Die Kaapse rockgroep Julia Robert het die tonge los met hul harde, vinnige klanke en inslag. LitNet het hulle genader vir ’n onderhoud en hulle het ingestem, mits die onderhoud met die groter entiteit Julia Robert gevoer word en nie met enige enkele lid nie.
Goeiedag, Julia. Hoe's dinge?
Dinge is lekker. Volgende vraag!
Julia, jy het onlangs ’n kortspeler van drie snitte, Bad is Everything, aanlyn beskikbaar gestel. Dis ’n heerlike, blitsvinnige rock-tentoonstelling. Jy bestaan uit vier lede en is van die Kaap afkomstig – hoe het die groep gevorm en wat wil jy graag met die musiek bereik? Dis nie maklik om as splinternuwe groep in Kaapstad naam te maak nie (veral noudat Mercury gesluit het) – hoe ervaar jy hierdie uitdaging tot dusver?
Julia Robert het begin as ’n tweestuk-band met kitaar en tromme, maar nie Tara of Rod wou sing nie. Toe kry ons vir Ines om die mikrofoon te tem. Daarna het Joao op die baskitaar saam begin speel, en van daar af het hulle nooit weer teruggekyk nie ... behalwe vir daai een keer ...
Ons was almal nog altyd vriende vandat ons Kaap toe getrek het, en ons deel ’n passie en liefde vir live musiek hier in Kaapstad. Toe besluit ons om dit self te begin maak.
Die drie snitte is kraakvars – tog voel dit of daar ’n mate van minimalisme betrokke is by die skryf en opneem daarvan, ’n soort opsetlike lo-fi quality. Was dit inderdaad met opset? Hoe het jou "klank" gevorm en wat is die waarde van ’n meer "straightforward" klank te midde van ’n musiektoneel wat dikwels oordonder word met overproduced, radiovriendelike snitte? Hoe sien jy jou plek in die plaaslike musiektoneel in die algemeen?
Eerstens, ons wil nooit heilig wees oor enigiets wat ons doen nie. Ons maak musiek omdat ons lief is daarvoor en dol is daaroor, en dis al. Daar's geen mikpunt om dit op die radio of op KFC-advertensies te kry nie. Ons wil ons idees so vinnig en so eerlik as moontlik daar buite kry. Dis deels hoekom ons die drie snitte live en in een dag opgeneem het. Dit hou dit vars, rou en eerlik.
"Punk is dead", "Rock is dead" en dies meer is uitdrukkings wat die meer siniese musiekaanhangers graag uiter. Jy, Julia, is ’n mooi teenbewys. Jy het besonder vinnig besonder gewild geraak – waaraan skryf jy dit toe? Is daar weer ’n gaping, of ’n oop golf, vir eerlike punkmusiek, of in hoe ’n mate skryf jy jou gewildheid toe aan jou filosofie van "Haters of politics, friends of dance", soos dit op jou Facebook-blad geskryf word? Is daar in die algemeen ’n tekort hieraan in die plaaslike en internasionale musiektoneel?
In Kaapstad soek mense gereeld die wenresep vir rockmusiek. Ons wil net doen wat lekker voel en klink vir onsself, en ons dink graag die mense tel dít op. Ons is nie regtig gemaklik daarmee om onsself ’n punkband te noem nie, maar hou wel van die oorspronklike houding van punk – daai doen-dit-self-gees. Vir ons is punk belangriker in terme van die houding as in terme van ’n genre.
Op die verhoog gaan alles vir ons oor energie, klankversterker-terugvoer en geraas. So ons is baie stoked om te sien daar is mense daar buite wat musiek geniet wat nie jou tipiese Suid-Afrikaanse rock is nie.
Wanneer ons sê dat ons politiek haat, bedoel ons eintlik dat ons eerder fokus op subjektiewe of persoonlike stories. Eerder as om groot sweeping statements te maak oor die aard van die samelewing, fokus ons op die konflikte wat individue ervaar. Daar is genoeg musiekgroepe in die wêreld wat politieke kommentaar lewer – ons los die politiekery maar vir hulle.
