Nie die laaste noot nie: ’n onderhoud met Johan Stemmet

  • 0

Johan Stemmet

“Moenie weggaan nie, ons is nou weer terug!”

Só is miljoene Suid-Afrikaners byna drie dekades elke week verseker deur Johan Stemmet, aanbieder van die gewilde musiekvasvraprogram Noot vir noot. Maar dié keer kom hy nie terug nie. Na byna drie dekades maak Johan Stemmet sy laaste buiging as aanbieder van Noot vir noot.

"Noot vir noot was ’n hoogtepunt in my lewe; om afskeid te neem is hartseer," vertel hy ’n dag nadat hy vir die laaste keer op die kassie as Noot vir noot-aanbieder verskyn het. Die liefdadigheidsprogram het 24 Januarie plaasgevind, en Johan het die fluitjie geblaas.

Maar nou is dit tyd om te groet; nuwe geleenthede wink op die horison.

"Die ou gesegde lui: ‘Waar een deur toemaak maak ’n ander een oop.’ Dit was vir my lekker dat ek dié deur self kon toemaak en nie ’n punt bereik het waar ek byna genoodsaak was om dit toe te maak nie. Dit was vir my lekker om op ’n 'hoë noot' te groet," grap hy.

"Toe AB de Villiers uitgetree het uit internasionale krieket, was sy rede die volgende: 'I want to quit international cricket while I am still playing decent cricket.' Dis nou tyd vir nuwe bloed op Noot vir noot.

“Daar moet altyd evolusie in enige televisieprogram wees. ’n Mens kan nie net ’n program los as dit werk en redeneer 'Ag dit werk nou, so ons los dit’ nie, meen Johan.

"Die Engelse sê mos: 'If it ain't broke don't fix it', maar in hierdie geval moet jy hééltyd seker maak daar is evolusie en vernuwing in jou program. Ek het gevoel dis tyd vir nuwe bloed. Dis vir my baie lekker om nou uit te tree, terwyl die program op so ’n hoogtepunt is."

Hy vertel Noot vir noot is tans nommer 13 op die top-20-lys van programme op die SABC.

"Dit doen nog ongelooflik goed!"

Dit is egter ligjare verwyderd van Noot vir noot se nederige begin doerie tyd. So hittete of Noot vir noot het nooit eers realiseer nie.

"Die SAUK het in 1990 ’n werkswinkel gehad waar hulle buitevervaardigers genooi het om idees voor te lê vir nuwe speletjiesprogramme. Ek, Johan van Rensburg en Elsa Colling het al drie by die SAUK gewerk tot 1989, waarna ons daar weg is om ons eie maatskappy, Stemmburg, te stig.

"Ons het toe met die idee van ‘’n noot vir ’n noot’ vorendag gekom: ’n musieknoot vir ’n kontantnoot. Aanvanklik is dit afgekeur, maar die SAUK het uiteindelik die idee by ons gekoop, ons het begin vervaardig, en van daar het Noot vir noot nog net gegroei."

Op die vraag of hy nog die heel eerste episode van Noot vir noot kan onthou, aarsel hy nie ’n oomblik om te antwoord nie.

"Baie goed. Elke sekonde daarvan.

"Ons het die eerste episode as ’n loodsprogram opgeneem om vir die SAUK te wys wat ons in gedagte het met die program," verduidelik hy.

"Ons het ’n ou bioskoopteater gehuur en omskep in ’n televisie-ateljee sodat ons die episode kan opneem. Ons het sommer op die verhoog van die teater opgeneem. En was dit nou vir jou basies gewees!" lag hy soos hy terugdink aan daardie oomblik.

"Ek onthou ons het ’n basiese stel aanmekaargesit. Die ligte wat ons op die stel gehad het, het ons sommer met spuitverf gespuit sodat dit verskillende kleure kon wees. Ons het basies maar alles self gedoen in daai tyd."

Daardie tyd was daar ook nie die tegnologie van vandag nie. Aan die begin is al die speletjies en vrae op die bord met truprojektors vertoon.

