Jong Rus wen ATKV-Spelathon

  • 0

Dasha Levanets (Fotograaf: Des Janse van Rensburg)

Wanneer Dasha Levanets by die huis is, praat sy Russies, maar as sy die ATKV-Spelathonverhoog betree, is dit ’n perd van ’n ander kleur.

Dasha, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom, het gewys sy het ’n slag met tale toe sy die naweek die ATKV-Spelathon 2019 in die afdeling graad 10 tot graad 12 Afrikaans Eerste Addisionele Taal gewen het.

“Dit is eerlikwaar skokkend. Ek het glad nie verwag dat ek so goed sou doen nie. Ek was baie bly,” sê Dasha.

Dasha wat tans besig is om vir haar matriekeindeksamen voor te berei het saam met haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer toe sy ses jaar oud was. Met haar aankoms kon sy slegs Russies en Oekraïens en ’n klein bietjie Engels praat.

“Ek was in ’n Afrikaanse kleuterskool en dit is waar ek geleer het om Afrikaans te praat,” vertel sy skaam.

Oor haar belangstelling in Afrikaans sê Dasha dat dit vir haar baie waardevol was om Afrikaans te leer.

“Daar is so baie mense wat Afrikaans praat. Dit is nie net ’n modus van kommunikasie nie, maar dra ook kultuur en erfenis oor. Dis ’n fassinerende en kultuurryke taal.”

Jolanda Rosin, Dasha se Afrikaansonderwyseres, kan nie uitgepraat raak oor Dasha se talent nie.

“Sy is baie aangelê vir tale. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Dasha is baie begaafd en leergierig.”

Dasha is nog nie seker wat sy ná matriek gaan doen nie, maar stel belang in forensiese rekeningkunde en dataontginning.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top