Kaapse landskapkunstenaar keer terug na wortels

  • 0

Alice Elahi, Red Yachts, 1976 (waterverf)

Die UK Irma Stern Museum bied vanaf 12 Desember 2015 tot 23 Januarie 2016  ʼn uitstalling aan, Alice Elahi – a Capetonian at Heart, wat dié kunstenaar se lewenslange passie vir die Kaap en die see weerspieël. Dit sal die eerste keer in byna 30 jaar weer das Elahi weer in die Moederstad uitstal.

Alice Elahi, bekende Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar, is byna negentig jaar gelede in Kaapstad gebore, en selfs al het sy die meeste van haar werkende lewe in Pretoria deurgebring het, het sy nooit haar bande met die Moederstad verbreek nie.

Aan die begin van 2015 het die Pretoriase Kunsmuseum, waarvan Alice Elahi 'n lewenslank ʼn lid was, haar vereer met 'n drie-maande-lange retrospektiewe uitstalling. Die Universiteit van Pretoria het reeds in 1988 ʼn retrospektief oor haar werk uitgestal en beoog ook om haar argief te bekom, wat onder andere baie van haar afbeeldings van Namibiese woestynlansskappe insluit, een van die hooftemas in haar oeuvre.

Alice Elahi het in Bishopscourt grootgeword. Haar pa was n parlementslid en stigter van die Oros koeldrankmaatskappy. Sy het haar belangstelling in kuns op 'n vroeë ouderdom ontdek. Haar pa gehoop dat sy haar as chemikus by die Oros-maatskappy sou aansluit, maar tydens haar studies aan die UK het sy grootliks haar tyd spandeer om die kunsverening te organiseer. Nadat sy haar BSc-graad behaal het, het sy die kans aangegryp om in London kuns te studeer.

Haar lewe het ʼn wending geneem toe sy met 'n Iranese wateringenieur getroud is. Die gesin het in 1957 teruggekeer na Suid-Afrika en hul in Pretoria gevestig, waar sy tot vandag toe woon. Tydens somervakansies het hul haar ouers in Kaapstad besoek, en van haar eerste werke is afbeeldings van haar kinders wat op die strand speel. Nadat sy in 1968 die  Nuwe Handtekeninge-toekenning ontvang het, het sy weer voluit op haar skilderwerk gekonsentreer. ʼn Solouitstalling het in 1972 gevolg.

In die vroeë sewentigerjare is Elahi betower deur die opwinding van bote wat voorberei vir die Kaap-na-Rio-wedvaart, en haar werk uit hierdie era gee die kleure en gedruis van seile en maste weer. Die dokke was destyds deel van ʼn operasionele hawe en slegs toeganklik met ʼn permit. Elahi het aand na aand daar deurgebring om sonsondergange, die loeiende Suidooster, sleepbote, hyskrane en takelwerk vas te vang, of inksketse te maak van die Penny Veerboot. Die water se weerkaatsing het haar geboei en sy het nie net historiese beelde van die hawe vasgevang nie, maar ook die vissershawe in Houtbaai en die vlootdokke in Simonstad.

Sommige van hierdie werke, wat deel is van die kunstenaar se persoonlike versameling, word ten toon gestel - waaronder ook ʼn groot olieverfskildery met ʼn uitsig oor Tafelberg vanaf die Pretoria Castle skip.

As opgeleide olieverfskilder was waterverf vir Elahi hoofsaaklik ʼn medium wat sy gebruik om aantekeninge te maak, maar sy het spoedig ʼn meester daarin geword om deur die onmiddellikheid van die waterverfmedium veranderende lig en skaduwee vas te vang, terwyl haar plein air studies dikwels bespat was met watersprei, reëndruppels of woestynsand.

Sy het oral langs die Kaapse kuslyn geskilder, later die bergpasse ontdek en haar reise uitberei na die Namibiese duinevelde. Haar oneindige belangstelling in die veranderende luime van die see was ʼn konstante tema, wat haar later na die verlatenheid van die Skedelkus en Wilde Kus gelei het.

Harrie Siertsema, beskermheer van die kunste, wat 'n groot versameling van Elahi se werke besit, was vasbeslote om die kunstenaar se werk weer in haar tuisstad uit te stal. Hy en Nushin Elahi, een van die kunstenaar se dogters, het Alice Elahi – a Capetonian at Heart saamgestel. Die uitstalling neem die kyker op  ʼn reis na storms in die Kaapstadse hawe, robbe wat in die water baljaar by Kaap Kruis, tot by die Namibiese Skedelkus.

Vir navrae kontak irmastern@uct.co.za of info@aliceelahi.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top