Kaalvoet du Toit is al lank op die toneel as musikant in meer as een band, en sy tweede solo-album, Distrikstories, is eersdaags op die rakke. Hy vertel meer.
Dagsê, Kaalvoet. Hoe's dinge?
Lekker my bra. Maandae is mos my gunsteling-Woensdag.
LitNet het skelm-skelm ’n kopie van jou nuwe album, Distrikstories, in die hande gekry – so skelm dat jy dit self oorhandig het. Hoe voel jy oor die produk noudat die lang proses van opneem, vermenging en al daardie so te sê klaar is?
Ek is die plaatmaak-proses nou al ’n paar keer deur. Hierdie is immers al my vyfde ronde in die ateljee. En dit raak net al lekkerder. Ek het deesdae die voorreg om saam met producer Jo Ellis te werk aan my plate. Dit is eerlikwaar soos om by mens se ryk maatjie met al die cool speelgoed te gaan speel. En as mens klaarmaak, voel dit presies soos wanneer jou ma jou kom haal net wanneer jy op jou lekkerste speel.
Ek het my master vanoggend met gemengde gevoelens ontvang. Die CD is op pad en al die toere se reëlings begin nou posvat. So, my ma het my kom haal, maar daar is roomys en tjoklitsous by die huis.
Voor ons verder oor Distrikstories praat ... Jy is al jare lank in die ronde in die musiekbedryf – jy was destyds ’n lid van DiKazzins, hierdie is jou tweede solo-album, en jy tree ook dikwels saam met Hanru Niemand op in die Just Folkin' Around-uitvoerings. Wat was die beste en die slegste van die reis tot op hierdie punt?
Ek en Hanru speel al jare saam. Ons het selfs op skool saam klas gebank om ’n song te gaan skryf in die skoolsaal agter die verhoog (en Hanru was hoofseun). Dit was omtrent tyd dat ons ’n band stig. Ons is al twee moerse fans van folk-musiek, vir geen spesifieke rede nie. Just Folkin’ Around is ’n speelse eerbetoon aan die folkies van ons tyd. Ons het ook ’n kortspeler opgeneem vir die fun. So dit was lekker.
My vorige album, Spoke op Harleys, was vol frustrasies, woede en hartseer. Dit gaan oor ’n gestorwe vader, eks-girlfriends, dayjobs, drome wat aan skerwe le ... So dit was sleg.
Die enigste ding wat ek werklik haat van musiekmaak, is om speakers te dra. Daar was so ‘n kortstondige periode in Dikazzins waar ons ’n moerse borg gehad het, Hulle het ons kom haal met fancy karre en ander mense betaal om die speakers te dra. Dit was seker die lekkerste.
Jou betrokkenheid by ’n projek soos Just Folkin' Around is geen verrassing nie, gegewe jou duidelike voorliefde vir die storievertel-element in musiek. Wat kom eerste, die musiek of die stories?
Ek is nie seker nie. Ek en die stories kom al ’n lang pad saam. Party van hulle was op Facebook, die meeste van hulle doen al vir ’n wyle die ronde rondom braaivleisvure. Maar ek is ’n groot fluiter. Toe ek in die kelder gewerk het, het die Xhosas ’n naam vir my gehad wat iets in die lyn van "die liedjie in die wind" beteken het. Iewers moes die tunes en die stories mekaar seker raakgeloop het in my kop.
As ’n mens net deur die lys snitte kyk op Distrikstories, skemer ’n gevoel van wat kom, reeds deur: "Die Albertyns", "Leeukuil se Skuurdans", "Oom Stapper van Wyk", "Die ballade van Petsertjie" ... nie juis standaard flankeerdery-gedrewe poptreffers nie. Wie is jou teikenmark met hierdie storiemusiek en wie vind gewoonlik die meeste aanklank daarby?
Die mees bekende songs van die laaste 40 jaar is meestal stories. Dink maar aan Hank Williams, Willie Nelson, Waylon Jennings, Johnny Cash, Kris Kristofferson ... Die meeste van hulle songs is die mooiste stories denkbaar. Die ding is, mense identifiseer met dinge waarvan hulle persoonlik ondervinding het. Mense hou van dinge wat hulle kan hoor, proe, voel, sien of ruik. Die truuk van ’n goeie storie is om mense se basiese sintuie aan te spreek. Mens moet die prentjie so skets dat dit voel of hulle die karakters ken. Jan Spies was ’n meester daarmee.
Die stories self vind wye aanklank. Stories bied ’n bietjie ontvlugting van die hede. Dis tog immers hoekom tannies Mills & Boon lees. Ek het soos wat ek die stories begin vertel het ’n paar jaar terug, besef daar is ’n tipe hunkering na stories, en toe die goed begin skryf op Facebook. Ek het op die ou end ’n redelike gevolg opgebou en dit was toe dat Jo Ellis my omgepraat het om die storie-album te doen.
Ons sal maar sien wie die plaat koop, Ek hoop dit vind aanklank by die drie-tot-sesjariges. Lollos is moers famous.
