Jonathan Roxmouth is terug in die Kaap – agter die klavier waar hy blom

  • 0

Foto: Jaco Botha

Jonathan Roxmouth is terug by Theatre on the Bay in Kampsbaai met Key change: my favourite pianists en wat ’n lekkerte is die vertoning nie!

Ons aandjie uit begin vroeg reeds, toe die son nog ’n kokende bal vuur in die hemel is en die strande vol jillende kinders en doodtevrede toeriste. Daar is vlugbal in die sand, roomysverkopers met klinkende klokkies en lewensredders in geel en rooi wat seker maak almal is veilig.

Ons stap op die strand voor ons opgaan na die teater se restaurant, Act One.

Die Diemersdal Sauvignon blanc en die effe bitter G&T is koel op die tong en ons kyk hoe die son al nader aan die horison trek. Die groepies teatergangers kom sit die restauranttafels vol en die opgewondenheid oor die konsert is tasbaar.

Die son sak rooi-oranje agter die palmbome en ’n koelte kom genadiglik van die see af ingedryf.

Ná ’n garnaalkerrie en lynvis van die dag, is ons met glase Pongrácz Brut buite toe, om die laaste paar minute voor die vertoning begin met vriende te klets.

Die verhoog is oortrek van reuseklavierklawers teen die agterste muur en bladmusiek wat lyk of een of ander musikant dit in die lug gegooi het vir ’n Instagram-video en dit toe aan elke bladsy oorgelaat het om ’n plekkie teen die muur te vind.

Die indrukwekkende vleuelklavier met sy swaar versierings is die perfekte maat vir Jonathan wat deftig in sy glinster- wit en swart pak agter die klawers begin woel.

Sy orkes – Michael Wilson-Trollip op klawerbord, Cole Matthews op baskitaar, Kieran John Woolmington op kitaar, Lindzi Moore op tjello en Stefan Lawrence op dromme – kom een-een by en voeg hul instrumente by die openingsliedjie. Almal in wit geklee, met swart T-hemde onder oop hemde en wit tekkies met swart veters.

Saam met Jonathan se uitrusting is hulle die perfekte voltooiing van die stel.

Die show fokus op klavier-gebaseerde kunstenaars wat sy musieksmaak gevorm het. Hy praat met ’n sagtheid in sy stem van David Foster, Elton John en Liberace. Die vertoonkuns – saam met musikaliteit – was vir hom ’n besondere onthulling. Hy bring hulde aan energieke piano-rockers, soos Jerry Lee Lewis en Billy Joel. Al hul materiaal is uitdagend, maar hy en die orkes doen dit foutloos.

Foto: Clifford Roberts

Hy speel in die eerste bedryf verskeie liedjies onder komiese name, soos “The overplayed overture”, “A warning”, “Pathetic moonlight #5”, “The vamps” en “The piano pounders”.

In die tweede bedryf keer hy terug met ’n nuwe pak, en sy orkes met swart klere, wit T-hemde en swart tekkies. Vol energie vir titels soos “An underplayed underscore”, “Winter games”, “A Steinman meatloaf”, “Of mice and menken”, “The five stages of love (a tinder box of emotion)” en “Music (was my first love)”.

Die titel Key change impliseer ’n musikale én persoonlike skuif en hy illustreer verskeie skuiwe in sy lewe, van sy eerste klavieruitvoering op laerskool op ’n afgeleefde regop klaviertjie in die skoolsaal, tot waar hy vandag op ’n luukse skip vir Seabourn Luxury Cruises werk.

In sekere dele van die vertoning fokus ’n oorhoofse kamera op sy hande op die klawers. Die spoed, teerheid en oorgawe wat mekaar afwissel, is verbysterend.

Hy is wêreldwyd onder meer bekend vir sy rol as die phantom in The phantom of the opera en Danny in Grease.

Maar in hierdie meer persoonlike, klavier-gedrewe konsert is daar nie ’n vierde muur nie. Hy praat direk met die gehoor en sy pittighede het geen einde nie. Soms lag hy selfs vir die reaksies wat hy uit die gehoor ontlok óf vir sy eie sêgoed.

Die gehoor vang sommige van sy pittighede nie, maar hy laat hom nie van stryk bring nie. Buitendien, sy vernuf agter die klawers is die rede hoekom die meeste mense weer en weer kom luister. Die gehoor eet uit sy hand en soos hy tereg noem: Toe ons instap, was ons vreemdelinge, maar na twee uur saam met ons gunstelingmusiek, is ons nou kennisse.

Dis lekker om hom terug te hê in die Kaap.

En hoe lekker om veilige parkering reg voor die teater te kry; rustig na die sonsondergang te kyk met jou drankie in die hand; en dan te smul aan ongejaagde kos met die opwinding van teater in jou tone.

Key change: my favourite pianists
Met: Jonathan Roxmouth (klavier en sang)
Orkes: Michael Wilson-Trollip op klawerbord, Cole Matthews op baskitaar, Kieran John Woolmington op kitaar, Lindzi Moore op tjello en Stefan Lawrence op dromme
Tydsduur: ongeveer 2 uur, insluitend pouse
Tot 28 Maart by Theatre on the Bay in Kampsbaai. Dan 15 April tot 10 Mei in Johannesburg by Pieter Toerien se Montecasino Main Theatre.
Kaartjies vir die vertoning en Act One-restaurant kan via reception@theatreonthebay.co.za of (021) 438 3301 vir die Kaapstad-vertoning en via (011) 511 1988 vir Johannesburg gemaak word. Meer inligting by www.pietertoerien.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top