Jou grendeltyd: Binne ons huis

  • 0

Middel-April 2020

Soos duisende ander s’n het my rustige slaappatroon soos mis voor die son verdwyn. In my huis worry ek alleen. Ek ruil my dae en nagte om. Dis beter vir ons almal se sanity, ons humeure vlam op vir geringe dinge. 

Ek was wasgoed, maak gedeeltes in sarsies skoon, probeer skryf, meestal sit ek voor ’n leë skerm. My vingers is halsstarrig of dalk is my kop te vol – of te leeg. Ek besluit nog.

Kinders begryp nie die regering se besluite om ons te grendel nie; hul kan net soveel keer Netflix kyk en net soveel keer gesprekke voer voordat hul onttrek.

Doer onder sit my brooskind met ’n beker koffie in haar hand. Sy kan vir ure alleen sit, in ’n wêreld van haar eie. Ek bekommer my oor haar.

My seun weer raap gereeld sy longboard en irriteer al wat leef met die eentonige sing van wielietjies op sement. Ek wens ek kan sy rustigheid ewenaar.

Bure oorkant sit en braai meestal. Deur groet en handwaai, somtyds hoorbare gesprekke met die kinders. COVID-19 kry reg wat ons in hierdie meer as ’n jaar wat ons hier woon, nooit wou regkry nie. Ek noem dit dwangvriendskap (al is dit vanaf ’n afstand). Ek is steeds nie vriende met die bure nie.

Leef en laat leef

Vroegoggend sit ek op die balkon en verkyk my aan die ommeswaai van die see van mosgroen na grys. Koue byt-byt in die lug. Die voëls kwetter onbeheerst, vlieg stuitig in sirkels en vry na mekaar op Telkomdrade.

Vrede vir ons gevlerktes! Of ten minste vir solank as wat die grendelstaat hou.

Net mense wat langs die see bly sal die tweelingreuk van vis en soutlug verstaan. Darem het dit nie verander nie. Die branders ruis asof ons beurtkrag het. Absoluut. 

Huilsessie

’n Ma moet sterk wees.

Dis goed om te huil – nie voor die kinders nie, daarom wag ek tot laataand om deur YouTube se blaaie te skuif. Ek soek iets waarmee ek kan identifiseer.  The impossible-beelde op my skerm voed die nietige en verganklike.

Dis ver na middernag en ek is in snot en trane. Ek het darem ’n verskoning vir my opgewelde oë, sou die kinders onverhoeds verskyn. Hulle sal nie weet dat die film eintlik ’n rookskerm is nie.

Verset

Daar is ’n krapperigheid in die lug. Ons hap en grom oor onnodige goed. Hoe sê ek vir my kinders daar is nie meer méér nie? Sover moontlik het ek beplan. Soveel brood en soveel koffie vir die tydperk. Nou is die groente op en inkomste morsaf afgesny.

Ek improviseer – die kinders eet koek vir aandete. Môre is dit pannekoek en die dag daarna vetkoek. Bose kringloop van taai en vetterige skottelgoed. Ek kon darem koekmeel, gis en eiers vooraf in redelike grootmaat koop.

’n Nuwe bedreiging in my huis: Die kragmeter is soos ’n hartmonitor – as ek my kom kry, staan ek voor die ding. Ek weet ek moet die eenhede tot die helfte probeer sny en gebruik daarvan soos kougom rek.

Tot wanneer, wonder ek.

’n Vriend vra of ek hierdie tyd gebruik om nader aan God te wees. Ek is hom ’n antwoord verskuldig. Deur als loop my gebede keer op keer uit op ’n eensydige gesprek met God. EK wonder hoe groot sy oor moet wees om almal se gebede te kan hoor.

Versugting

Vanaand hang ’n mistigheid oor die see. Ek wag tot almal slaap en sluip soos ’n dief na die einde van ons balkon. Ek oorweeg ’n vinnige stappie na die strand – dis tog net ’n skrale dertig treë (ek het dit lankal in die stilligheid afgemeet), maar loeiende sirenes halt my gedagtes. Ek glo iemand anders het dieselfde idee gehad as ek. Slaap die mense dan nie?

Swartgalligheid

Die swart hond grom in my oor.

My oë soek na die oom met die boepie, derde woonstel skuins oorkant ons. Ek het verwag dat mense in grendelstaat gesig sou wys. Miskien het die oom ’n plaas. Twee verdiepings onder, balkonne leeg en riempiestoele weg.

Die gebrek aan lig en veraf figure maak my wêreld donker. Ek wonder wanneer gaan die dood se spore oor ons stukkie teerpad sleep.

In my kop werk ek uit wie wat moet kry as ek een van dié is wat dit nié maak nie.

Is daar brandoonde in elke dorp of gaan die regering ons lyke in vlak grafte gooi?

Gaan die gruverhaal ’n spookstorie word? Wat gebeur met erfstukke waarvan slegs ek die agtergrond en betekenis op hede verstaan?

Deurentyd bly die familie in kontak met my.

Daar is tye wanneer mense oor die dood móét praat. Tye soos nou. Ek het nog altyd geglo die kinders onthou my laaste wense. Ek vrywaar hulle van vorige verbintenisse buiten een. Elvira Madigan as hulle kán.

Skielik is ek spyt omdat ek nie in die Kaap vriende gemaak het nie. Ek hoor die kinders met hul maats op WhatsApp en Instagram lag. Daar is iémand vir hulle, búiten ek.

Ek mis vriendskap en mý mense.

Bowenal wens ek die wêreld tot genoeg asem vir die dae wat kom.

Ek skryf ’n vers rondom COVID-19.

blame game

ons kyk met afgryse
na naelstringbeelde
op die internet 

nóg ’n winkel geroof
verstaan mense nie
die voedselketting is in gedrang?

keyboard warriors skiet soos
giftige paddastoelle op uit die niet

hoe afgryslik, verduiwelse plunderaars
sluit hul toe, gooi die sleutel weg!
zero skuldgevoel, minder empatie

ons klop onsself op die skouers
óns doen álles reg

maar ons vergéét
vernietiging van die wêreld
het voor COVID-19 by óns begin

ons verwoes die osoonlaag
bietjie-bietjie op ’n slag

 weg met plastieksakke!
 “go green” is limitless

groot firmas launch projekte
en daarmee is die wêreld reg

toetsborde kloon woorde
’n duisend millisekondes per minuut
cmyk en greyscale toor kopskote
van dynserige dorpe tot oases

ons bly vergéét
wanneer die mensdom op sy weerloosste is,
capture fotograwe welwetend ons verdriet

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top