Die musiek op die album is meestal redelik gestroop en minimalisties, met betreklik min perkussie en elektriese elemente wat te hore is. Fluitdeuntjies en die getokkel van ’n trompie klink ook op. Hoe het jy die samestelling en uitvoer van die klank aangepak in terme van hoe dit die gees van die stories en die oorkoepelende gevoel van die album moes weerspieël?
Ons (ek en Jo Ellis) wou lewe aan die stories gee, eerder as om die musiek die fokus van die plaat te maak. My inspirasie vir die musiek kom van oom Hein Carstens en oom Pietie Verwey in Jongensfontein, met bloot ’n bokskitaar en ’n Checkers-sak tot hul beskikking.
En kyk, dit is uit en uit ’n storie-album. Ek was hell-bent om ’n country-album op te neem, en ek het te veel Seasick Steve-video’s op YouTube gekyk op daardie stadium. Ek het gehou van die stripped-down klank van Steve se goed en ek het deesdae ’n girlfriend, so ek kan nie nog met drummers se moods ook deal nie. Voetperkussie was dus die antwoord op al my versugtinge.
Die uiteinde was toe ek en ’n bokskitaar en ’n paar voeterkassies ("stompboxes"). Agterna het ek ’n bietjie elektriese kitaar en baskitaar ingespeel. Die effek was die rootsy outlaw country wat jy tans in jou hoëtroustel het.
Jy het in die Boland grootgeword, maar die stories wat jy sing, speel af van Riversdal tot in die Klein Karoo en veel verder. Hoe beïnvloed die karakter van verskillende streke in die land eerstens die soort stories wat daarvandaan kom en tweedens hoe die musiek dit aanvul?
Ek dink nie dit maak rêrig saak nie. Jy as storieverteller skep tog die hele prentjie. Vat ’n song soos “’n Blikkie Samboksalf”. Die speel af in die Camdebo, naby Graaff-Reinet. Maar dit kon net sowel in Moorreesburg gewees het. Mens kry daardie moeilike ooms orals, dit is oral warm in die somer, en in die voorjare was kerk ’n groot ding. As jy die storie vertel, is dit net belangrik dat mense iewers ’n raakpunt vind.
Die musiek ... Hel bra, dis maar net country. Ek scheme country-musiek is uitgedink om stories mee te vertel. Sit so bietjie stof by en dan het jy het ’n album. Ironies genoeg, die plaat is in die Klein Karoo opgeneem.
Jy beskryf jouself as ’n kind van die ‘80's, "’n tyd toe ’n man maar jouself moes vermaak", en dat jou liefde vir stories (die aanhoor en vertel daarvan) hier ontkiem het. Dit was (en is) ’n veranderende tyd – het ’n kunstenaar ’n plig om die gebeure in sy samelewing in stories te weerspieël en een of ander boodskap daarmee saam te lewer, of hoe beskou jy die saak?
Man, ek wou eintlik net ’n country-plaat maak, en dit was nogal handig dat ek ’n paar stories geken het
Daar is ’n moerse klomp kwasifilosofieë, soos dat musiek die gewete van die samelewing is, en ander sulke goed wat mens sooibrand gee. Dit herinner my aan lirieke uit ’n Koos Kombuis-song: “Dik gerook op goedkoop zol, sit en stuur jy e-posse die wêreld vol.”
Daar is niks complicated aan musiek nie. Meestal het mens ’n boodskap om oor te dra, so party ouens is kwaad, party ouens is verlief, en ek ken ’n paar stories. Dit is niemand se plig nie, maar terwyl jy agter die mic is, hoekom nie?
Minder filosofies (of dalk meer?): jy is ’n werkende man wat musiek aan die kant aan die gang hou. Hoe balanseer ’n mens dit en hoe kan ’n mens dit volhoubaar maak, eerder as ’n blote stokperdjie, as ’n mens nie al jou tyd daarin kan sit nie?
Ag man, party musikante speel gholf (DNA Strings), party doen houtwerk (Akkedis) en party reël events (Zinkplaat, DPK). Almal kort ’n break van musiek elke nou en dan. Ek is ’n opgeleide ingenieur en dink kort-kort ’n verkoelingstelsel vir iemand uit. Ek stem saam: om ’n sukses van jou loopbaan te maak, moet jy ’n vyfjaarplan hê, soos Stalin, en fokus en stuff. Maar so cool as wat verkoeling is, dink ek nie ek wil dit vir ’n lewe doen nie. Verkoeling sal dus bloot ’n stokperdjie bly.
Gaan Kaalvoet ooit skoene kry? Wil hy skoene hê?
Bra, Kaalvoet is ’n ou familienaam. Dis maar toevallig dat ek nie skoene dra nie. En, ek hét skoene. Bruide kyk ’n mens skeef aan as mens sonder skoene by hulle troues aankom.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Puik onderhoud Nicol! Ons kan nie wag vir Distrikstories se launch nie!