Kaapse langarmmusiek

  • 2

“[T]he purpose of langarm as a genre is to provide entertainment, with the role of the dance band and musicians specifically directed towards pleasing their audiences.” (Holtzman 2007:37)

“The history on langarm and more so the dance bands has not fully been documented and more articles on this genre can only be good to inform (the uninformed) and expose it to a wider audience.” (Hendricks 2020)

Foto: YouTube

Musiekvoorkeur en -belewenis is by uitstek ’n unieke, persoonlike en subjektiewe ervaring, veral omdat ’n spektrum van emosies, byvoorbeeld geluk, treurigheid, angstigheid, vaderlandsliefde of irritasie, meestal deur blootstelling aan ouditiewe musikale prikkels ontlok word. Benewens gevoelens is daar ook kognitiewe faktore (byvoorbeeld teoretiese en praktiese kennis van musiek) sowel as geheuefunksies (beelde van lekker koshuis- en rugbydanse van 50 jaar gelede) wat opgeroep word en wat ’n rol in die geheelervaring van musiek speel.

Hoewel die ervaring van musiek dus besonder subjektief van aard kan wees, is dit ook moontlik om verskillende groepe (byvoorbeeld geslags-, ouderdoms- en kultuurgroepe) se intensiteit en kwaliteit van musikale ervaring te meet en onderling te vergelyk deur middel van gewone steekproefseleksiemetodes en die statistiese ontleding van die data. Verskeie navorsingsprojekte oor die verband tussen outonomiese- en sentrale-senuweestelsel-reaksiepatrone en die blootstelling aan verskillende tipes musiek is reeds uitgevoer. Faktore soos die tydsduur van ’n bepaalde noot, die metriese inval, die opeenvolging van musieknote per tydsinterval, die intensiteit, aksente, sinkopasie, melodie, harmonie en ritmiese strukture word almal geassosieer met die induksie van emosie deur middel van musiek.

Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor die skrywer se siening en belewenis van en waardering vir die Kaapse langarmmusiekstyl.

Langarmmusiekstyl

Volgens Holtzman (2007) is die term langarm ’n inklusiewe term en verwys dit na ’n tipe dansmusiek sowel as na ’n tipe sosiale dans (veral baldans/ballroom). Langarmmusiek is instrumentale ballroom, en die hoofinstrument is gewoonlik die saksofoon (Layne 1995).

Coetzer (2005) stel dit ook duidelik dat langarmmusiek nie bloot ’n byproduk van ballroom is nie, maar ’n unieke Suid-Afrikaanse fusie van verskillende plaaslike en internasionale style is. Dit is ’n musiekstyl wat ook voortdurend aanpas by nuwe sosiale norme en voorkeure en sodoende op ’n deurlopende basis ’n neo-tradisionele styl tot stand bring.

Daar is ook ’n noue band tussen jazz en die Kaapse langarmmusiekstyl. Baie jazz-musikante het aanvanklik vir die doeleindes van ’n ekstra inkomste in langarmorkeste gespeel. Coetzer (2005) sê hieroor: “Not that langarm bands had a distinctive repertoire from jazz bands. Indeed langarm bands play and have always played a wide variety of pieces including foxtrots, tangos and jazz standards.”

Orkeste

Saterdagaande so teen tienuur se kant kom Sue Pyler se program Kapityt! op RSG aan die beurt. As Paddy Damon, Ronnie Appolis, die Cool Sounds, die Rhythm Dance Band en die Magnets Dance Band se langarmmusiek die vertrek vul, is ’n mens se lyf geneig om spontaan aan die beweeg te kom op maat van die meesleurende ritmes.

Die aandrywende of voortstuwende foxtrot se vierslagmaat (waarvan die eerste en derde slae meer geaksentueer is) van Hoagy Carmichael se 1938-komposisie “The nearness of you”, soos gespeel deur die Strand Combo in die langarmmusiekstyl (luister hier onder), illustreer hierdie punt meer as voldoende.

Die herinneringe aan (wyle) Abie Thomas en sy orkes met trompet, baskitaar, ritmekitaar, banjo, dromme en perkussie is besonder positief. Interessant genoeg het Abie die trompet as hoofinstrument verkies bo die tradisionele saksofoon. Ons het vir Abie en sy orkes omgepraat om twee keer op Stellenbosch by funksies te kom speel. Die laaste geleentheid was by die dineedans tydens ’n akademiese kongres, en veral die binnelandse en internasionale afgevaardigdes was in vervoering oor die orkes se eiesoortige styl en hierdie stukkie unieke Kaapse musikale kultuur.

