
"The last moments of Calvin" (Barcelona: Montaner y Simón, 1880–1883) [Bron: Fondo Antiguo de la Biblioteca de la Universidad de Sevilla from Sevilla, España - "Últimos momentos de Calvino", CC BY 2.0, Wikimedia Commons]
Calvyn sterf
In die herfs van 1559 het Calvyn ’n koors opgedoen (die simptoom van ’n onderliggende siekte). Hy het herstel, maar sy stem het met sy prediking begin ingee, en hy het selfs bloed los gehoes. Hierna het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan. Op 6 Februarie 1864 sou Calvyn sy laaste preek lewer in die Sint Pierre Katedraal in Genève. Op 25 April van daardie jaar het hy sy testament opgestel waarin hy bedrae bemaak het aan sy collége en familielede. ’n Paar dae later het al die “pastore” (predikante) hom besoek om vaarwel te kom sê: dit is opgeneem in die sogenaamde Discours d’dieu aux minintres in Calvyn se corpus geskrifte. Calvyn sterf op 27 Mei 1564 op die (eerder jonge) ouderdom van 64. Sy liggaam het vir ’n kort tydjie in staatsie gelê sodat almal hom vir oulaas kon sien. Omdat die hervormers egter so teen die kultus van “heiliges” was, is hy die volgende dag te ruste gelê in die Cimetière des Rois in Genève. En die presiese ligging daarvan is ongemerk gelaat. Eers in die 19de eeu is ’n grafsteen aangebring digby die plekkie waar hy volgens tradisie begrawe was.
Kortbegrip van Calvyn se Institusie in oënskou geneem
Johannes Calvyn het sy teologiese gesigspunte uiteindelik sorgvuldig uiteengesit in sy Bybelkommentare, preke en diverse monografiese behandelinge van onderwerpe. Uiteindelik vind ons dit volledig opgesom in sy Institutio Christianae Relgionis, wat nege uitgawes beleef het. Dit was inderdaad sy opus magnum wat hy nagelaat het. Hy het sy Institusie beskou as ’n handleiding wat saam met sy talle kommentare gebruik moet word. Calvyn se Institusie span uiteindelik oor sy hele loopbaan as hervormer. Dit is herhaaldelik hersien oor ’n tydperk van 29 jaar, en die laaste uitgawe is in 1569, vyf jaar na sy dood, in Genève gepubliseer. Merkwaardig is dat hierdie werk van Calvyn, wat sy hele loopbaan omspan, weinig in teologiese sieninge reg van die begin van sy loopbaan af gewysig is. Die eerste uitgawe daarvan in 1536 het net vier hoofstukke gehad. Die tweede uitgawe, drie jaar later, het drie keer so lank geword, omdat Calvyn nou ook hoofstukke oor onderwerpe ingevoeg het wat in Melanchthon se Loci Commenunes van 1521 verskyn het. In 1543 het Calvyn weer nuwe materiaal bygevoeg, oa ’n meer uitgebreide hoofstuk oor die Apostoliese Geloofsbelydenis. Die laaste uitgawe van die Institusie (1559) het vier boekdele van agt hoofstukke beslaan, en elke boek is in sy opskrif vernoem na die hoofstelling wat daarin behandel word: Boek I handel oor God as die Skepper [skepping]; boek II oor Jesus Christus as die Verlosser [herskepping]; boek III handel weer oor die genade wat deur die Heilige Gees in Christus ontvang word; en boek IV handel uiteindelik oor die kerklike gemeenskap in Christus (en Christoû Jêsoû: vgl Adolf Deissmann se doktorale tesis op Marburg in 1896).
Die heel eerste stelling in boek I kondig onmiddellik die hooftema daarvan aan, naamlik dat die som van die menslike wysheid en insig uit twee hoofdele bestaan: kennis van God en kennis van homself (vgl die oud-Griekse Delfiese (Sokratiese) uitspraak van gnôthi seautón – “ken jouself” (in jou moontlikhede en beperkinge). Calvyn argumenteer dat kennis van God nie ingebore in die mens is nie, en dat die mens dit ook nie kan bekom (slegs) deur die wêreld om hom heen waar te neem en te ontleed nie. Die enigste weg waardeur ons kennis van God kan bekom, is deur sy geopenbaarde Woord te bestudeer. Calvyn het gesê dat vir iemand om God te bereik, hy die Heilige Skrif as kompas moet gebruik (vgl Charlie Moule van Cambridge: “God is the Pilot with the Compass, I am only the Passenger”). Calvyn het nie probeer om die gesag van Die Heilige Skrif te bewys nie (soos byvoorbeeld deur gebruik te maak van II Timotheüs 3:!6 se pâsa graphê theópneustos, “die ganse Skrif is deur God ingegee” – wat vir net daardie boek sou geld). Calvyn beskou die hele (kanonieke) Skrif as autopístos (“geloofwaardig in sigself”). Hy verdedig ook die Drie-eenheidsleer onverbiddelik (ondanks die feit dat die Griekse woord triás en Latynse vertaling trinitas nie in ’n enkele NT-teks voorkom nie. Die aanbidding van beelde beskou hy ook as blote afgodery of ’n heidense model. Aan die einde van die eerste boek gee Calvyn sy siening van die Voorsienigheid: Deur sy (groot) genade onderhou en bewaar God deur sy mag die wêreld wat Hy geskep het, en deur sy Voorsienigheid heers hy oor die individuele dele daarvan. Die mens is nie in staat om ten volle te begryp waar God elke afsonderlike ding laat gebeur nie, maar watter goeie of slegte dinge die mens ook al mag pleeg, loop die uitvoering daarvan altyd uit volgens God se wil en besluite.