Volgens ’n beskrywing op jul Bandcamp-blad, en soos jy pas ook gesê het, is die drie snitte live opgeneem (in Februarie vanjaar). Wat word hiermee bedoel – is dit regstreeks opgeneem, nie met click-track en snit vir snit nie? Dis ’n interessante benadering. Hoe was die opname-proses vir jou in die algemeen? Hoe het jy besluit watter liedere moet dit tot in die studio maak, en hoe wil jy dit in die toekoms benader?
Die drie spesifieke snitte is gekies want dit was die eerste liedjies wat ons geskryf het. Soos ons bo genoem het, het ons dit so vinnig as moontlik opgeneem om dit vars te hou. In die ateljee het ons toe ’n klomp kamermikrofone opgestel en al die instrumente saam opgeneem. Daarna is die lae vocals bo-oor dit opgeneem. Dit was maar basies ’n gefokuste oefensessie.
Dit was slegs moontlik danksy ons goeie vriend Gerhard Grobler, wat as klankingenieur gehelp het om die opname te doen. Daar is nie veel klankmanne in hierdie land wat in so ’n kameropname dinge so presies en skoon kan opneem nie. Sonder hom en Platinum Studios sou “Bad is everything” nie moontlik gewees het nie. Ons volgende EP gaan op dieselfde manier opgeneem word, aangesien ons die proses so geniet het.
Die snit "Wolfie" is veral interessant, ’n lekker fuzzy Afrikaanse punksong. Dis egter die enigste Afrikaanse snit wat beskikbaar is – is dit sommer vir die pret daarvan, of probeer jy ’n voet in beide die Engelse en Afrikaanse toneel hou hiermee? Hoe sou jy die verskil tussen die Engelse en Afrikaanse toneel beskryf in Suid-Afrika, as daar enigsins noemenswaardige verskille is? Sal jy graag nog verder in beide tale wil musiek maak?
Dit het maar net so gebeur. Ons probeer nie die Afrikaanse punk scene oorwin of enigiets van dié aard nie. Die enigste rede hoekom dit in Afrikaans is, is oor die kinderspeletjie "Wolf, Wolf, hoe laat is dit?". Diegene wat na die optredes toe kom, sal weet ons begin gewoonlik die aand met ’n kort uitvoering van die speletjie. Dis basies net ’n prettige ding om te doen en dit juxtapose die kinderspeletjie teenoor die volwasse inhoud van die lirieke.
Wat betref die Engelse en Afrikaanse musiektonele ... die meeste Afrikaanse mense luister na Kurt Darren en die meeste Engelse mense luister na Prime Circle. So fok dit albei.
’n Mens probeer om daai boring vraag van "Waar kom jou naam vandaan?" te vermy in onderhoude met bands, maar ek dink in jou geval, Julia, skuld jy ons ’n verduideliking. Waarom Julia Robert? Het jy al dagvaardingsbriewe gekry van ’n aktrise wie se naam baie dieselfde klink? Deesdae moet bands hulself googleable en maklik vindbaar maak – was dit vir jou ’n oorweging met die kies van die naam?
Google Shmoogle. Ons hou daarvan om dinge laf te hou – die naam is net ons wat fun het. Ook was die meervoudvorm reeds geneem.
Julia Robert is ’n kraakvars act, maar jy het al ’n hele paar gigs agter die blad. Enige hoogtepunte of gunsteling-stories tot dusver? Die harder rockers is bekend vir agter-die-skerms-manewales – hoe werk dit by jou? Enige voorvalle wat jy eerder sal wil vergeet?
Die heel eerste vertoning was verlede jaar by ’n Halloween-partytjie in ’n ou huis op ’n heuwel in Walmer Estate. Daar was ’n onheilige aantal mense wat in die klein sitkamer waar ons gespeel het, ingedruk was. Die ou houtvloer het daai nag byna ingegee. Jy kan seker sê "We (almost) brought the house down." Dit was beslis ’n hoogtepunt.
Backstage? Julia hou alles smaakvol.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Julia Robert in?
Om nog ’n drie-snit-EP so gou as moontlik op te neem. Daarna wil ons aanhou om soveel as moontlik musiek so dikwels as moontlik uit te gee. Natuurlik beoog ons ook om rad live shows te doen en om verhoudings te bou met ander bands in die Republiek.
Wat is die sin van die lewe?
Bad is everything.



