Met die dood van die Duitse filosoof Jürgen Habermas op 14 Maart in Starnberg, op 96-jarige leeftyd, verdwyn een van die laaste groot stemme van die Europese openbare rede. Maar Habermas se denke was nooit slegs vir Duitsland of Europa bedoel nie. Sy groot vraag – hoe vrye en verskillende mense in ’n moderne samelewing deur gesprek, argument en wedersydse erkenning kan saamleef – raak ook samelewings soos Suid-Afrika. In ’n land waar historiese wonde, kulturele verskille en nuwe politieke spanninge mekaar steeds kruis, bly die vraag na ’n geloofwaardige openbare gesprek een van die sentrale uitdagings van ons demokrasie. (Interessant dat die oop gesprek ook een van die sentrale begrippe by Van Wyk Louw is.)
Habermas was in die diepste sin van die woord ’n filosoof van die moderne demokrasie. Sy groot vraag was nooit bloot wat waar is nie, maar hoe waarheid, legitimiteit en geregtigheid in die openbaar bemiddel kan word. Anders gestel: Onder watter voorwaardes kan mense mekaar met redes oortuig – eerder as met geweld, manipulasie of blote mag?
Hierdie vraag maak hom vandag besonder aktueel. In ’n era van polarisasie, digitale geraas, ideologiese stamvorming en institusionele erosie klink Habermas se stem tegelyk oud-Europees en verrassend vars.
Vir my is hierdie verlies ook persoonlik. Ek het die voorreg gehad om in 1989 vir ’n semester by Habermas in Frankfurt te studeer. Daaruit het nie net my doktorale studie voortgespruit nie, maar ook ’n langdurige intellektuele gesprek met sy werk. Later het ek hom ook verskeie kere persoonlik ontmoet, die laaste keer in 2019. My indruk van Habermas was dat hy, waar hy in die openbaar en veral onder sy studente argumentatief strydvaardig was, in privaat gesprekke opvallend hoflik en selfs effens skugter kon wees.

Jürgen Habermas (Foto: Wolfram Huke, CC BY-SA 3.0, via Wikimedia Commons)
’n Lewe gevorm deur geskiedenis
Om Habermas se betekenis te verstaan moet ’n mens sy biografie betrek. Hy is in 1929 net buite Düsseldorf gebore en het as jong Duitser die morele en politieke breuk van 1945 intens beleef. Soos hy later self erken het, het die ervaring van Nazi-Duitsland en die vraag hoe ’n moderne samelewing so diep kon ontspoor sy hele denklewe bepaal.
Daarby het ’n gesplete verhemelte en die gepaardgaande spraakgebrek hom reeds vroeg sensitief gemaak vir die broosheid – maar ook die noodsaaklikheid – van menslike kommunikasie. Dit is daarom nie toevallig dat taal, gesprek, wederkerigheid en publieke argument so ’n sentrale rol in sy filosofie speel nie.
As verteenwoordiger van die tweede generasie van die Frankfurter Skool het Habermas voortgebou op figure soos Adorno en Horkheimer, maar hy het ook op belangrike punte van hulle wegbeweeg. Waar die vroeë Kritiese Teorie dikwels geneig was tot kultuurpessimisme en ’n donker diagnose van moderniteit, wou Habermas die normatiewe potensiaal van die moderne wêreld red.
Hy het nie die krisisse van kapitalisme, burokratisering en tegnokratiese mag ontken nie, maar volgehou dat daar in taal, reg, burgerlike samelewing en demokratiese instellings steeds emansiperende moontlikhede opgesluit lê.
Die openbare sfeer
Habermas se vroeë klassieke werk, Strukturwandel der Öffentlichkeit (1962), het reeds sy naam gevestig. Daarin ontleed hy hoe die burgerlike openbare sfeer in Europa ontstaan het as ’n ruimte waar private burgers as publiek oor sake van gemeenskaplike belang oorleg gepleeg het.
Terselfdertyd wys hy hoe hierdie sfeer met verloop van tyd deur ekonomiese belange, massamedia en administratiewe mag vervorm is.
Vandag, in ’n tyd van algoritmes, propaganda, politieke spektakel en sosiale media-verbrokkeling, lees hierdie werk byna profeties. Die openbare sfeer, vir Habermas, is nie bloot die plek waar menings bots nie. Dit is die medium waardeur ’n samelewing homself redelik leer verstaan.