Boek II sluit verskeie essays in oor die kwessie van die erfsonde en die Val van die mens in die Paradys, wat direk teruggaan na Augustinus van Hippo in Noord-Afrika wat oorspronklik hierdie leerstelling uitgewerk en geformuleer het. Calvyn haal die standpunte van die ou kerkvaders (in Latyn en Grieks) dikwels aan om hom en die Hervorming te verdedig teen dié wat beweer dat die Hervormers ’n ganse nuwe teologie gaan skep het. Die oorheersing van sonde is volkome tot op die punt dat alle mense gedryf word om boosheid te pleeg. Daarom het die gevalle mens die Verlossing nodig wat daar in Christus Jesus te vind is. Maar voordat Calvyn hierdie gesigspunt verduidelik, beskryf hy eers die spesiale posisie van die Jode in die ou Israel wat in die tyd van die Ou Testament geleef het. God het met Abraham (die "vader van al die gelowiges" volgens Islam) ’n Verbond gesluit en die koms van Christus, die Gesalfde, beloof. Daarom staan die God van die Ou Testament nie in teenstelling tot die Christus van die Nuwe Testament nie. Beide Testamente staan onder die Belofte van God wat gestand gedoen is. Calvyn bespreek dan die NT-passasie in die Apostoliese Geloofsbelydenis waarin die lyding van Christus plaasgevind het onder Pontius Pilatus en dat Christus sal terugkeer (die tweede parousía) om die lewendes en die dooies te beoordeel. Vir Calvyn het die hele gang van Christus se gehoorsaamheid aan God die Vader die onmin en tweedrag tussen God die Skepper en die geskape mens uit die weg geruim.
Boek III beskryf hoe spirituele en geestelike eenheid tussen die sondige mens en die heilige God bekom kan word. Calvyn definieer eers geloof (pístis, dit is blinde geloof) as ’n vaste en sekere vertroue (ironies te vergelyk met Martin Buber se sjĕmoena) van God in Christus Jesus. Die onmiddellike gevolg van geloof is berou en die aflegging van sonde. Dit word dan gevolg deur ’n geestelike herskepping wat die gelowige laat terugkeer na sy oorspronklike staat van heiligheid voor die oortreding van Adam. Volkome heiligmaking is egter nie in hierdie (aardse) lewe moontlik nie, en die gelowige moet ’n voortdurende stryd teen die sonde stry. Verskeie hoofstukke word dan hierna gewy aan die onderwerp van regverdiging deur die geloof alleen (vgl Romeine 1:17, ek pistíôs eis pístin, kathôs gégraptai, Ho dè díkaios ek písteôs dzêsetai, soos deur Martin Luther ontdek). Hy definieer regverdigmaking as ’n “aanvaarding waarby God die sondige mens as regverdig aanvaar deur die genade wat Jesus Christus na die aarde gebring het”. In Calvyn se definisie van regverdiging is dit duidelik dat dit God is wat dit begin én uitvoer, en dat dit nie deur die sondige mens self is dat dit kan kom nie (vgl Karl Barth: dit is God wat die mens soek en ontdek, en nie andersom nie). God is volkome soewerein in sy redding. Die mens kan dit nooit deur sy werke (goeie dade) verdien nie (vgl weer Martin Luther). Aan die einde van hierdie boek beskryf en verdedig Calvyn sy leer van die uitverkiesing (praedestinatio) – wat dan immers logies is! Hierdie leerstelling is gevestig deur Augustinus van Hippo in teenstelling met die oordeel van die Ierse monnik Pelagius in die 4de eeu. Teoloë wat hierdie standpunt met Calvyn gedeel het, sluit in Thomas Aquinas en Martin Luther, hoewel Calvyn se siening hierna verder gaan as die oordeel van Godgeleerdes voor hom. Die begin wat lê in Calvyn se woorde, is: alle mense is nie op gelyke terme gebore nie; sommiges is deur God uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (hê katabolê tês gês), gepreordineer om die ewige lewe te beërwe, terwyl ander vir ewig verdoem is. Elkeen is dus geskape vir een van die twee uiteindes. Die uitverkorene is daar vir die ewige lewe, die verdoemde vir ewige dood en duisternis.
