#JustMen by die Baxter-teater: ’n teaterresensie

  • 0

#JustMen by die Baxter-teater

Regie: Heinrich Reisenhofer
Die geselskap met: Sherman Pharo, Johan Baird, Thando Doni, Heinrich Reisenhofer en Loukmaan Adams

Sherman Pharo, Johan Baird, Thando Doni, Heinrich Reisenhofer en Loukmaan Adams | Foto: Oscar O'Ryan

Binne die teaterlandskap word daar soms stukke op die planke gebring wat jou asem vir verskeie redes wegslaan. Dit het egter lanklaas met my gebeur dat ek ’n stuk kyk wat my op verskillende vlakke roer en dat dit my ’n paar dae neem om ’n resensie daaroor te skryf. #JustMen het my so laat voel.

So toe wag ek. Ek wag en dink aan ’n manier om dit te benader wat nie té gaan wees nie, want ’n mens hoor mos maar in ligte luim gereeld dat té veel van iets nie altyd goed is vir jou nie.

Die stuk handel oor verkragtingskultuur en die geweld wat gepleeg word teen vroue en kinders. Dit plaas mans en hul aksies in die kollig en hoe hulle moet begin opstaan en verantwoordelikheid neem vir hul gruweldade en ook nie moet toelaat dat ander mans daarmee wegkom nie. Die vyf spelers deel werklike stories en daardeur maak hulle die gesprek van hul misstappe, hoe klein of groot, oop. Iets soos “catcalling” en die manier waarop dit bydra tot die verkragtingskultuur, is ook deel van die stuk, asook korrektiewe verkragting waarvan ’n mens dikwels in die nuus lees.

In die tye van #MeToo en #TimesUp is dit so belangrik dat ons mense bymekaarkry wat hierdie tipe gesprekke gaan voer en nie gaan wegskram van die ongemaklike onderwerpe af nie. En dis wat #JustMen probeer doen. Aanvanklik wou die regisseur en geselskap die produksie nét vir mans opvoer, omdat hulle sterk daaroor voel dat mans verantwoordelikheid en eienaarskap moet neem. Hulle het egter toe besluit om die net wyer te span en die gesprek breër te voer.

Dit het wel by my vrae laat ontstaan oor die etiese implikasies van so ’n tipe stuk – die tipe wat jou ’n emosionele vuishou gee en laat dink aan al die ongerymdhede wat teen ons vriende en mede-mens en soms jouself gedoen is, want die vier mans op die verhoog hou nie terug nie. Die stories word gedetailleerd vertel en die materiaal is van so ’n aard dat dit maklik hertraumatiserend kan wees vir mense wat al onder die hand van geweld deurgeloop het.

Die geselskap en die regisseur het dit duidelik gemaak dat die stuk ook moet sorg vir gesprek en hulle neem dit ook buite die teater na gemeenskappe toe, sodat alle areas deel van die gesprek kan vorm.

So, kry die stuk reg wat dit beoog het om reg te kry? Ek besef dié oordeel lê dalk nie by my nie, want ons almal ervaar teater verskillend. Sommige mag dalk selfs voel die stuk is nie regtig teater nie (dit breek vir seker die konvensies deurdat die gehoor deelneem aan die aksie en saampraat aan die einde), maar as gehoorlid was ek ongemaklik, kwaad, hartseer en kon nie help om vir dae daaroor te dink en met mense te gesels nie. Ongemak is dikwels goed, want in ongemaklike plekke word jy uit jou gemaksone uitgehaal, maar wanneer die ongemak bietjie oorweldigend begin voel en asof dit jou wil versmoor, loop jy myns insiens gevaar om jou kykers te vervreem. ’n Vriendin het vir my na afloop van die produksie gesê sy is baie kwaad, want die stuk kan emosioneel manipulerend wees en sy het agtergekom dat dit meestal vroue is wat tot trane gedryf word. Dit is nie te sê daar is nie mans wat daardeur geraak is en word nie, dis net ’n groot emosionele sneller wat getrek en dan afgevuur word, en die fokus daarvan is geweld teen vroue en kinders.

Die stuk het my laat huil, maar dele van die hinderlikhede sou ek sny, soos byvoorbeeld dat vooraf gesê word die gehoor moet onthou om asem te haal. Dit plaas jou alreeds in ’n ongemaklike en voorskriftelike posisie. Na afloop van elke vertoning word daar ook ’n ruimte gebied waar die mans en vroue apart kan gesels en ook voorstelle kan gee vir die pad vorentoe.

Die akteurs se spel was goed en geloofwaardig en die stuk sorg vir gesprek. En dis wat teater moet doen. Ons samelewing het nog ’n lang pad om te stap om werklik openlik oor al die dinge te begin gesels. Die #MeToo en #TimesUp-bewegings het oorsee begin en behoorlik vlamgevat. Te veel van die gesprekke onder ons word nog onder die mat ingevee en dis ’n groot taboe om daaroor te praat. En sodoende dra ons stilte by tot die voortbestaan van geweld. So ek hoop ons kan aanhou praat, maar nog meer hoop ek dat ons tot oplossings ook sal kom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top