Kommunikatiewe rede
In sy magnum opus, die tweedelige Theorie des kommunikativen Handelns (1981), werk Habermas hierdie intuïsie sistematies uit. Die kernidee is eenvoudig, maar diep: Mense tree nie net strategies op om sukses te behaal nie; hulle tree ook kommunikatief op, met die oog op wedersydse verstaan.
Met ander woorde: Ons leef nie slegs deur mag, geld en administrasie nie. Ons leef ook deur gesprek, interpretasie, regverdiging en die uitruil van redes.
Hieruit vloei bekende begrippe, soos die ideale gespreksituasie, geldigheidsaansprake en die beroemde formulering van die “dwanglose dwang van die beter argument”.
Kritici het hom soms idealisties genoem – en soms tereg. Maar die krag van Habermas se denke lê juis daarin dat hy nie by die brute feite van mag gaan stilstaan het nie. Hy het gevra watter normatiewe voorwaardes reeds stilweg in elke aanspraak op waarheid, reg en opregtheid opgesluit lê.
Lewenswêreld en sisteem
’n Verdere belangrike onderskeid in sy werk is dié tussen lewenswêreld en sisteem. Die lewenswêreld is die alledaagse wêreld van kultuur, identiteit, opvoeding, taal en morele selfverstaan. Dit is waar mense gedeelde betekenisse ontwikkel en hul sosiale wêreld verstaan.
Die sisteem verwys na die gespesialiseerde domeine van mark en staat wat volgens geld en administratiewe mag funksioneer.
Die krisis van moderniteit ontstaan wanneer hierdie sisteme die lewenswêreld begin koloniseer. Wanneer ekonomiese en burokratiese logika die plek van openbare gesprek en gedeelde betekenis inneem, word die mens se vermoë tot solidariteit en selfverstaan ondermyn. Dit is moeilik om nie hierin iets van ons eie tyd raak te sien nie.
Habermas en die politiek
Habermas se latere werk het hierdie kommunikatiewe intuïsies sterker in die rigting van reg, etiek, politiek en demokrasie gedryf. In ’n werk soos Faktisiteit en geldigheid (Faktizität und Geltung, 1992) argumenteer hy dat demokratiese legitimiteit nie bloot uit verkiesings of staatsgesag vloei nie, maar uit deurlopende prosesse van publieke beraadslaging tussen vrye en gelyke burgers.
Sy begrip van ’n oorlegplegende (deliberatiewe) demokrasie het wêreldwyd ’n enorme invloed gehad: in politieke filosofie, regsteorie, demokratiese teorie, media- en kommunikasienavorsing, sowel as in debatte oor grondwetlikheid, die burgerlike samelewing en menseregte.
Habermas as openbare intellektueel
Maar Habermas was nie net ’n denker van boeke nie. Hy was een van daardie skaars figure wat tegelyk sistematiese filosoof én openbare intellektueel was. Hy het oor die Golfoorlog, die Europese Unie, 9/11, die plek van religie in ’n post-sekulêre samelewing, genetiese manipulasie, migrasie, populisme, die pandemie en die oorlog in Oekraïne geskryf. Tot enkele maande gelede het hy op 96 volgehou in die debat oor die lot van Europa en die normatiewe koers van die Weste. In baie opsigte kan hy as die hoeksteen van die naoorlogse Duitse gewete gesien word.
Tog sou dit verkeerd wees om Habermas tot ’n sekere liberale ortodoksie te reduseer. Hy was ’n belangrike verteenwoordiger van die Kritiese Teorie en het altyd sensitief gebly vir vervreemding, ideologie, ekonomiese mag en historiese onreg. Hy het sowel linkse radikalisme as konserwatiewe revisionisme gekritiseer. Hy het die Duitse samelewing telkens herinner dat demokrasie nie op vergetelheid gebou kan word nie, maar op historiese selfkonfrontasie. In die beroemde Historikerstreit van die 1980’s het hy standpunt ingeneem teen pogings om die unieke gruwel van die Nazi-verlede te relativeer. Opnuut blyk hier sy lewenslange oortuiging: ’n Politieke gemeenskap kan slegs moreel volwasse word deur openbare selfkritiek.
