Kaalgat Karel, ’n resensie deur Leon van Nierop

  • 1

Kaalgat Karel
Met Francois Jacobs en Christia Visser
Regisseur: Meg Rickards
In fliekteaters

Om die een of ander rede is om sonder klere te wees, en die woord “gat”, baie snaaks vir sekere lede van rolprentgehore. Voeg die twee saam, en jy kry ’n botsing wat nie net die klere laat spat nie, maar ook die gehoor se geduld. Daarom dat dit moontlik net in teaters uitgereik is, want as een persoon giggel oor ’n grap, steek dit die ander aan en verkeer mense dikwels onder die indruk dat dit “snaaks” is. Hulle lag omdat hulle voorgesê word.

Suid-Afrika se eerste manlike naaktoneel was Franz Marx in Jy is my Liefling (1969). Die sensasie in teaters wanneer die kaalboudtoneel onverwags gebeur, is legendaries. Almal het ’n storie daaroor te vertelle. Ook oor John Hardy wat kaal uit die see gehol het in Seuns van die Wolke (1975.)

Maar die kaalbaskuns bereik ’n onnoembare laagtepunt in Kaalgat tussen die Daisies (1997) waarin ’n dominee (nog ’n gunsteling-komiese karakter waarmee altyd wreed gespot word) bygesleep is. Daardie komedie het ook indirek aanleiding gegee tot die “dood” van die Afrikaans film vir byna ’n dekade.

In ’n persoonlike gesprek met iemand uit die buiteland, wat per ongeluk ’n gedeelte van Kaalgat tussen die Daisies op televisie gesien het, het my toegesnou: “You Afrikaners are a common bunch.” Waarop ek ons ou volkie natuurlik probeer verdedig het (die meesterlike Paljas (1998) deur Katinka Heyns het net daarna uitgekom, het ek bygevoeg.) Maar verniet.

Maar om te dink dat mense in 2021 nog sal skater vir ’n kaalbas is verstommend. Is ons so desperaat om die stram lagspiere te oefen? Mens sou dink dat die publieke smaak darem al verder ontwikkel het. En die feit dat die woord “gat” die lagbuie vererger, is ewe onverstaanbaar. Miskien is dit die invloed van die inperking en Kovid. Wie sal ooit verstaan?

Die grootste probleem met Kaalgat Karel is die oppervlakkige, soms kwetsende, lomp draaiboek wat geen simpatie of empatie (tot op ’n punt, maar dit gebeur te laat) met sy hoofkarakter het nie. In die dae van Jamie Uys sou ’n soortgelyke tema dalk anders en in beter smaak gehanteer gewees het. Maar hier verval dit in dikwels chaotiese banaliteit waarvan die nooit herstel nie. Dit plaas jou kop in ’n knyptang en martel jou tot jy noodgedwonge ’n lagspier verrek.

In plaas van om ’n “haai foeitog Pappa!”-simpatie met ’n man te hê wat kaal nael om geld te verdien of omdat hy uitgedaag word deur ’n ewe banale vriend (vriend?) is hy bloot ’n verleentheid. En dis nie noodwendig Francois Jacobs se skuld nie. Behalwe dat hy oorspeel (en dit is ’n regiefout waar die regisseur ’n man wat komedie verstaan, se spel moes getemper het) is hy bedrewe. En die bietjie verdraagsaamheid wat intree, is as gevolg van sy (oor-)entoesiastiese manewales en die gemaklikheid waarmee Karel ’n gek van homself maak. Maar hy kruip nooit in ons harte in nie al is die akteur se talent hoe duidelik.

Maar die werklike laagtepunt is Schalk Bezuidenhout as Flip, die kuberkraker-dryfveer agter die kaalnaelry. Hy gee Jacobs geen kans om te karakteriseer nie. Hy is soos ’n stout seuntjie in die klas wat gedurig die aandag aftrek, en hy probeer elke toneel skaamteloos kaap. Die stand-up komediant kom hier na vore wat met ’n uitdrukkinglose gesig sothede kwytraak wat ’n mens verstom. Dit wys jou net, soos sy fenomenale spel in Kanarie bewys, dat veral ’n komediant ’n stewige regisseurshand nodig het.

Daar is enkele tonele waar die rolprent ’n ongekende laagtepunt bereik. Wat ’n mens hier gesien het, kan nooit weer ontsien word nie. Die belaglike en kwetsende gebeure in die parlement, Flip in ’n Speedo wat steeds probeer snaaks wees deur ’n kledingstuk aan te trek wat niks met die toneel te doen het nie, en die spiertierdokter wat sy sespak heeltemal onnodig in die deur uitstal en soos ’n pronkduif rond paradeer en dan boonop ’n handdoek laat val. O ja, en die toneel waarin Karel sy skrotum beseer. Geslagsdele, naaktheid en boude (“gat” in die film se taal) laat dit later voel of jy ’n ongeskilde turksvy kou.

Hier bedel die rolprent nie net vir ’n skamerige grinnik nie, maar ook vir oë-uitpeul bewondering. Dit werk nie.

