Jonathan Peyper wil die blues "modern maak ... sodat mense weer iets kan begin voel"

  • 0

Die jong kitaarvirtuoso Jonathan Peyper, al die pad van Nelspruit, het die plaaslike musiektoneel aan die gons met nie net sy vaardighede nie, maar ook sy oorspronklike liedere. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Jonathan. Hoe's dinge?

Hi Henry. Baie goed, dankie!

Jou debuutalbum (self-titled) is verlede jaar vrygestel – geluk daarmee – dis ’n bedonnerde klank en die magdom mense wat rave oor jou talent, lieg beslis nie. Hoe het die samestelling en uitreik van die album verloop (het jy spesifiek snitte vir ’n debuutalbum geskryf, of bloot die bestes in jou repertoire gekies?) en hoe voel jy nou terugkykend daarna? Is daar enigiets wat jy met ’n opvolg-album anders sou doen?

Baie dankie vir die kompliment. Die album het my twee jaar gevat om te skryf en dit gaan oor my ervaring in daai twee jaar wat verhoudings en die samelewing aanbetref. Ek’t oor dié tydperk idees en “snippets” van songs neergesit en toe begin 2014 aan die preproduksie begin werk. Die songs het basies hulself geskryf– byvoorbeeld, ek sou sit en rondspeel tot ek iets gespeel het wat my ’n sekere emosie laat ervaar, en dan sou ek dit net meer ontleed in melodie en lirieke. Die album is my absolute “baby” en ek is baie trots op wat ek en die manne bereik het en ook verbaas oor die manier waarop dit mense se lewens raak. Die volgende album is al klaar op die preproduksielyn en dit gaan ’n baie meer oop album wees. Wat ek daarmee bedoel, is dat dit nie so persoonlik gaan wees soos die eerste een nie, maar dit gaan meer gemik wees op die algemene lewe, dit gaan meer kommersieel wees en die styl is effens anders; meer modern en pop, maar saam met die rock en blues gemeng.

Volgens ’n mediaverklaring wat oor die album uitgereik is, het julle al die snitte regstreeks opgeneem – met ander woorde, nie met ’n click-track en instrument-vir-instrument nie. Dis moerse interessant en cool. Waarom het julle besluit om dit so te doen, en watter impak het dit uiteindelik op die album gehad? Sou dit anders klink met ’n meer tradisionele benadering? Sou jy ander musikante aanraai om dieselfde benadering te volg?

Baie min kunstenaars doen dit deesdae en ons wou dit so doen om die “meer menslike” faktor te beklemtoon in die musiek. Blues oor die algemeen gaan oor gevoelens, dramatiese hartsake en om die musiek te vóél. As gevolg daarvan gee dit ’n meer tradisionele benadering en dit skei nogals ’n meer lewendige ervaring af vir luisteraars; dis ’n meer outentieke klank. Om sonder click-track te werk, werk baie goed vir die blues agv sy emosionele eienskappe, maar ek sou aanbeveel dat ander musikante eksperimenteer met albei verstellings om te kyk wat die beste vir hulle werk. Om so te kan opneem behels ook dat die band goed ingeoefen is en die songs goed ken.

Jy het meestal naam gemaak as ’n bliksems goeie guitarist, maar die album getuig ook daarvan dat jy in staat is tot die skryf van magtige liedjies. Hoe werk die liedjieskryfproses in die algemeen vir jou, veral binne ’n genre soos die blues wat wyd as "heilig" beskou word? Wat kom eerste, die woorde of die tune, en wat weeg vir jou swaarder? Hoe weet jy wanneer ’n lied "reg" is?

Vir my is dit moeilik om ’n toegewyde skedule op te stel waarin ek oefen en skryf. Ek’t partykeer net ’n hele week of twee wat ek die urge kry om te wil skryf en my proses is gewoonlik waar ek begin rondspeel met verskillende klanke op die kitaar. Ek sal gewoonlik iets raakspeel wat vir my klink na ’n cool riff of melodie en ek sal dit verder ontleed, neerlê in Logic en sal bass en dromme bysit. Wat vir my 80% van die tyd werk of natuurlik kom, is die song/musiek eerste. Ek sal vir dae lank daarna luister totdat lirieke hul plek begin vat wat gebaseer is op watter emosie daai klank ook al bring. Die ander 20% van die tyd is wanneer ek lirieke en musiek gelyk skryf en gewoonlik is daai songs geneig om die sterkstes te wees. Ek weet wanneer ’n lied reg is wanneer ek dadelik ’n emosie ervaar en ’n fisiese beeld sien daarvan wat in my brein afspeel.

Gepraat van die kitaarvaardighede ... Met alle respek gesê, jou tuisdorp, Nelspruit, is nie in die algemeen bekend vir die oplewering van wêreldgehalte-musikante nie. Hoe het jy die vaardighede in Nelspruit geslyp? Hoe vind jy nou die aanpassing in Pretoria en die breër Gauteng-area? Sal musiek jou loopbaan bly, in so verre jy in beheer is van die lot?