Boek IV, die laaste een, beskryf wat hy meen die ware kerk, sy bediening, sy gesag en sy sakramente behels. Calvyn ontken die primaatskaplike voorrang van die pous van Rome, asook die aanklag dat die Hervormers ’n klomp skeurders is. Vir Calvyn was die Kerk van Christus ’n liggaam van gelowiges wat Jesus Christus as hulle Hoof aanvaar het. Hy definieer die kerk dan ook as een (katholikês: “katoliek”, dws “algemeen”) en universeel. Daarom argumenteer Calvyn dan ook dat die Hervormers die sogenaamde (Rooms-) “Katolieke” Kerk moet verlaat om werklik universeel “katoliek” te wees. Die pastore van die kerk se ampte en pligte beskryf Calvyn uit ’n passasie in Paulus se Efesiërbrief (4:11) waar die kerkleiers apostels, profete, evangeliste, herders en leraars genoem word. Calvyn het die eerste drie ampte as tydelik en uitgedien gesien. Die laaste twee, dws die pastore/predikers/predikante en die “doktore” (leraars), is kerklike ampte wat hy in Genève gaan vestig het. Hoewel Calvyn die werk en inisiatiewe van Ekumeniese Rade gerespekteer het, het hy dit ondergeskik gestel aan die gesag van Gods Woord in die Heilige Skrif. Calvyn het tog geglo dat kerk en staat van mekaar geskei moet word en nie met mekaar se sake moet inmeng nie. (In beginsel ja, maar in die praktyk het dit toe nie so in Genève uitgewerk nie!)
Calvyn het die sakrament (< sacramentum, wat oorspronklik die eed van getrouheid van ’n soldaat aan sy leërafdeling aangedui het) beskryf as ’n aardse teken wat geassosieer word met ’n belofte van/aan God. Hy het net twee van die sewe Rooms-Katolieke sakramente aanvaar, naamlik die doop en die nagmaal (eucharistie: dankbaarheid). Die Rooms-Katolieke Kerk het verder nog die sakramente gehad van die aanneming van jong kerklidmate, die voorstelling van kerkbeamptes, boetedoening, die bevestiging van huwelike, en die bediening van die laaste oliesel aan ’n sterwende. Calvyn het die transsubstansiasieleer, oftewel die werklike verandering van die brood en die wyn by die nagmaal of Mis in die vlees en bloed van Jesus Christus, verwerp. Die Laaste Avondmaal was nie vir hom die offer van Jesus Christus aan die kruis nie. Hier het Calvyn ook van Luther verskil wat gemeen het dat Christus tog aanwesig was in die tekens van die brood en die wyn. Sy eie uitgangspunt was nader aan dié van Zwingli, naamlik dat ons dit bloot simbolies moet sien en nie identies nie. (Elke keer as iemand vaste kos met drank inneem, moet dit hom herinner aan die kruisoffer van Jesus – sekerlik nie net met die spesiale geleentheid waarvan Paulus in I Korinthiërs 11:23 vervolgens praat nie.) Maar Calvyn het ook volgehou dat met die bediening van die nagmaal die menslike gees versterk word in sy deelgenootskap met die Heilige Gees. In Calvyn se eie woorde was die eucharistie ’n geheim wat te subliem is vir die menslike verstand om te verstaan en in woorde te verantwoord. “Ek ervaar dit, eerder as wat ek dit (werklik) verstaan.” RA Gerrisch (“The place of Calvin in Christian Theology” in The Cambridge Companion to John Calvin, CUP 2004) wys daarop dat Calvyn altyd sy eerste verdediging losgelaat het in die voorwoord van elke uitgawe van sy Institusie. Hy het volgehou dat die patristiese oorleweringe die saak van die Hervorming versterk teenoor diegene wat valslik wil volhou dat die hervormers daarvan afwyk.
