Jeugdige ontoerekeningsvatbaarheid

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Ek het al meermale verduidelik dat iemand toerekeningsvatbaar moet wees voordat hy in 'n hof aan 'n misdryf skuldig bevind kan word. Eenvoudig gestel behels toerekeningsvatbaarheid die vermoë om tussen reg en verkeerd te kan onderskei en om ooreenkomstig daardie insig te kan handel. Een van die bekendste gevalle in ons reg waar 'n beskuldigde ontoerekeningsvatbaar was – en dus nie eens verhoor kon word nie – is Staat teen Tsafendas (Tsafendas is die man wat HF Verwoerd om die lewe gebring het). Selfs waar die slagoffer die eerste minister was, het die beginsel onverbiddelik gegeld dat 'n kranksinnige persoon nie vir sy dade aanspreeklik gehou kan word nie.1

'n Ander kategorie persone wat regtens nie vir hul dade aanspreeklik gehou word nie, is jeugdiges. 'n Kind onder die ouderdom van sewe jaar is volkome ontoerekeningsvatbaar en mag nie in 'n hof weens 'n misdryf vervolg word nie. 'n Kind tussen die ouderdom van sewe en veertien jaar word geag ontoerekeningsvatbaar te wees; met ander woorde die reg vermoed dat hy ontoerekeningsvatbaar is. Hierdie vermoede kan egter deur getuienis weerlê word.

Dit bring ons by die saak Rex teen K2 wat op 22 Mei 1956 voor die appèlhof gedien het. Die beskuldigde het op dertienjarige ouderdom sy moeder met 'n skerp voorwerp doodgesteek. Hy is van moord aangekla en skuldig bevind. Vanweë sy jeugdigheid het hy die betreklik ligte vonnis van ses houe met 'n rottang ontvang. Hy het daarna teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer.

Volgens die getuienis was die beskuldigde se ma vir nege van die arme kind se dertien lewensjare in 'n inrigting vir geestesversteurde persone. Ná haar ontslag het sy van tyd tot tyd weer onstabiel geraak en dan gewelddadig teenoor haar gesinslede opgetree.

Op die dag van die voorval het die ma haar seun skynbaar sonder rede aangeval. Daar was 'n worsteling waartydens die oorledene inmekaar gesak het met steekwonde in die nek en arm. Sy is later in die hospitaal oorlede. Niemand het gesién dat die kind sy ma met 'n skerp voorwerp steek nie en die voorwerp self is ook nooit gevind nie. Volgens getuienis het die seun egter 'n klein messie gehad waarmee hy sy potlode skerpgemaak het. Sy vader het getuig dat hy goed geweet het wat die verskil tussen reg en verkeerd is.

Die kind het self nie getuig nie, maar die verhoorhof was tevrede dat die enigste redelike afleiding wat gemaak kon word, was dat hy sy moeder met 'n mes of ander skerp voorwerp gesteek het, en dat hy geweet het – of behoort te geweet het – dat sy optrede tot haar dood kon lei.

Met hierdie uitspraak van die verhoorhof het hoofregter Centlivres ernstige probleme ondervind. Hy het beslis dat dit nie voldoende was om te bevind dat die seun geweet het wat die verskil tussen reg en verkeerd was nie. Daar moes ook bewys word dat hy ooreenkomstig daardie insig kon handel. Die toets was nie of hy die redelike en waarskynlike gevolge van sy daad móés voorsien het nie, maar of hy – as dertienjarige – dit inderdáád voorsien het. Daar was in die hoofregter se gemoed twyfel of die seun toerekeningsvatbaar was, want jy moet onthou dat waar 'n beskuldigde nog nie veertien jaar oud was toe die misdryf gepleeg is nie, die reg vermoed dat hy ontoerekeningsvatbaar was, totdat die staat die teendeel bewys. Boonop was die hof nie tevrede dat die staat bewys het dat die seun nié in selfverdediging, in noodweer, gehandel het nie. Die jongman was dus geregtig op die voordeel van die twyfel en die skuldigbevinding en vonnis is ter syde gestel.

2  1956(3) SA 353 (A). Aangesien hy ‘n minderjarige was, is dit verstaanbaar dat die beskuldigde se naam nie genoem word nie.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top