
Dit het begin met ’n droom.

Bridget Harrison van Pietermaritzburg, wat vir die Associated Board of the Royal Schools of Music (ABRSM) in Suid-Afrika werk, wou dat haar top studente toegelaat moet word om blootstelling te kry en aan ’n breë gehoor te wys wat in hulle steek. Dit is een ding om voor ’n klein aantal beoordelaars jou beste te gee om goeie punte te kry, maar iets gans anders om gehore met jou musiek te bekoor.
Beoordeling is streng en die standaarde is hoog wanneer iemand ABRSM-eksamens aflê. Studente word internasionaal beoordeel om seker te maak dat standaarde in alle lande dieselfde is; die ABRSM werk in meer as 90 lande.
Soos Harrison sê: Dit is nog redelik maklik om goeie punte te kry op die laer vlakke, maar teen die tyd dat iemand ’n assosiaateksamen aflê, moet jy bereid wees om op ’n wêreldvlak deel te neem.
Katleho Mothae, Tiaan Uys en Matthew Perry het onlangs hulle eksamens afgelê en het met lof geslaag. Dit wil gedoen wees, maar waarheen dan?
Die ABRSM bied dikwels self geleenthede vir top studente om hulle slag te wys, maar die pandemie het gemaak dat heelwat studente nie kon deelneem nie. Suid-Afrika is boonop ver van die lande waar daar gereeld, of genoeg, geld in musiek van hierdie gehalte belê word.
Harrison het toe self ’n plan gemaak om haar studente blootstelling te gee. Sy het ’n minitoer vir hulle gereël met twee optredes in Knysna, een in Gqeberha en een in Makhanda.

Ek kon die Gqeberha-konsert bywoon. Dit is gehou in ’n splinternuwe konsertvleuel wat by die Hoërskool Pearson geopen is.

Matthew Perry (21) het eerste gespeel. Hy is tans ’n derdejaarstudent aan die Nelson Mandela Universiteit.

Hy is begelei deur Joshua Paula E Silva.

Katleho Mothae was tweede. Hy is ’n onderwyser in Maseru, Lesotho.

Sy musiekpaadjie was nie altyd maklik nie, want daar was nie opleidingsgeleenthede in Lesotho nie. Hy moes dus in Suid-Afrika, net oorkant die grens, gaan klas loop.

Tiaan Uys het laaste gespeel. Hanlie Young het hom begelei.

Uys speel verskeie instrumente, waaronder die basviool. Hy het egter die gehoor getrakteer op klarinetmusiek uit Frankryk. Een van sy stukke is gekomponeer deur Francis Pulenc vir niemand anders nie as The King of Swing, Benny Goodman. Goodman was gewild en veral bekend vir sy fantastiese jazz, maar as klarinetspeler was hy ewe tuis in die klassieke styl.
Die drie het stukke gekies wat tegnies uitdagend is, en wat die reikwydte van hulle instrumente ten toon stel.
LitNet het vroeër ’n persverklaring geplaas waarin meer oor elke musikant, en die stukke wat hulle gespeel het, vertel is.

Ná al drie hul solovertonings gelewer het, is die gehoor verras toe hulle as ’n trio die verhoog betree. Hulle het saam die Libertago deur Astor Piazzolla uitgevoer.

Ná hulle klaar gespeel het, kon die gehoor vrae aan die musikante stel. Dit was veral die hoërskoolleerders wat hierby gebaat het. Die verskille en ooreenkomste tussen die speel van jazz, klassieke musiek en iets soos die tango het ook ter sprake gekom.
Harrison droom daarvan om hierdie kaliber student meer blootstelling te gee. Enigiemand wat uitmuntende jong kunstenaars die geleentheid wil gee om op te tree, kan ’n boodskap stuur aan Bridging Events: be@bridgingevents.co.za.