Ten slotte
Na die dood van Calvyn en sy opvolger Theodore de Beza het die Stadsraad van Genève beheer verkry oor al die terreine van die lewe daar wat voorheen basies onder kerklike bestuur gestaan het. Sekularisasie het dan ook spoedig in Genève begin intree. Selfs die Geneefse Académie het sy eertydse sentrale rol verloor. Die Calvinisme (’n term wat die skepping van Joachim Westphal was) het intussen ver buite die grense van Genève gaan uitbrei. Leiden in Nederland en Heidelberg in Duitsland het as “Calvinistiese” universiteitsetels oorgeneem. In 1563 sou die Heidelbergse Kategismus dan ook daar geformuleer word. Calvyn het gedurende die hoogtepunt van sy lewe oor die gang van sake in Genève gewaarsku dat hy nie “verafgod” mag word nie. Genève was nie die Nuwe Jerusalem nie. Die Calvinisme het Martin Luther se Lutherse belyding in Duitsland as deel van die ware kerk beskou én aanvaar. Calviniste het ernstige sendingwerk in Frankryk gedoen, en Calvyn se leerstellinge is ook reeds vroeg as leidend in Nederland aanvaar – van waar dit ’n eeu later deur Jan van Riebeeck ook na die suidpunt van Afrika oorgedra is, sowel as na Noord-Amerika (die huidige VSA). Calvinisme is ook oorgedra na Engeland (waar manne soos Martin Bucer, Peter Martyr en Jan Laski ’n leidende rol gaan speel het). So ook in Skotland, waar John Knox die voorpunt in Edinburgh ingeneem het. Twee derdes van Hongarye het ook, ná Jan Hus, Martin Luther en Calvyn, hervormend geraak. Calvyn het nie lank genoeg gelewe om te sien hoe sy insigte internasionale erkenning gekry het, en selfs ’n beweging van sy eie geword het nie.
Bibliografie by Calvyn
Calvyn se standaard Corpus Reformatorum (Joannis Calvini opera quae supersunt omnia), versorg deur G Baum, E Cunitz, E Reuss, ea, Brunswick en Berlyn, 1863–1990, beslaan 59 volumes.
Daar is natuurlik tallose biografieë oor Johannes Calvyn se lewe opgestel en monografieë oor sy werk geskryf. ’n Hele paar is reeds in die bostaande teks aangehaal. Afgesien van sy groot Geneefse vriend Theodor de Bèze (Beza) se Discours ... contenant l’histoire de la vie et mort de Me Jean Calvin, kan die volgende genoteer word:
Emile Doumergue, Jean Calvin, les hommes et les choses de son temps (in 7 dele, Lausanne, 1899–1927, totaal omvattend); Franz Wilhelm Kampschulte, Johannes Calvyn, seine Kirche und sein Staat in Genf (in 2 vols, 1869–1899); A Lang, Johannes Calvyn, ein Lebensbild (1909); Idem, Bekehrung Johannes Calvyn’s (1897); H Haussherr, Der Staat in Calvyn’s Gedanken (1923); FL Rutgers, Calviijn’s invloed op de Reformatie in de Nederlanden (1899); K Holl, Johannes Calvyn (1909, in Ges. Aufs., III); MC Slotemaker de Bruïne, Calvijn (1934); SP Dee, Het geloofsbegrip van Calvijn (1918); E Emmen, De Christologie van Calvijn (1935); A de Cuervain, Calvyn, sein Lehre und Kämpfen (1926); H Kuiper, Calvin on Common Grace (1928); Karl Barth, Calvyn (1936); J Bohatee, Calvyn’s Lehre von Staat und Kirche (1937); O Pfister, Das Christentum und Angst (Zürich, 1945 – heel krities); D Nauta, Calvijn (1955); Idem, Zicht op Calvijn (1965); WF Dankbaar, De sankramentsleer van Calvijn (1941); Idem, Calvijn (1957); J Koopmans, Het oudkerklike dogma in de Reformatie, bepaald by Calvijn (1938); W Niesel, Die Theologie Calvijns (2de druk, 1957); Idem, Calvijn-Bibliographie, 1901–1959 (1961); W Nijenhuis, Calvinus oecumenicus (1958); J Cardier, Calvin (1959); K Reuter, Das Grundverständnis der Theologie Calvins (1963); A Ganvezy, Calvin théologien de l’église et du ministère (1964); Idem, Le jeuit ne Calvin (1966); J Baur, Gott und Recht im Werke Calvins (1965); Francois Wendel, Calvin, Sources et évolution de sa pensée religieuse (1950); John T McNeill, The history and character of Calvinism (1954); E William Monter, Calvin’s Geneva (1967); Robert M Kingdon, Geneva and the coming of the Wars of Religion in France, 1555–1563 (1956); Alfred Erichson, Bibliographia Calviniana (1900, herdruk 1960); Pierre Fraenkel, et alli, “Petit supplément aux bibliographies calviennes, 1901–1963” (in Bibliothèque d’Hamanisme et Renaissance, 33, ble 385–413, 1971); Ford Lewis Battles & André Malan Hugo, Calvin’s Commentary on Seneca’s De Clementia (1969); Philip E Hughes, The Register of the Company of Pastors of Geneva in the Time of Calvin (1966); Robert M Kingdon & Jean-Francois Bergier, Registres de la Compagnie des Pasteurs de Genève au temps de Calvin (in 2 vols, 1962–1964).




