Jou grendeltyd: Elke dag ’n Sondag sonder die Bybel …

  • 1

Die wêreld staan op sy kop en afstand het oornag gekrimp. Met Wuhan binne dae in my agterplaas kry die alledaagse nuwe betekenis en klemverskuiwings vind plaas in bykans al die fasette van menswees.  Só eindig fase een se isolasie vir my.

Fase twee dwing my tot stilstand en ek maak vrede dat niks meer dieselfde gaan wees nie. Elke dag voel soos ’n Sondag sonder die Bybel met ’n predikant wat die pad byster raak. 

Dis stil in my buurt en hier is nie mense wat honger of kwaad is nie – in skerp teenstelling met dit wat wesenlik daar buite gebeur. Ek “woon” op twee afsonderlike standplase: die rustigheid van Linden en die kru en ontstellende werklikheid soos die plaaslike en internasionale media dit skets – relase wat die swart hond uit sy hok lok!

’n Paar dae gelede berig die BBC dat Spaanse burgers nou genoodsaak is om “drivethrough”-begrafnisse te hou. Die priester wag die stoet by die kerk se voordeur in, waarna ’n kort diens van vyftien minute in die buitelug plaasvind. Hy blyk ’n besige man te wees aangesien roubeklaers in lang rye vir sy dienste wag!

Suid-Afrika se hantering van die ramptoestand loop ook deur, plaaslik en internasionaal. Die Britse poniekoerant The Sun, berig omvangryk oor ons hardhandige polisiëring en die oproerige skares wat winkels in die Wes-Kaap plunder tydens die nasionale inperking.

Die Saturday Star se berig gooi verder vet op die vuur en laat my weer eens met dankbaarheid na my vol koskas kyk: “We are starving. We are hungry. Lockdown hunger is driving vulnerable people across South Africa to desperation.”

My tweede standplaas word “afgerond” deur die ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Group se kommentaar in sy jongste nuusbrief: “The increased poverty and hardship caused by South Africa’s lockdown will lead to significantly more deaths than just the coronavirus. The total number of South Africans that will die over the next 10 years could be more than 300 000 killed by poverty, plus the number that will die from the virus, despite all efforts to limit or contain the spread.” 

Dis in dié tyd dat ek na my ouma Bekker se kennis en wysheid verlang. Sy’t groot donkertes in haar leeftyd deurmaak en tog altyd daarin geslaag om haar wese met geesdrif te omarm: die Anglo-Boereoorlog, konsentrasiekampgruwels by Volksrust, die 1914-Rebellie, 1918 se Spaanse griep en die verlammende Groot Depressie van die jare dertig, om maar ’n paar te noem. Haar insig, lewenservaring, geloof en kalmte van gemoed sou nou ’n fenomenale bron van ondersteuning kon wees, veral haar persoonlike ervaring tydens die 1918-pandemie. As jong vrou het die Spaanse griep haar platgetrek, maar volgens haar vertellings het “baie genade” en ’n kundige dokter by Vrededorp haar deurgehaal. 

Dan is daar muruti Cele … In my leefruimte se nuwe normaal is dit Steven Cele, die tuinier, wat lig van onbaatsugtige en positiewe ondersteuning om my werf laat skyn. Wanneer Steven nie tuinmaak nie, is hy “muruti” Cele, ’n lekeprediker wat tydens die gedwonge afsondering na sy gemeente se behoeftes omsien op sy beskeie selfoon.

Elke oggend, uitgevat in sy priesterlike gewaad, witboordjie en al, met skoene wat blink, verskaf hy berading sonder om iets terug te verwag. Hy lees voor uit sy Bybel, bid en lig sy skape in oor riglyne vir die grendelgleuf.

Maar dis nie net muruti wat agteroorbuig nie. Vele Suid-Afrikaners reik tydens die krisis ’n helpende hand uit na diegene wat ’n tekort aan lewensmiddele het. Getrou aan ons aard bring die noodsituasie die beste in ons na vore; ons skuif ons verskille opsy en gee om vir mekaar – hopelik hou dit tot die volgende rondte!

Die inperking het baie vrae laat ontstaan, mense kwaad gemaak, verontrief, ontnugter, honger laat ly en die ekonomie tot ’n amperse stilstand gedwing. Moet ons vere regskud vir ’n fase drie en gaan Woolworths se hoendertjies weer “kekkel en kraai”? Niemand weet nie. Wat ons wel weet, is dat die aantal COVID-19-gevalle in Suid-Afrika styg  en dat ons nie voorbereid is op ’n tweede Spanje nie.

Dis met dankbaarheid dat ek elke dag se unieke uitdagings aanpak. Die lewe is kort en met 72 somers agter die blad is elke sonsopkoms vir my ’n  geskenk. Hieraan hou ek vas, want ek kan nie meer my lewensjare verdubbel nie!

  • 1

Kommentaar

  • Dankie, dit was lekker om iets van iemand van eie portuur (ouderdom) te lees. Die vinniger inkeer na die self as die jonger meer voortvarende mense wat elkeen vir oplossings soek. Ouer mense het groter geskiedenis om uit te put vir hierdie tye.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top