
Foto: Canva
Jintoerisme
Ek try aan ways dink hoe ek nee kan sê, but Alexis se gepraat disturb my heeltyd. Sy’s dronker as Nicole, sien ek nou. Haa excitement oor’ie party maak my amper bang. Sy sê die party sal boring wies sonder my, but ek wiet nou al tien dié tyd hoe baie sy ka lieg en oordryf, net om haa sin te kry.
Ek vra hulle waa hulle soe dronk geraak ’it en Alexis sê hulle was heeldag in Fisantekraal, by een of ander steker van Nicole. Hy’t hulle gloe uitgevat. Hulle sê nie waantoe nie en ek vra oekie waantoe nie. Hulle’t gloe ná die uitgevattery somewhere onder ’n brug vi karretjie gepark en gesuip laat’ie moer draai!
Die twee se gebrag maak my naar, en ek voel nogal jealous en seergemaak dat hulle sonder my gegaan ’it. Ek gie hulle ’n groot, fake smile en skud my kop met ’n “jigge, julle’s kak erg”-reply.
Nes ek begin dink hulle’t vegiet vannie party, staan hulle op en kô spring op my, op my kooi, en ek kan sien dat hulle nie gaan opgie nie, soe ek gie maa in.
“Gie my broek aan,” direct ek vi Nicole met my linkerhand.
Sy gryp die verkeerde een en vra heel simpel en vol lag: “Dié een?”
“Mxm, los als,” blaf ek terwyl ek opstaan.
Nicole lag weer en ek gie haar ’n panga-kyk. Die panga-kyk word ’n smile wat binne sekondes ’n uitgelate lag word.
Ek trek vinnig aan en Alexis sukkel weer om haa scary excitement binne te hou. Sy help my aantrek!
“Hoeveel mense gaan daa wies?” vra ek terwyl ek my enigste kwaai tekkies (nog altyd vuil van laas maand se gedansery by oem Tom se jaart) aantrek. Die twee is ge-All Star en ge-Nike. Ek’s soema spyt ek hettie die blerrie tekkies Dinsdag gewas toe ek innie mood was nie. Die twee dink sieke ek is ’n morsige kont.
Mxm, laat hulle dink wat hulle wil dink. Ek gie nie ommie. Ek word alewig op nomme nege en neëntig laat wiet van dinge.
“Dis ek, djy, Nicole, Carter en Brandon,” breek Alexis my innerlike ranting tour.
“Nou waa’s Carter se vrou, julle wat soe by haa huis wil loep kattemaai?”
“By haa mense innie Kaap.”
“Julle’s kak erg. Julle’s kak erg, julle!”
Ek’s vol lag en admire amper die twee se bravery. Nie eens ek wat claim dat ek vi niks en niemand bang is, sou die guts het om só iets te try doen nie.
Die twee surprise my elke dag en ek begin beny hul fearlessness. Is ek besig om oud te word of wat? Ek het my touch verloor!


Kommentaar
👌 brilliant