Ek wou so graag hierdie jaar Europa in sy lentetyd gaan besoek het. In plaas daarvan reis ek nou op my balkon. Daardie eerste dae van die inperking voel so ietwat vaag. My stapeltjie boeke was net daar waar ek hulle neergesit het. Ek kon glad nie lees soos wat ek dit my geestesoë voorgestel het nie. Ek vind uit dat ek darem nie alleen is nie. Daar is talle artikels op sosiale media wat die rondte doen dat ons nie bekommerd moet voel as ons nie so produktief is in hierdie tyd nie – ons is besig om aan te pas en ons moet afskeid neem van die lewe soos wat ons dit geken het. Soos almal moes ek ook maar my voete vind en al wat ek kan onthou, is dat ek vir my elke dag ’n stapdoelwit gestel het. Ek het tot nou toe al so ongeveer 165 km heen en weer gestap. Eet, slaap, stap, herhaal. En so stap ek my uit my routydperk uit.
Tydens die stapsessies luister ek radio, musiek en soms na niks nie. Terwyl ek stap, begin ek in my kop briewe aan my tas skryf. Nee, ek het nie my varkies met die inperking verloor nie. Ek het al briewe vir Koos vóór COVID-19 begin skryf. Ja, my tas het ’n naam (en sy eie persoonlikheid!). Ek vertel vir Koos van al my reise voordat hy my tas geword het, en ook van al ons avonture saam. In hierdie tyd word my briewe ’n heerlike ontvlugting na my reisherinneringe en -skandes. Ek vertel hom al daardie klein stories van treine wat ek verpas het; die aand toe ek kilometers ver moes loop om ’n hotel te kry; die Valentynsaand toe ek die derde wiel was; hoe ek die groot eet tydens Paasfees in Pole oorleef het; en hoe ek kaalvoet ’n klavierkonsert in Italië bygewoon het.
Ek haal weer die foto’s uit en met die regpak van kaste kom ek op allerhande goed af wat my aan my reise herinner. Die rustiger pas laat ’n mens dink en daar is ’n besef van die verbruikersmentaliteit wat by ons reise ingeglip het. Ons het soos daardie batteryhasie aanhou hardloop. Ons besoek duisende museums en neem duisende foto’s wat stof op rekenaars en hardeskywe vergader, maar ons dink nie daaroor na nie en ons kyk nie weer na die foto’s nie. Dit laat my aan die woorde van die Poolse digter en Nobelpryswenner Wisława Szymborska dink: “Ons lewe langer, maar minder presies en met korter sinne. Ons reis vinniger, meer, verder; maar in plaas van herinneringe, bring ons foto’s terug.”
Dit is uit die gedig “Nieczytanie” oftewel “Ongelees” in haar 2009-digbundel Tutaj (Hier) en is my eie vrye vertaling.
Ongelees
Vir Proust se kunswerk
gee hulle nie ’n afstandbeheer nie,
jy kan nie tussen die stasies hop,
spring na die sokkerwedstryd
of na die vasvraprogram kyk waarin jy ’n Volvo kan wen nie.Ons lewe langer,
maar minder presies
en met korter sinne.Ons reis vinniger, meer, verder;
maar in plaas van herinneringe, bring ons foto’s terug.
Hiér is ek saam met die een of ander ou.
Dáár is, dink ek, my eks.
Hiér is almal kaal,
dus sekerlik iewers op ’n strand.Sewe bundels – liewe genade.
Dit laat hulle nie opsom, verkort nie,
dis beter om dit in prentjies te wys.
Daar was eens ’n Poolse TV-reeks, Pop,
maar my swaer sê dit was van iemand anders se van wat begin met P.1In elk geval, terloops, dit wat so ’n iemand
Wat glo vir jare in die bed geskryf het.
Bladsy na bladsy,
met ingeperkte spoed.
Maar ons is in die vyfde rat
en – behoede ons – gesond.
Die lewe is nogal vreemd lekker so tussen die tweede en derde rat. Dit beteken nie dat ek nie ook bekommerd is oor die ekonomie, politiek en my eie oorlewing nie, maar die reisherinneringe en my briewe aan Koos maak die werklikheid so ’n bietjie draagliker. En o ja, ek lees weer!
Karien Brits
29 April 2020
Randburg
......
1 Die digter verwys hier na die Poolse skrywer Bolesław Prus. lees meer hier: https://en.wikipedia.org/wiki/Boles%C5%82aw_Prus