Habermas en Suid-Afrika
Vir Suid-Afrika is sy nalatenskap besonder relevant. Ons leef in ’n samelewing van meervoudige tale, ongelykhede, historiese wonde en botsende identiteite. Juis daarom kan Habermas hier nie eenvoudig ingevoer en onsensitief toegepas word nie. Sy model van rasionele diskoers, konsensus en openbare rede moet hier deur ons eie geskiedenis, pluraliteit en materiële ongelykhede getoets word. Ons weet alte goed dat mense mekaar nie in die openbaar as suiwer abstrakte, gelyke individue ontmoet nie. Hulle kom met littekens, met herinneringe, met strukturele benadeling, met tradisies en met wantroue.
Tog sou dit ’n fout wees om Habermas daarom af te wys. Inteendeel. Sy werk herinner ons daaraan dat demokrasie méér is as numeriese meerderhede, partylojaliteit of staatlike beheer. Dit vra ook na die kwaliteit van ons openbare lewe: of ons nog in staat is om mekaar te hoor; of ons instellings nog vir burgerlike stemme voorsiening maak; of die media nog ruimte skep vir ernstige debat; of die reg en die politiek nog met die samelewing in gesprek staan. In ’n land soos Suid-Afrika, waar konstitusionele demokrasie onder druk is, maar nog nie uitgeput is nie, bly hierdie vrae van onskatbare belang.
Vir baie Afrikaanse Suid-Afrikaners voel die nuwe Suid-Afrika vandag soms vervreemdend. Daar is by baie mense ’n gevoel van verlies aan invloed, van kulturele onsekerheid en soms ook van politieke marginalisering. Hierdie gevoelens moet nie eenvoudig weggewys word nie. In elke demokrasie is dit ’n uitdaging vir minderheidsgemeenskappe om hul plek binne ’n veranderende politieke orde te vind. Maar Habermas sou waarskynlik daarop aandring dat die antwoord nie in onttrekking of nostalgie lê nie. Demokrasie vra nie net erkenning nie; dit vra ook deelname.
’n Nalatenskap van gesprek
Habermas se dood sluit nie bloot ’n lewe af nie. Dit beëindig ’n tydvak waarin ’n filosoof nog kon glo dat die openbare gebruik van rede nie ’n naïewe ideaal is nie, maar ’n historiese taak. Hy het sekerlik nie al die antwoorde gehad nie. Sy denke was soms te formeel, soms te optimisties oor konsensus, soms te Europees in sy voorveronderstellings. Maar selfs sy beperkings was produktief: Hulle nooi tot verdere gesprek, hersiening en kreatiewe kritiek.
Miskien is sy grootste nalatenskap uiteindelik nie dat hy die laaste woord gespreek het nie, maar dat hy die gesprek op ’n hoër vlak geplaas het. In ’n wêreld waar ’n geskreeu dikwels die plek van argument inneem, en waar mag hom maklik as waarheid voordoen, of waar ander hulle in vermeende stilte wil afsluit, het Jürgen Habermas aangehou glo dat die beter argument nog saak maak.
Met sy heengaan word die stem stil. Die vraag bly. Hoe leef ons saam as vrye, gelyke en eindige mense in ’n brose gemeenskaplike wêreld? Solank dié vraag met erns gevra word, sal Habermas se denke ook hier bly voortleef.


Kommentaar
Dankie vir 'n insiggewende artikel! Algaande leer mens juis as so 'n artikel oor jou pad kom en oortuig om bietjie stil te staan en oor die "geraas" om jou te dink. Stille logika en 'n hoopvolle lewensiening. Mooi dag!
Die wêreld blyk armer te wees sonder hom.
Die oorsig beklemtoon Habermas se aktualiteit indrukwekkend. Dit is met meelewing en dankbaarheid gelees.
Dankie, Pieter Duvenage, vir hierdie helder huldeblyk.
Pieter, dankie vir jou skitterende huldeblyk aan Jurgen Habermas. Jy het my in die vorige eeu aan sy besondere perspektief op die hermeneuties-kommunikatiewe denke bekendgestel. Ek het dit vrugbaar in my boek oor die homiiletiek gebruik. Ek sal jou ewig dankbaar bly.
"Die onondersoekte lewe is nie die moeite werd om te leef nie." - Sokrates
Jou analiese en erkenning van die verskil wat Habermas se denke in die lewens van mense gemaak het en die voortgesette relevansie daarvan is 'n huldblyk op 'n lewe wat saak gemaak het.