Nog ’n jammerte is die uitstekende Christia Visser wat, ironies genoeg in dieselfde regisseur, Meg Rickards se ontstellende Tess bewys het dat sy ’n briljante aktrise is. Maar hier is sy elmboog-lekkergoed, die soort meisie wat aan die elmboog van ’n sportster by ’n braaivleis opdaag en dan hang. ’n Goeie draaiboek sou haar, soos Ana de Armas in No Time to Die of Akwafina in Shang-Chi: The legend of the ten rings, (albei 2021) talentvol déél gemaak het van die komedie en bydrae tot die tafereel van snaaks wees. Tans is sy net ’n kersboomversiering en sy verdien beter as om net in nousluitende uitrustings geskok rond te paradeer. En presies wat haar na Karel toe aantrek, word nooit ordentlik gemotiveer nie.

Een ligpuntjie is die toneel waar sy haarself in ’n vistenk probeer was, maar die toneel is te kort en sit die pot vinnig mis.

Die rolprent probeer ook te veel dinge vir te veel mense wees. Politiek-korrek, vulgêr snaaks, kaal met ’n pynappel en met donderboude wat feitlik elke raampie vul. Die akteurs word eintlik ’n oneer aangedoen, want met nog drie of vier weergawes van die draaiboek, ’n groter onselfbewustheid en ’n beter motivering en verduideliking van Karel se kaskenades en obsessies (sonder die toneelstelende Schalk Bezuidenhout) kon dit dalk nog gewerk het. Maar nie in hierdie vorm nie.

Die rolprent herinner aan ’n skraler Willie Esterhuizen-komedie en selfs ’n nabootsing daarvan, net sonder Lizz Meiring as anker.

En die lomp dubbelsinnighede! Elke sin, elke woord wat moontlik ’n dubbele betekenis kan hê en wat mildelik en herhaaldelik rondgegooi word soos vlaterte in ’n slapstick-komedie, laat ’n mens aan ’n skoolkonsert dink. Elke toneel en grap word so leeggemelk soos ’n honger kalf wat sy ma se spene voos suig.

Na die briljante, eietydse en moderne wel-deurdagte komedie-styl van Johan Cronjé in Wonderlus (2015) en in ’n mate Meisies wat Fluit, (2020) gly ons weer tot diep in die gemakshuisie se gemorskos. Sonder die naaktheid en die dubbelsinnighede bly daar absoluut niks oor om voor te lag nie.

Hierdie is ’n komedie wat na ’n identiteit, dissipline en betekenis soek. Dis alles goed en wel om te sê mense wil dalk net lag na die afgelope 550 dae plus se inperking, maar jy wil jou nie vir die pogings tot komedie skaam nie. En natuurlik sal inseminasie ook, indien dit die regte term is: sy kop uitsteek.

Mens kan net hoop dat almal hier uit hul foute geleer het en dat Karel sy broek sonder ’n pynappel sal vind. En dat die kuberkraker die krake in sy onsnaakse, aandag-afleibare sêgoed sal raaksien en leer dat ’n byspeler dikwels ondersteun en nie elke oomblik probeer kaap nie.

Eers was ons net kaal. Nou is ons kaal in Kovid.

  • 1

Kommentaar

  • Frits van Oosten

    Ek probeer nog altyd verstaan wat bedoel word met, óf wat die betekenis is van die uitdrukking, 'ons ou volkie'. Hier tref ons dit weereens aan met Leon se heldhaftige poging om, na 'n onverwagte veralgemenende aanslag op die 'Afrikaners' wat kwansuis as 'n 'common bunch' uitgeskel is, 'natuurlik' te probeer om 'ons ou volkie' te verdedig. Om 'n argaïese uitdrukking te gebruik: hoeveel onse is in jou pond?
    Nogal 'n contradictio in terminus: moeilik om in te dink hoe met 'ons ou volkie' ten grondslag, die 'Afrikaners' enigsins kon baat vind by die 'verdediging' op die aanklag dat hulle 'n 'common bunch' is. Dit laat my dink aan die regsverteenwoordiger wat aanvaar sy kliënt is skuldig maar dan hand en tand sy onskuld in die hof bepleit.
    Die betekenis wat ek aan die beskrywing 'ons ou volkie' (wie dít ookal mag wees) heg, is in wese vernederend, veral omdat dit in die negatiewe en opvallende spottende verkleiningsvorm bewoord is. Met 'n reeks somers agter die rug, ken ek nie só 'ou volkie' nie en het ek nog nooit enige mense ontmoet óf mee in aanraking gekom wat by dié beskrywing, soos ek dit verstaan, sou inpas nie, veral nie as 'n volk óf volkie nie. Nog minder sou ek verwag dat ek, óf dan dié wat ek ken óf mee te doen kry, in die mees ongegronde veralgemening, in die tipering van''n ou volkie' ingesluit word.
    Wat komedie aanbetref, is 'n spesifieke belewenis, uitlewing en waardering daarvan, nouliks toe te skryf aan 'n volk óf dan ''n volkie'. By wyse van voorbeeld: die soort van komedie waarmee ons dekades lank al vanuit Hollywood bombardeer word, is ook nou nie juis altyd van só gehalte dat dit enige besondere groep óf dan 'volk' bo die kader van 'n 'ou volkie' verhef nie.
    Miskien het dit tyd geword om dié beskrywing, van wie ook al, finaal ter ruste te lê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top