"Sjoe, en ons was skaam gewees oor daai eerste program – ons het gedink dit was nie heeltemal wat ons in gedagte gehad het nie. Toe die SAUK egter die formaat aanvaar, het ons gegaan en die ding oorgeskiet sodat dit meer lyk soos dit wat ons in gedagte gehad het."

Deesdae is daar ’n waglys om deel van Noot vir noot se gehoor te wees, maar in daardie begindae was dit nog nie die geval nie.

"Ons kon nie die gehoor vol kry nie, want niemand het geweet wat hierdie program is nie. Ons het toe studente van die destydse Goudstad Onderwyskollege omgekoop met sop, wyn en broodjies. Ons het ’n bus gestuur om hulle te gaan oplaai by die koshuise en hulle as gehoor gebruik," lag hy.

"Ons het gedink, goed, as hulle nou kom, gaan hulle die wyn en sop drink, die brood eet en dan gaan hulle wil loop. Tog het hulle gebly en die program gekyk. Dit is dáái oomblik wat ek besef het dat Noot vir noot dalk kan werk. Ons het partykeer sommer drie programme ’n dag opgeneem, en hulle het gebly. Hulle het dit geniet. Toe besef ek daar vat die ding nou."

Oor die jare heen was daar baie deelnemers aan Noot vir noot wat vir hom uitgestaan het, “soos die 'Daantjies’,” vertel hy en verwys na Daantjie Badenhorst, wat geskiedenis op die program gemaak het deur in die eerste ronde die telbord se maksimum te oorskry.

"As jy egter vir my vra watter deelnemer die meeste uitstaan, sal ek sê Ferdi Venter.

"Ons het op ’n stadium, byna so 20 jaar gelede, gekyk of ons die speletjies so kan verander dat blinde mense dit ook kan speel. Dit is natuurlik televisie; jy verwag dit word gemaak vir sienende mense, maar ons het baie blinde mense gehad wat altyd laat weet het dat hulle die program geniet. Toe besluit ons om die speletjies aan te pas in so ’n mate dat ’n blinde persoon dit ook sou kon speel.

"Ferdi was die eerste blinde deelnemer wat ons gehad het en hy het kompeteer teen sienende deelnemers. en boonop sy program gewen. Hy het deurgedring na die semifinaal en dit ook gewen. Hy was uiteindelik in die finaal en het byna-byna die reeks gewen.

"Dit was vir my ’n hoogtepunt. Ons het daarna baie ander blinde deelnemers gehad, maar die feit dat hy die eerste was, staan vir my uit."

So gepraat van uitstaan… Die gekleurde onderbaadjies.

’n Onderhoud sal nooit ’n onderhoud wees as die gewilde onderbaadjies nie genoem word nie, spot hy.

"Kom ek vertel jou ’n storie," begin hy.

Johan verduidelik in televisie bestaan alles uit die “wat” en die “hoe”. Die “wat” is dit wat jy vir die kyker gaan gee, met ander woorde waaruit die program bestaan, die inhoud. Die “hoe” is hoe jy dit gaan aanbied. Dit doen jy deur middel van die stel, beligting, kostuums ens.

"Om ’n program te kry dat hy so lank loop soos Noot vir noot, moet dinge voortdurend verander om vars te bly. Nou wat jy doen is, jy speel die wat teen die hoe af. Die oomblik dat jy sien mense raak moeg vir ’n speletjie, die wat, dan verander jy die speletjie. Sodra jy sien die stel begin eentonig raak, verander jy die stel. As jy sien die kleredrag van die aanbieder begin nou eentonig raak, dan verander jy dít.

"Toe ons begin het met Noot vir noot, het die orkes sulke grys aandpakkies gedra. Ons was die 'vier grys omies'," spot hy en lag.

"Wel, eintlik was ons toe nog nie omies nie; toe was ons nog lekker jonk!"

"Ons het later besluit om weg te beweeg van die grys aandpakkies en lekker helder hemde te dra. Dit was die era wat die ‘Madiba shirts’ so in was. Toe dié hemde uitgekuier was, het ons besluit om ’n effekleurige onderbaadjie bo-oor aan te trek. Ons het toe daarmee geloop. Toe besluit ons, kom ons draai dit nou om. Kom ons neem die hemp en maak hom effekleurig en kom ons neem die baadjie en maak dit bont, en dis waar die onderbaadjies toe begin het.

