Kan die gedrukte media oorleef?

  • 2

Die dae van die gedrukte media – die tradisionele koerante en tydskrifte soos ons dit ken – se dood kom al hoe nader en skyn onafwendbaar te wees indien ons nie ander planne beraam om nuwe sakemodelle te skep wat die lewe van dié media verleng nie.

Die fenomenale opkoms van nuwe tegnologie, veral die internet, het ʼn skadu gegooi oor die toekoms van die gedrukte media. Die leesgewoontes van mense – veral die jonger geslag – het ʼn dramatiese negatiewe uitwerking op die voortbestaan van koerante en tydskrifte.

Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers, merk tereg in sy boek Oor grense op dat dié nuwe era ʼn sekere verjonging van die nuuskantoor met hom meebring wat koerantmense van ʼn vorige era bekommerd maak oor die kontinuïteit van deskundige joernalistiek. Dié nuwe era het die verkope van die gedrukte media drasties verminder.

Joernaliste verloor hulle werk en moet ander ekonomiese en beroepsmoontlikhede ondersoek.

Vosloo benadruk dat koerante nog altyd die plek is waar jy intelligente gesprek gaan vind. Nie op televisie of op die internet nie. Hy skryf: “Vryheid van (ʼn) effektiewe meninguiting binne ʼn demokrasie is op die spel wanneer ʼn mens oor die afskaling of selfs die afskaffing van koerante en ander gedrukte media praat.”

Die onlangse sluiting van Die Burger Oos-Kaap se daaglike papieruitgawe tussen Maandag en Donderdag is ʼn tragiese voorbeeld. Dié koerant se papierweergawe verskyn voortaan net op Vrydae en kan op ander dae (Maandag tot Donderdag) aanlyn gelees word. Die Saterdag-uitgawe het heeltemal weggeval.

Nog voorbeelde is die ondergang van Ndalo Media, uitgewer van die tydskrifte Destiny en Elle. Ndalo Media het aan die mediapersoonlikheid en sakevrou Khanyi Dhlomo behoort.

Ndalo Media het glo ondergegaan nadat dié maatskappy die kontrak om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se tydskrif Sawubona, wat in die SAL se vliegtuie beskikbaar en te lees is, te produseer verloor het.

In Oktober verlede jaar het Associated Media Publishing (AMP) besluit om nie hul lisensie te hernu om die vrouetydskrif Marie Claire in Suid-Afrika te produseer en uit te gee nie.

Volgens Julia Raphaely, uitvoerende hoof van AMP, is die tydskrifbedryf totaal onkant betrap deur nuwe tegnologie. Dié bedryf sukkel volgens Raphaely om betyds aan te pas en om te verander.

In Amerika het Condé Nast, uitgewer van Vogue, Vanity Fair en die New Yorker, die einde aangekondig van hul maandelikse drukuitgawe van die vrouetydskrif Glamour. Die rede is dat die tydskrif se druksirkulasie glo net twee miljoen beloop tenoor 20 miljoen aanlyn.

Volgens skokkende syfers van die Oudit Buro van Sirkulasie van Suid-Afrika (ABC) is ʼn totaal van 2,4 miljoen tydskrifte in Suid-Afrika tussen Januarie en Maart 2016 verkoop. Tussen Julie en September 2018 het dié syfer tot 1,7 miljoen geval.

Die groot vraag is nou: Hoe word die situasie omgekeer sodat die gedrukte media, veral invloedryke koerante van gehalte met intellektuele integriteit, op die duur kan oorleef?

Alles blyk tog nie te verlore te wees nie, veral in Amerika. Van die wêreld se rykste mense, soos Jeff Bezos, eienaar van Amazon, en Warren Buffet belê in gedrukte media en selfs boekwinkels. Bezos het byvoorbeeld in 2013 die Washington Post vir R3,5 miljard gekoop – dit nogal in die dae wanneer gedrukte media se sirkulasiesyfers afwaarts neig.

Selfs die Port Elizabeth-gebore miljardêr Patrick Soon-Shiong, wat baie jare gelde na Amerika geëmigreer het, het verlede jaar die Los Angeles Times vir R7 miljard gekoop.

Soon-Shiong het dié koerant van Tronc, die uitgewer van verskeie Amerikaanse koerante, soos die Chicago Tribune en New York Daily News, gekoop.

Buiten die Los Angeles Times het Soon-Shiong ook die San Diego Union-Tribune, die Spaanse dagblad Hoy Los Angeles en verskeie gemeenskapskoerante by Tronc oorgekoop.

In Brittanje het die joernalis, uitgewer en politikus John Scott in 1936 die Scott Trust (wat in 2008 verander is na Scott Trust Beperk) gestig om die gesaghebbende dagblad The Guardian, wat in 1821 begin is, se finansiële toekoms te verseker. Die oudste Sondagkoerant in die wêreld, The Observer (sedert 1791), word ook deur die Scott Trust Beperk uitgegee.

In Suid-Afrika lyk sake egter beroerd.

Vosloo skryf dat die bestuur van Media24, die filiaal van Naspers, dié nuwe situasie met energie en beskikbare middels hanteer.

Hy stel ʼn trust voor – gebaseer op die 1936-model van John Scott – met aandele geskenk deur Naspers en weldoeners om die lewe van gedrukte koerante in Suid-Afrika te verleng. ʼn Ander opsie sou wees om gediversifiseerde sakemodelle vir koerante met die klem op verskeie finansieringsbronne te ontwikkel.

  • 2

Kommentaar

  • Ek is jammer om te hoor dat die Ooskaapse Burger nie meer 'n dagblad is nie. In Nederland het koerante-uitgewers van België meer as een papieren koerant gered. Vooral die populêre koerante beleef moeilijke tye, vir wat ons noem kwaliteits-koerante gaan dit beter. Maar hulle moet almaal ook onlyn-inskrywers welkom heet. Ek wil ook nog sê dat nuwe onlyn-koerante, wat nooit op papier bestaan het nie, beslis nie altyd sleg is nie. Vir die leser is die nuwe ontwikkeling nie altyd sleg nie.

  • My geloof is: indien die gedrukte media, en hier ter sprake, spesifiek die koerant, homself( ja, 'hómself' ... as vrou, ervaar ek geen intimidasie nie) bevestig, as ń betroubare en wetenskaplik nagevorsde bron, van diverse, onpartydige inligting, SAL hy deel hê aan die noodwendige nalatenskap van sy HOOFREDAKTEUR: MENEER WAARHEID.
    NS Waarheid kan nie geskep of vernietig word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top