Ek het myself geleer speel die eerste ses jaar voor ek in Pretoria gaan swot het, want ons het nie regtig geweet van kitaardosente in Nelspruit nie. Omdat kitaar so ’n groot liefde was vir my, het ek baie ure ingesit en saam met baie CD’s gespeel. Ek’t op ’n vroeë ouderdom saam met ouer mense begin speel in bands wat meer ervare was, wat ek glo ’n groot bydrae gelewer het tot my vordering, en dit was nie lank gewees voor ek bekend was as een van Nelspruit se top guitarists nie. Ek moes aanbeweeg as ek musiek my loopbaan wou maak en myself blootstel aan ’n hoër standaard en dus het ek Pretoria toe getrek en musiek gaan swot. Musiek sal beslis my passie en loopbaan bly vir solank soos ek asem kan haal.

Jy en jou band staan bekend as die Jonathan Peyper-trio. Is dit voltyds en permanent hoe jy en die band voorts gaan optree, of is daar nog solo-gigs ook aan die gang? Wat bied vir jou meer genot en ook meer kreatiewe uitlaatkrag – die alleenspeel of saam met die band? Albei moontlikhede het seker positiewe en negatiewe elemente? Chris en Jason is natuurlik ook gerekende musikante – wat voeg hulle by wat andersins nie deel van jou sound sou wees nie?

Die Jonathan Peyper-band is ’n voltydse professie, maar ek speel ook saam met ander bands vir die ekstra inkomste, maar ook nie so baie nie. Om akoesties op te tree is redelik uitdagend, omrede ek nie die backing het vir solo’s nie en van die phrasings in songs kom nie deur nie. Die gevolg is dat die song heeltemal anders klink as wat hy geskryf is en dit maak my soms baie ongemaklik en word dan vir my baie moeiliker om myself volledig te kan uitleef in die musiek. Die voordeel van akoestiese optredes is wel dat dit meer intiem en persoonlik is en mens kan die gehoor beter leer ken. Saam met die band is dit natuurlik die teenoorgestelde en dit gee ons die geleentheid om ’n beter, meer “punchy” show op te sit. Ek kan hierdeur myself beter uitleef, alhoewel die nadele van so ’n show is dit kan soms te hard voorkom of baie “rocky” wees, sou ons by ’n meer rustige venue speel. Chris en Jason voeg ’n baie besonderse gevoel of “touch” by in die band wat baie solied en prominent is en dit gee my die geleentheid soms om daai surprise faktor in te bring en om goed te speel of klanke te maak wat nog nie voorheen gemaak is of geoefen is nie.

Volgens die persverklaring vir die album plaas jy ’n groot premie daarop dat jou lirieke sentreer rondom pyn, verlatenheid, hartseer en ook groei. Dink jy dít dra by tot die sukses wat jy tot dusver beleef? Is daar in die algemeen in Suid-Afrika (en wêreldwyd) ’n gebrek aan diepsnydende, eerlike liriekwerk, of hoe sien jy die saak? Hoe sal jy nog jouself wil versterk in terme van liriekskryf?

Soos ek vroeër genoem het, het my ervaringe in daai twee jaar en ook die afgelope vyf jaar my sterker en meer bewus gemaak van my sterk en swak punte en my die geleentheid gegee om myself te verbeter en sodoende ook na nuwe vlakke te dryf. Ek dink daar is ’n definitiewe gebrek aan die samelewing se vlak van emosionele intelligensie en mense het die lus of wil verloor om na diep musiek te luister; nie noodwendig hartseer stories nie, maar ook goed wat opbouend is. Daarom sien ek ook ’n besigheidsgeleentheid om blues cool en modern te maak sodat mense weer “iets kan begin voel”. Die lirieke op die volgende album sal baie meer oop vir interpretasie wees en kommersieel of pop wees. Ek versterk my liriekskryf deur baie te lees en meer te luister en op te let na wat mense te sê het, waar ek in die verlede nog baie eiesinnig was.

Jy is nog betreklik jonk in die musiekbedryf, maar het al ’n klomp gigs en ’n paar toere agter die blad. Wat staan in hierdie stadium uit as hoogtepunte, as jy terugkyk? Enige vreemde gebeure of plekke wat jy onthou, of backstage-gebeure wat sal maak dat jy nie sommer na ’n spesifieke plek terugkeer nie?

Die feit dat my album op die kortlys verskyn het by Blues Rock Review vir top 20 Blues Rock Album of the Year, is vir my moerse vervullend. In terme van gigs en toer is my highlight toe ek saam met Dan Patlansky gespeel het op die ouderdom van 17 en laastens toe ek vir Jan Blohm gespeel het in 2013. Ek het baie goed geleer toe ek saam Jan Blohm gespeel het en dit is waar ek die meeste van my “toerervaring” opgedoen het.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Jonathan Peyper, so ver jy dit kan beheer?

Ek wil nog oorsee gaan toer en vir Joe Bonamassa open en saam met hom toer. Ek beplan om sowat vyf jaar van nou af VSA toe te trek en my musiek verder te vat. Vir nou is dit hard werk, hard gig, hard jol en baie toer.

Wat is die sin van die lewe?

Dis een van my eie quotes en dit inspireer my elke dag om beter en verder te gaan, ongeag die teleurstellings: “An intelligent man is a man who can be successful whilst living amongst doltish people.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top