag saamstem dat dié hoop soos geartikuleer in 2004 vervaag het of selfs heeltemal afgeplat het.

Ons nuutgevonde wanhoop lê versper in ons onlangse ekonomiese mislukkings – staatskaping, korrupsie, ’n gebrek aan beplanning vir energievoorsiening, beleidsonsekerheid, die mislukking van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie ens – wat ’n bloedbad van werkloosheid van ongeveer 37% teweeggebring het. Die meeste Suid-Afrikaners, veral die armes en onopgeleides, is veral ekonomies platgeslaan sonder enige lewenslus vir die volgende dag, week, maand of selfs jare wat nog moet kom.

Oor die afgelope 40 jaar of so het ons ’n getygolf van demokrasie wêreldwyd ervaar. Regoor Sentraal- en Oos-Europa, Asië, Latyns-Amerika en groot gedeeltes van Afrika het demokrasie soos ’n veldbrand versprei. Demokratiese verantwoordelikheid het outoritêre bedelings vervang.

Hier aan die suidpunt van Afrika het die val van die Berlynse muur in 1989 die weg gebaan vir ingrypendende grondwetlike veranderings. Ook in die destydse Suidwes-Afrika met sy onafhanklikheidswording, vandag die Demokratiese Republiek van Namibië.

Later hier in Suid-Afrika met FW de Klerk se historiese 2 Februarie 1990-toespraak, die vrylating van die wêreld se bekendste politieke gevangene van die 20ste eeu, Nelson Mandela op 11 Februarie 1990, die eerste sitting van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) op 20 en 21 Desember 1991 by die destydse Wêreldhandelsentrum in Kempton Park en die aanvaarding van die tussentydse grondwet (Wet 200 van 1993) deur die driekamerparlement wat in Augustus 1984 tot stand gekom het ingevolge wet 110 van 1983. Ook ons eerste veelrassige demokratiese verkiesing op 27 April 1994 en die aanvaarding van die finale grondwet in 1996, Wet 108 van 1996.

Vandag is demokratiese oorwinnings in baie wêreldgedeeltes teruggerol, en in ander lande het outoritêre bedelings selfs weerstandig geword teen burgerlike opstand.

Dit het die teelaarde vir veral regses geword om te argumenteer dat demokrasie nie geskik is vir lande met onderontwikkelde ekonomieë nie. Ook nie vir lande met diep etniese verskille nie. Dat demokrasie ook bloot ’n Westerse aspirasie is wat veral nie in Afrika werk nie. Dat die kwessie van ras die meeste onderwerpe in Suid-Afrika oorheers, word ook as ’n tipiese voorbeeld voorgehou dat veral minderhede soos Afrikaners sekere spesiale grondwetlike beskerming benodig om polities en ekonomies te oorleef.

Ek dink linkse en liberale meningsvormers argumenteer moreel regverdig dat demokrasie ’n universele aspirasie is. Dié argument word onderskraag deur navorsing wat ruiterlik bewys dat nege uit 10 Afrikane sê hulle verkies om in ’n demokrasie te lewe. 

Wanneer mense vir demokrasie baklei, is daar ’n morele verpligting op gevestigde demokratiese regerings om hulp te verleen. Nie net uit morele oortuiging nie, maar demokratiese lande sal na alle waarskynlikheid menseregte respekteer, vryehandel aanmoedig en die idee van oorlogvoering te alle tye vermy.

Miskien moet ons dieper dink as om bloot net demokrasie te ondersteun, maar ook kyk na watter soort demokrasie in lande met swak state, etniese verdelings en gefragmenteerde ekonomieë werk.

Demokrasie word te oppervlakkig gedefinieer. Politieke wetenskaplikes is dit eens dat vrye en regverdige verkiesings die mees basiese element is van demokrasieë, maar dit moet verder intellektueel begrond word, want politiek, politieke gedrag en deelname gebeur nie in ’n vakuum nie. Dit gebeur binne ’n sekere omgewing, sowel hetsy intern of ekstern.

In ’n vorige rubriek het ek geskryf verskiesings is nie alles nie. Mense moet as politieke akteurs (as individue of in geografiese gemeenskappe) tussen verkiesings aktief deelneem aan politieke handeling, want verkiesings sonder ’n werkende staat en doeltreffende burgerlike en staatsinstellings is van min of geen waarde nie.

Veral burgerlike instellings sal na vore moet tree, want in die soeke na antwoorde en oplossings om ons fiskale probleem op te los is staatsdienswerkers se hoë salarisse geïdentifiseer as dat dit verlaag moet word, maar dit geld nie vir politici met buitensporig hoë salarisse nie.

Ons verwag dat parlementslede en ’n kitsmiljardêr soos president Cyril Ramaphosa, wat nie ’n dag lank vir sy BBB-EE-miljarde gewerk het nie, ’n voorbeeld sal stel en ’n drastiese verlaging in hul salarisse sal aankondig.

Die 0%-salarisverhoging vir staatsamptenare is gereverdig, maar dan moet oorbetaalde politici die leiding neem en eerste salarisverlagings aanvaar.

Dit is duidelik die politieke krag beweeg na gewone mense, veral omdat hulle meer regte, meer beskerming en meer verantwoordelikheid van regerings en die privaatsektor eis. Veral omdat politici meer korrup word, sal gewone mense verantwoordelikheid oor hul vryheid in eie hande moet neem en regerings tot verantwoording moet dwing. Al beteken dit om regerings deur straatoptogte, meningsartikels in koerante en op die internet en veldtogte op sosiale media tot verantwoording te roep.

In Afrika, ook hier in Suid-Afrika, bevind hardwerkende mense met vernuwende en eerlike idees hul toenemend buite mag, terwyl korrupte en onkreatiewe luiaards hul in magsposisies bevind. Dit dien veral as teelaarde vir korrupsie en wanadministrasie, omdat staatshulpbronne vir eie gewin misbruik word.

In ’n poging om Suid-Afrika te help om sy uitdagings te oorkom moet gewone mense en aktiviste aandring op beter wetsbepaling, risikobestuur en uitvoerende betaling in die openbare sowel as die privaatsektor.

Die uitdagings is baie en kompleks, maar as ons almal ons deel doen, kan Suid-Afrika sy uitdagings van veral korrupsie, staatskaping en etniese rassisme oorkom. Kom ons koester ons reis na vryheid as ’n bron van inspirasie om ons na nuwe en kreatiewe aansporings en skeppings te lei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top