Wat die kwessie van die trompet en die langarmmusiekstyl betref wys Hendricks (2020) daarop dat die trompet altyd in harmonie met die saksofoon gebruik word. Sy oupa was een van die pioniertrompetspelers gedurende die 1930’s in orkeste soos dié van Joe Murray en Elf Wylie. Abie Thomas het in sy oupa se voetspore gevolg en bekend geword toe hy en sy orkes in die Waterfront begin optree het.

Mr Peterson and the Guys is ook ’n bekende Waterfront-langarmorkes. In hierdie orkes gebruik Gerald Jacobs ’n trekklavier en Peter Abrahams ’n tjello en die gevolglike fusie van die twee instrumente roer ’n mens se hartsnare.

Net Bobby Hendricks en sy orkes kan “Patricia” speel soos hulle dit speel. ’n Skoolvriend van my se ma het ons klomp matriekseuns destyds op die maat van “Patricia” die quickstep se passies help baasraak. Die Gordonia Hotel in Gordonsbaai se danssaal was gedurende die sestigerjare ’n gewilde dansplek. Die langarmorkes se naam het deur die dekades al in die vergetelheid weggesink, maar beslis nie die ritmes en melodieë nie. Die Gordonia se langarmorkes het altyd die opeenvolgende dansnommers by wyse van die ritmes op ’n bordjie met liggies aangekondig, byvoorbeeld ’n tango, samba, rumba, ens. Volgens Chris Hendricks is hierdie verligte dansbordjies gewoonlik deur die orkesleier met ’n metaalknippie op die stel tromme vasgesit. Dit kon dalk Dougie McClons se Broadway Dance Band van die Strand gewees het wat ons destyds nie kon laat wag het vir die swaaiwalse en cha-cha’s in Sydney Sank se Gordonia-danssaal nie.

Die Philadelphia Rhythms is ’n staatmaker-orkes wat sedert 1947 reeds op die toneel is. Een van die vele hoogtepunte in hierdie orkes se geskiedenis het saamgeval met die besoek van die koninklike familie aan Suid-Afrika in 1947, toe hulle op versoek opgetree het tydens die swierige Royal Gala Ball in die Kaapse stadsaal.

Die huidige orkesleier, Chris Hendricks, is tans besig om ’n boek oor die geskiedenis van die Philadelphia Rhythms te skryf. Hy beplan ook om te verwys na ander genres soos die Kaapse Kersmars-orkes wat bekend is as Valiant Heart, asook die Nuwejaar Straatorkes. Hierdie orkeste maak gebruik van draagbare instrumente soos tydens die Kaapse Klopse se karnaval en Maleierkore se straatvertonings gesien kan word, en vorm ’n belangrike deel van die kulturele tradisies van die tradisionele Kaapse gemeenskappe.

Abie Thomas en sy orkes (Foto: Dreamtime.co)

Kort greep uit die geskiedenis

Volgens Dunseith (2017), Holtzman (2007) en Layne (1995) kan die ontwikkeling van langarmmusiek gekoppel word aan die geskiedenis van slawerny aan die Kaap, en is dit gevolglik deel van die breër Kreoolse kultuur wat daaruit ontwikkel het. Slawe was destyds afkomstig van verskillende lande, veral Oos-Afrika (Madagaskar en Mosambiek) en Asië (Indonesië en Maleisië), en het hulle eie musiekstyle, -voorkeure en -instrumente gehad. Soos die Kreoolse kultuur ontwikkel het, is dit aangeneem deur die bruin gemeenskappe aan die Kaap en aangepas by die plaaslike omstandighede. Dit word derhalwe gesuggereer dat langarmmusiek as ’n genre (alhoewel dit nie aanvanklik langarm genoem is nie) se wortels in die slaweperiode lê en geleidelik ontwikkel het tot die huidige bekende formaat of musiekstyl.

Voor 1930 het die langarmorkeste hoofsaaklik van verskeie Westerse klassieke instrumente gebruik gemaak, onder andere strykinstrumente. Hierna is die orkeste se musiekstyl veral deur militêre orkeste beïnvloed, en koperblaasinstrumente is weldra deur die langarm-musici ingespan.

Saksofoon

Volgens die W Heuer-Musikhaus (Stellenbosch) vorm die saksofoon deel van die familie van houtblaasinstrumente, alhoewel dit van geelkoper gemaak word. Die instrument word met ’n enkele rietmondstuk net soos die klarinet gespeel en word daarom as ’n houtblaasinstrument gekategoriseer.

Sedert die veertigerjare, en veral in die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog, is die saksofoon as ’n standaardinstrument in langarmorkeste opgeneem.

Sommige skrywers beweer dat die saksofoon as hoofinstrument deesdae ’n vereiste is vir ’n orkes om as ’n langarmorkes beskou te word. Hierdie skrywer was egter van mening dat meningsverskille binne die langarmgeledere bestaan, veral wat hierdie spesifieke kwessie betref.