"Ek het nog gewonder waar ons bont onderbaadjies gaan kry. Ons het eendag so gesit en skielik besluit om iemand te kry om vir ons gewone onderbaadjies te maak, en dit dan te laat verf. Ons gee die baadjies toe vir ’n klomp kunstenaars, mense wat kan skilder, en ons sê 'verf daai onderbaadjies vir ons soos wat jou verbeelding vir jou vat'. Blomme, bome, mielies, net wat jy wil."

Hy vertel baie kunstenaars het nie geglo dat hy die baadjies regtig gaan dra nie.

"Hulle het in ongeloof vir my gevra: 'Is jy ernstig? Gaan jy dié goed dra?'

"Toe sê ek luister, ek belowe jou, ek gaan dit dra!"

En dis waar die baadjies begin het. En die volk het reageer.

"Daar was mense wat gegil het van plesier, en mense wat gegril het van afsku. Al wat ons egter wou hê, was reaksie. As mense by die werk kom op ’n Maandag, moet hulle praat daaroor. Hulle moet vra: 'Het jy gesien wat daai man wat daai musiekprogram aanbied aangehad het? Jy moet kyk, hy dra die simpelste onderbaadjies! En dan skakel hulle in op Noot vir noot om die onderbaadjies te sien en op die ou einde geniet hulle die program."

Natuurlik net so sinoniem met Noot vir noot soos die onderbaadjies is Johan se immer bekende sêgoed. Wyd en syd word hy voorgekeer deur mense oor dié einste sêgoed.

"‘Moenie weggaan nie, ons is nou weer terug’ was ’n beplande groet. ‘Vyftig randjies vir jou’ het natuurlik ontstaan.

"‘Kyk hoe kyk sy vir my’ is eintlik deur Casper de Vries begin. Ek het baie Noot vir noot-programme oor en oor gekyk om te sien of ek dit nie dalk gesê het nie, maar ek kon dit nie kry nie. Later het ek dit toe sommer by hom oorgeneem. Maar wie weet, dalk het ek dit tog aanvanklik gesê!"

Ná byna 29 jaar, 43 reekse en byna 700 episodes het Johan Stemmet diep spore in Suid-Afrikaners se harte getrap. Johan, sy musiekfabriek, onderbaadjies en sêgoed het volksbesit geword. Gaan Noot vir noot dieselfde sonder hom wees?

"Ek sal nooit die gewildheid van die program aan my as aanbieder koppel nie. Dit is nooit in televisie die individu nie, dit is altyd die span."

Kenmerkend van hom – sy vriendelikheid, opgeruimdheid en nederigheid.

"Ek glo die interaktiwiteit van die speletjies het ’n belangrike rol in die sukses van die program gespeel. Dit, en die program se gedurige evolusie. As jy vergelyk hoe hy nou lyk met hoe hy gelyk het aan die begin, dan sal jy skrik. Ons het egter nie verandering forseer nie; dit het maar met die tyd gekom. Ons het slegs probeer om by te bly met die veranderende tye en nie te stagneer nie.

"Ek gaan steeds aan met die vervaardiging van Noot vir noot, en al my ander projekte. Daar is 52 weke in ’n jaar en ek is besig met wat ek doen vir 52 weke van die jaar. Een van daai weke per jaar gebruik ek om Noot vir noot aan te bied, want in een week neem ons 14 programme op, ’n hele reeks. Die ander 51 weke gaan ek steeds aan met die res van my loopbaan.

"Ek gaan net so aan soos vantevore. Ek gaan steeds nuwe programme ontwikkel. Ek en Riaan Cruywagen is nou besig met ’n baie interessante projek wat ons in ’n televisieprogram wil ontwikkel. Daar sal altyd nuwe projekte wees. Op 66 – 67 oor ’n week – voel ek nog nie dat ek te oud is om te werk nie. Ek sal die dag ophou werk wanneer ek te oud voel."

Johan mag dalk uittree as aanbieder van Noot vir noot, maar van aftree is daar duidelik nog lank nie sprake nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top