Chris Hendricks, die orkesleier van die Philadelphia Rhythms, is gevolglik in dié verband geraadpleeg en hy het bevestig dat die saksofoon deur die tradisionaliste as die vereiste hoofinstrument beskou word. Hy bevestig ook verder dat daar hedendaags wel verskillende opinies oor die kwessie bestaan. Sommige orkeste maak van byvoorbeeld sangnommers gebruik om die saksofoon-effek mee af te wissel, maar die saksofoon kan nooit vervang word nie, anders verteenwoordig die musiek nie die egte Kaapse langarm-/ballroom-styl nie.

Uniekheid van die musiek

’n Tipiese Kaapse langarmdansorkes bestaan gewoonlik uit vyf tot ses musikante en die instrumente sluit ’n stel tromme, ’n baskitaar, ’n ritmekitaar, ’n hoofkitaar, ’n sleutelbord en vanselfsprekend ’n saksofoon in.

Die repertorium sluit dikwels liedjies met die ghoema-ritme in. Die ghoema-ritme kan beskryf word as ’n sterk ostinato of herhalende ritmiese patroon, en kan gegroepeer word as twee of vier maatslae per tydsinterval (Holtzman 2007). Coetzer (2005) sê by die twee dansfunksies wat sy bygewoon het, het die Khoisanorkes van die Oos-Kaap ’n quickstep met die titel “Ghoema-bietjies” as ’n openingslied gespeel.

Die ritmiese patrone van die sg vierkante (square) of steldanse wat deur vier pare per geleentheid gedans word, is ook ’n kenmerkende eienskap van die langarmmusiekstyl. Enkele voorbeelde is die kwadriel-, die lansiers-, die d’alberts- en die Caledoniese steldanse.

Slotopmerkings

Ek stem saam met Holtzman (2007) dat Kaapse langarmmusiek ’n kosbare kultuurerfenis is. Die musiek skep die geleentheid vir die uitdrukking van persoonlike, groeps- en gemeenskapsidentiteit en behoort dus uit daardie perspektief voortaan verder ontwikkel en bewaar te word.

In die alledaagse praktyk is die voordele van veral die aanverwante aktiwiteite wat met langarmmusiek verband hou, soos formele dansklasse en -kompetisies, voor die hand liggend. Dit skep nie alleen geleenthede vir positiewe sosiale interaksie by kinders en jeugdiges nie, maar bevorder ook motoriese vaardighede (hand-oog-koördinasie, konsentrasie en liggaamlike balans), positiewe selfkonsep en les bes is dit moontlik vir volwassenes om kosbare rolmodellering teenoor die jeug te doen.

Eindnota

Chris Hendricks (van Philadelphia Rhythms-faam) word bedank vir sy bereidwilligheid om waardevolle inligting en sy kennis oor Kaapse langarmmusiek met my te deel. Bodley van der Westhuÿsen en Jean le Roux se kundige insette verdien ook spesiale vermelding.

Bronnelys

Coetzer, B. 2005. Langarm in and around Grahamstown: The dance, the social history and the music. Journal of Musical Arts in Africa, 2(1):70–83. https://www-tandfonline-com.ez.sun.ac.za/doi/pdf/10.2989/18121000509486702.

Dunseith, M. 2017. Manifestations of “langarm”: From colonial roots to contemporary practices. MMus-verhandeling, Universiteit Stellenbosch. http://www.sun.ac.za/english/Documents/newsclips/dunseith_manifestations_2017.pdf.

Hendricks, C. 2020. Persoonlike korrespondensie, 20 Mei tot 30 Augustus.

Holtzman, G. 2007. Langarm: The social dance and music of the coloured people of South Africa. The Mellon Mays Undergraduate Fellowship Journal, 34–37. https://uraf.harvard.edu/files/uraf/files/mellon_journal_2007.pdf#page=40.

Layne, V. 1995. A history of dance and jazz band performance in the Western Cape in the post-1945 era. MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad. https://open.uct.ac.za/handle/11427/7853.

Riganello, F, MD Cortese, F Arcuri, M Quintieri en G Dolce. 2015. How can music influence the autonomic nervous system response in patients with severe disorder of consciousness? Frontiers in Neuroscience, 9:461. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC4674557.

  • 2

Kommentaar

  • Dis n baie goeie weergee van inligting oor veral Kaapse langarm. Jammer om te se, maar oor die jare het die meerderheid se bydraes oor hulself gegaan. In die jare 70/80 was daar n geweldige klomp langarmdansorkeste van wie niks gesê word nie. Om maar net n Paar te noem Philaricas, Philamonics, Alpha Rhythms, Les Versatiles en Baie Ander.

  • Ek stem saam met jou Mervyn. Veral vanuit 'n kultuurhistoriese hoek is dit belangrik dat die inligting oor die orkeste wat jy noem ook volledig neergeskryf word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top